PSALMS 119:113-128

PSALMS 119:113-128 NLV

Ek haat besluitelose mense, maar u gebooie het ek lief. U is my toevlug en beskermer; ek vertrou op u woord. Gaan weg van my, kwaaddoeners, want ek gehoorsaam die gebooie van my God. Hou my staande soos U beloof het sodat ek kan lewe. Laat my nie beskaam wees in my hoop nie. Ondersteun my en ek sal gered word; ek sal u voorskrifte altyd eerbiedig. U verwerp almal wat van u voorskrifte afwyk. Hulle ontrou lei tot selfbedrog. Al die bose mense van die aarde is soos skuim wat U afskep; daarom het ek u waarskuwings lief. Ek bewe van vrees vir U; ek vrees u oordeel. Moenie my oorlaat aan die genade van my vyande nie, ek het gedoen wat reg en regverdig is. Beloof tog dat dit goed sal gaan met u dienaar. Moenie dat verwaande mense my verdruk nie. Ek ooreis my oë om u redding te sien en u woord van geregtigheid. Behandel u dienaar volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. Ek is u dienaar; gee my die vermoë om te onderskei sodat ek u voorwaardes kan verstaan. Dis tyd dat U optree, HERE, want hulle het u gebooie oortree. Daarom is ek lief vir u opdragte, meer as goud, selfs die fynste goud. Omdat elkeen van u bevele reg is, haat ek elke verkeerde pad.