Spreuke 8:1-36

Spreuke 8:1-36 AFR20

Is dit nie Wysheid wat uitroep, en Verstandigheid wat haar stem laat opklink nie? Op die top van die hoogtes langs die pad, waar die hoofpaaie bymekaarkom, het sy stelling ingeneem. Langs die poorte, by die ingang na die stad, by die toegang tot die poortdeure, roep sy opgewonde uit: “Na julle, manne, roep ek; my stem is gerig tot mensekinders. Kry tog insig in vernuf, onverstandiges; onnoseles, bring die hart tot insig! Luister, want oor gepaste dinge praat ek – en oor my lippe kom wat reg is. Want die waarheid, dit verkondig my mond, en afstootlik vir my lippe is goddeloosheid. Wat reg is, kenmerk al die woorde uit my mond, niks daarin is geslepe of verdraai nie; dit is alles duidelik vir wie insig toon, en gepas vir hulle wat kennis verwerf. Aanvaar my vermaning, en nie silwer nie, aanvaar kennis eerder as goud.” Ja, Wysheid is beter as koraal, en niks wat begeerlik is, kan met haar vergelyk word nie. “ Ek, Wysheid, die kennis van goeie oordeel verkry ek. Ontsag vir die HERE is om die kwaad te haat; verwaandheid, hoogmoed, 'n verkeerde pad en 'n verdorwe mond haat ek. Ek beskik oor raad en vindingrykheid; ek, insig, beskik oor krag. Deur my regeer konings, en hooggeplaastes vaardig regverdige dekrete uit. Deur my voer •aanvoerders bevel, ook vooraanstaandes – almal wat regverdige beslissings neem. Wie my liefhet, het ek self ook lief, en wie my soek, sal my vind. Welvaart en eer is by my, bestendige rykdom en geregtigheid. My vrugte is beter as goud, as fyngoud, my opbrengs beter as uitgesoekte silwer. Op die pad van geregtigheid loop ek – presies op die paaie van regverdigheid – om hulle wat my liefhet, besittings te laat erf. Hulle voorraadkamers maak ek vol. “Die HERE, Hy het my geskep as die eerste van sy werke, voor sy dade van lank gelede. In die verre verlede is ek gevorm, aan die begin, voor die aarde. Daar was nog nie •oerwaters nie, toe is ek voortgebring; daar was nog nie fonteine ryk aan water nie. Voordat berge ingeplant is, voor heuwels daar was, is ek voortgebring, toe Hy nog nie grond en oop weivelde gemaak het nie – die eerste grondsoorte van die vasteland. Toe Hy die hemele gevestig het, was ek daar. Toe Hy die horison afgemerk het oor die oppervlak van die watermassa; toe Hy die wolkehemel daarbo gevestig, die fonteine van die oerwater sterk gemaak het; toe Hy vir die see sy grens vasgestel het, dat die water nie sy bevel sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het, was ek 'n lieflingskind aan sy sy – ek was dag ná dag sy vreugde, terwyl ek die hele tyd voor Hom speel. Terwyl ek op die bewoonbare deel van sy aarde speel, het ek vreugde gevind in die mensekinders. “ Daarom, seuns, luister na my! Gelukkig is hulle wat op my paaie bly. Luister na my vermaning en word wys; moet dit nie in die wind slaan nie. Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak, by die kosyne van my ingange wag te hou. Ja, wie my vind, het die lewe gevind; hy geniet die goedkeuring van die HERE. Maar wie my ontbeer, doen sy lewe geweld aan; almal wat my haat, het die dood lief.”