Psalms 119:113-128

Psalms 119:113-128 AFR20

Dubbelhartige mense haat ek, maar u wet het ek lief. My skuilplek en my skild is U; op u woord vestig ek my hoop. Gaan weg van my, julle kwaaddoeners, sodat ek by die gebooie van my God kan hou. Ondersteun my, volgens u woord, sodat ek kan lewe; laat my nie beskaamd staan oor my hoop nie. Onderskraag my, sodat ek verlos kan word; ek wil voortdurend aan u voorskrifte aandag gee. U verwerp almal wat dwaal, weg van u voorskrifte af; want hulle bedrog is misleidend. Soos metaalskuim verwyder U al die goddeloses van die aarde; daarom het ek u bepalings lief. My lyf bewe omdat U vrees inboesem; ja, vir u beslissings is ek vol ontsag. Ek doen wat billik en reg is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie. Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie. My oë smag na u verlossing, na u belofte van •geregtigheid. Handel met u dienskneg volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. Ek is u dienskneg; gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken. Dit is tyd vir die HERE om op te tree – hulle maak u wet kragteloos. Daarom het ek u bevele lief, ja, meer as goud, as suiwer goud. Daarom volg ek alle opdragte oor alles; elke pad van bedrog haat ek.