Wysheid self staan en roep.
Insig laat haar stem hoor.
Sy staan by die hoë plekke
langs die pad.
Sy staan daar
waar die paaie mekaar kruis.
Sy staan
by die ingang van die stad.
Sy roep uit by die poorte:
“Ek roep na julle almal.
Ek roep hardop na alle mense:
Julle wat nog ervaring kortkom,
moet verstandig word.
Dié wat dwaas optree,
moet insig ontwikkel.
Luister na my.
Ek het iets belangriks om te sê.
Elke woord uit my mond
is opreg.
Ek praat die volle waarheid.
Vir bedrog het ek nie tyd nie.
Alles wat ek sê, is reg.
Daar is niks daarin
wat krom of verdraai is nie.
Hulle wat insig het,
weet dat ek reguit praat.
Hulle wat na kennis soek,
weet wat ek sê, is reg.
Aanvaar eerder wat ek julle leer,
dit is meer werd as silwer.
My kennis is meer werd as goud.
Wysheid is baie meer werd
as edelstene.
Daar is niks wat jy kan begeer
wat teen wysheid
kan opweeg nie.”
“Ek, Wysheid, maak my tuis
by dié wat verstand het.
Ek weet waar om kennis
en onderskeidingsvermoë te bekom.
Hulle wat respek het
vir die HERE,
haat dit wat verkeerd is.
Daarom haat ek hoogmoed
en hovaardigheid,
’n verkeerde lewe
en slinkse woorde.
Ek besit raad en goeie oordeel.
Ek het insig en sterkte.
Konings regeer met my hulp.
Deur my maak regeerders
die regte wette.
Leiers neem deur my hulp leiding.
Deur my maak
vooraanstaande mense
die regte uitsprake.
Ek het hulle lief
wat my liefhet.
Hulle wat na my soek,
sal my kry.
Ek het rykdom en eer,
uitsonderlike skatte
en geregtigheid.
Wat ek gee,
is beter as die suiwerste goud.
My beloning is beter
as die suiwerste silwer.
Ek loop die pad
van reg en geregtigheid.
Ek maak húlle ryk
wat my liefhet.
Hulle pakkamers
maak ek propvol.”
“Die HERE
het my heel eerste gemaak.
Ek was al daar
voor Hy die res gemaak het.
Ek is voor die tyd al gevorm,
heel aan die begin,
voor die aarde daar was.
Ek is gebore
toe die diep waters
nog nie eers daar was nie,
toe die fonteine
nog nie water gegee het nie.
Ek het reeds gekom
voor die berge gevestig is
en daar heuwels was.
Ek was daar
voor die HERE die aarde
met sy vlaktes gemaak het,
voor Hy selfs die eerste grond
van die aarde gemaak het.
Ek was al daar
toe Hy die hemelkoepel
op sy plek geplaas het,
toe Hy die horison oor die see
afgemerk het.
Ek was al daar
toe Hy die wolke
daarbo gesit het
en die fonteine
onder die diep waters
laat uitborrel het.
Ek was alreeds daar
toe Hy die see se grens
bepaal het sodat dit nie
die grens kan oorsteek
wat Hy daarvoor gestel het nie.
Ek was daar
toe Hy die fondamente
van die aarde afgemerk het.
Soos ’n boumeester
was ek elke dag langs Hom.
Ek was elke dag sy vreugde.
Die hele tyd
het ek dit by Hom geniet.
Ek het my verlustig in die wêreld
wat Hy gemaak het.
Die mense wat Hy gemaak het,
het my vreugde gegee.”
“My kinders, luister na my.
Hulle wat op my pad bly,
sal geseënd wees.
Luister wat ek julle leer
sodat julle wys kan wees.
Moenie dit ignoreer nie.
Dit sal goed gaan
met elke mens
wat na my luister,
wat elke dag na my huis toe kom
en buite by my deur
vir my staan en wag.
Hy wat my kry,
kry die lewe self.
Hy geniet die guns
van die HERE.
Hy wat my nie wil vind nie,
doen skade aan homself.
Hy wat my haat,
is lief vir die dood.”