Van Dawid.
Moet jou nie ontstel
oor die kwaaddoeners nie;
moenie afgunstig wees op hulle
wat kwaadwillig optree nie,
want soos gras verdor hulle vinnig,
en soos groen plante verwelk hulle.
Vertrou op die HERE
en doen die goeie,
bewoon die land
en waak oor betroubaarheid.
Vind jou vreugde in die HERE,
dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer.
Vertrou jou lewenspad
aan die HERE toe,
vertrou op Hom, en Hy sal optree.
Hy sal jou •geregtigheid
soos die oggendlig laat verskyn
en jou reg soos die middagson.
Wees stil voor die HERE,
en krimp ineen van vrees voor Hom.
Moet jou nie ontstel oor iemand
wat sukses behaal
op sy lewenspad nie,
oor 'n mens wat komplotte smee nie.
Moenie kwaad word nie
en laat vaar die woede;
moet jou nie ontstel nie,
dit bring net kwaad.
Want kwaaddoeners
sal vernietig word,
maar wie op die HERE wag –
hulle sal die land besit.
Nog net 'n rukkie, dan sal daar
geen goddelose meer wees nie.
Jy sal sy plek dophou,
maar hy sal nie daar wees nie.
Die verdruktes sal die land besit
en hulle verlustig
in die oorvloed vrede.
'n Goddelose beplan onheil
teen die regverdige
en kners op sy tande vir hom.
My Heer lag vir hom,
want Hy sien dat sy dag kom.
Goddeloses trek die swaard
en span hulle boog
om die magtelose en behoeftige
neer te vel,
om dié wat opreg leef, af te slag.
Hulle swaard sal hulle eie hart
binnedring,
en hulle boë sal gebreek word.
Die bietjie wat 'n regverdige het,
is beter as die oorvloed
van baie goddeloses.
Want die arms van goddeloses
sal gebreek word,
maar die HERE ondersteun regverdiges.
Die HERE dra sorg
vir die lewensdae van hulle
wat onberispelik leef:
Hulle erfdeel bly vir altyd behoue.
Hulle sal nie beskaamd staan
in 'n tyd van teenspoed nie,
en in tye van hongersnood
is hulle versadig.
Maar goddeloses gaan tot niet,
die vyande van die HERE –
soos kosbare weiveld verdwyn hulle,
in 'n rookwolk verdwyn hulle.
'n Goddelose leen
en betaal nie terug nie,
maar 'n regverdige is goedhartig
en mededeelsaam.
Ja, wie deur Hom geseën is,
sal die land besit,
maar wie deur Hom vervloek is,
sal uitgeroei word.
Danksy die HERE
stap 'n jong man met ferm treë;
en die HERE is tevrede
met sy lewenspad.
As hy val, sal hy nie neerslaan nie
want die HERE hou hom aan sy hand.
Toe ek jonk was en selfs
noudat ek oud geword het,
het ek nie gesien
dat 'n regverdige versaak word,
of dat sy nageslag kos soek nie.
Hy is altyd goedhartig
en leen graag uit,
sy nageslag is 'n seën vir ander.
As jy die kwaad vermy
en die goeie doen,
sal jy vir altyd die land bewoon.
Want die HERE het •geregtigheid lief
en wie aan Hom getrou is,
verlaat Hy nie;
en hulle word vir altyd beskerm,
maar die nageslag van goddeloses
word uitgeroei.
Regverdiges sal die land besit
en vir altyd daarin woon.
Die mond van 'n regverdige
prewel wysheid
en sy tong praat wat reg is.
Die wet van sy God is in sy hart,
sy voete sal nie struikel nie.
'n Goddelose hou die regverdige dop,
en is daarop uit om hom
dood te maak.
Die HERE gee hom nie oor
in sy hand nie,
en veroordeel hom nie
wanneer hy teregstaan nie.
Wag op die HERE, en hou by sy pad,
dan sal Hy jou aansien gee
om grond te besit.
Jy sal toekyk wanneer
goddeloses uitgeroei word.
Ek het 'n goddelose gesien,
'n gewelddadige, wat gedy het
soos 'n lowerryke, inheemse boom,
maar toe iemand weer
daar verbygaan, was hy weg!
En toe ek hom soek,
was hy nêrens te vinde nie.
Let maar op 'n onbesproke mens,
kyk maar na 'n opregte,
want 'n vredeliewende mens
het 'n toekoms;
maar oortreders
word almal saam uitgedelg,
die toekoms van goddeloses
word kortgeknip.
Regverdiges se verlossing
kom van die HERE –
hulle toevlug in 'n tyd van verdrukking.
Die HERE help hulle
en bevry hulle.
Hy bevry hulle van goddeloses
en verlos hulle,
want hulle skuil by Hom.