SPREUKE 8:1-36

SPREUKE 8:1-36 Bybel vir almal (ABA)

Die wysheid, die verstand, is soos 'n vrou. Sy praat hard, sodat almal haar kan hoor. Sy gaan staan op die hoë plekke langs die pad, by die plek waar die paaie bymekaarkom, en ook langs die poorte waar 'n mens ingaan in die stad. Sy staan by die deure en sy skree: “Mense, ek praat met julle. Mense, ek roep julle. Julle wat baie min weet, julle moet leer wat julle moet doen, julle wat soos dwase is, julle moet verstandig word. Julle moet luister, want ek wil belangrike dinge sê. Wanneer ek praat, dan sê ek dinge wat reg is. Ja, ek sal die waarheid praat, ek haat verkeerde dinge. Alles wat ek sê, is reg. Niks wat ek sê, is vals en verkeerd nie. Mense wat wil leer en wil verstaan, sal weet dat al my woorde eerlik en reg is. Julle moet doen wat ek vir julle sê, dit is beter as om silwer te hê. Om dinge te weet, is beter as om die beste goud te hê. Ja, wysheid is beter as koraal, wysheid is beter as enige iets wat jy graag sal wil hê. Ek is wysheid. Waar ek is, daar weet mense wat om te doen, ek weet wat mense moet leer om die regte dinge te kan doen. Mense wat nie daarvan hou om ander mense te bedrieg nie, is mense wat die Here respekteer en Hom dien. Ek haat mense wat hoogmoedig en trots is, mense wat sleg lewe en vals is wanneer hulle praat. Ek help mense om reg te besluit en om die regte wysheid te kry, ek maak mense slim en sterk. Konings gebruik my wanneer hulle regeer, leiers gebruik my wanneer hulle moet sê wat reg is. Amptenare, belangrike mense, almal wat reg moet oordeel, gebruik my. Ek is lief vir mense wat lief is vir my, mense wat my soek, kry my. Mense wat wysheid het, sal baie goed hê, en ander mense sal hulle respekteer. Hulle sal ryk wees, en dit sal goed gaan met hulle. Ek gee vir mense dinge wat beter is as goud, beter ook as goeie goud, beter as die beste silwer. Waar ek gaan, daar lewe mense reg, en daar doen hulle reg aan ander mense. Ek maak die mense ryk wat lief is vir my, ek maak hulle stoorkamers vol.” Die wysheid sê: “Die Here het my gemaak, Hy het my eerste gemaak. Ek is die eerste ding wat Hy gemaak het. Ek is lankal daar, van die begin af, voordat die aarde daar was. Ek was klaar daar toe die diep water nog nie daar was nie, toe daar nog nie fonteine vol water was nie. Ek het gekom voordat die Here die berge op hulle plekke gesit het, voordat daar heuwels was. Dit was voordat die Here die aarde en die veld gemaak het, voordat daar grond in die wêreld was. Ek was ook daar toe die Here die hemeldak gemaak het, toe Hy besluit het waar die diep water moet ophou en waar die lug moet begin, toe Hy vir die wolke daarbo 'n plek gemaak het en die sterk fonteine van die diep water oopgemaak het. Ek was daar toe Hy gesê het hoe ver die water van die see mag kom en toe Hy die fondamente van die aarde neergesit het. Ek het alles by Hom geleer wat ek weet, Hy was elke dag bly dat ek daar is, dit was vir my lekker om altyd naby Hom te wees. Ek het dit geniet tussen die mense wat op sy aarde woon, dit was vir my lekker tussen die mense. Daarom, kinders, julle moet luister na my. Dit gaan goed met mense wat lewe soos ek lewe. Julle moet luister na wat ek vir julle leer, dan sal julle wysheid kry. Julle moenie dit los nie. Dit gaan goed met mense wat luister na my, mense wat wakker bly en elke dag staan en wag by my deure, die deure waardeur julle kan inkom na my toe. Want mense wat wysheid kry, kry die lewe, en die Here hou van hulle. Maar die mense wat nie wysheid wil hê nie, is mense wat hulleself wil laat swaarkry. Almal wat nie van my hou nie, is mense wat lief is vir die dood.”

SPREUKE 8:1-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

ROEP die Wysheid nie, en verhef die Verstandigheid nie haar stem nie? Op die top van die hoogtes langs die weg, op die kruispunt van die paaie staan sy, aan die kant van die poorte by die uitgang van die stad, by die ingang van die deure roep sy hardop: Ek roep na julle, manne, en my stem is tot die mensekinders. Leer tog skranderheid verstaan, eenvoudiges, en dwase, leer verstandigheid verstaan. Hoor, want ek sal voortreflike dinge spreek, en my lippe gaan oop vir wat reg is. Want my verhemelte spreek waarheid, en goddeloosheid is vir my lippe 'n gruwel. Al die woorde van my mond is reg, daarin is niks wat slinks of vals is nie, hulle is almal duidelik vir die verstandige en reg vir die wat kennis gevind het. Neem my tug aan, en nie silwer nie, en kennis liewer as uitgesoekte goud. Want wysheid is beter as korale, en al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie. Ek, Wysheid, is vertroud met die skranderheid, en ek vind kennis van regte oorleg. Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek. Raad en beleid is myne, ek is die insig, sterkte is myne. Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is; deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde. Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind. Rykdom en eer is by my, duursame goed en geregtigheid. My vrug is beter as goud en as fyn goud, en my opbrings as uitgesoekte silwer. Ek wandel op die weg van geregtigheid, in die middel van die paaie van reg, om die wat my liefhet, 'n besitting te laat erwe, en hulle skatkamers maak ek vol. DIE HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af. Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af. Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; toe fonteine, swaar van water, nog nie daar was nie; voordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore; toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie. Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy 'n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed; toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het; toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het — toe was ek 'n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd, en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders. Luister dan nou na my, seuns; want gelukkig is hulle wat my weë bewaar. Luister na tug en word wys, en verwerp dit nie. Gelukkig is die mens wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte die wag te hou. Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry 'n welbehae van die HERE. Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.

SPREUKE 8:1-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit is Wysheid self wat roep, dit is Insig wat haar stem laat hoor. Op die hoogtes langs die pad, by die kruispaaie, gaan sy staan, langs die stadspoorte, by die ingange, skree sy dit uit: “Ek roep na julle, mense, ek roep na alle mense: Dié wat ervaring kortkom, kan verstandig word, dié wat dwaas optree, kan insig kry. Luister, want wat ek sê, is die moeite werd, elke woord van my is opreg. Ek praat net die waarheid, ek het 'n afsku van wat verkeerd is. Elke woord uit my mond kan die toets deurstaan, nie een het 'n verkeerde of vals bedoeling nie. Mense wat insig het, weet dat ek reguit praat, wie die kennis het, weet wat ek sê, is reg. Aanvaar wat ek julle leer, dit is meer werd as silwer; kennis is meer werd as die fynste goud. Ek, Wysheid, is kosbaarder as edelstene; wat jy ook al as baie werd beskou, teen my weeg dit nie op nie. “Ek, Wysheid, het die verstand, ek het die kennis en die skranderheid. Om die Here te dien, is om te haat wat verkeerd is. Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid, 'n verkeerde lewe en slinkse woorde. Wie my het, het raad en behaal sukses, ek verleen insig, ek is die een wat die mag gee. Met my hulp regeer konings goed en laat maghebbers reg geskied; met my hulp heers die mense wat mag het, die leiers, elkeen wat reg regeer. Ek het dié lief wat my liefhet; dié wat my soek, vind my. Wie my het, het rykdom en eer, het duursame en blywende besittings. Wat ek vir jou lewer, is beter as goud, selfs fyn goud; wat ek inbring, is meer werd as die suiwerste silwer. Waar ek gaan, is daar geregtigheid, my pad is dié van die reg. Ek maak dié wat my liefhet, ryk, ek maak hulle skure vol. “Die Here het my geskep, Hy het met my begin; ek is die eerste wat Hy gemaak het, lank, lank gelede. Ek is lankal daar, van die begin af, voor die aarde daar was. Ek het gekom toe die groot waters nog nie daar was nie, toe daar nog nie fonteine vol water was nie. Voor die berge hulle plek gekry het, voor die rante het ek al gekom, voor die Here die aarde met sy vlaktes gemaak het, voor Hy selfs die eerste grond gemaak het. Ek was daar toe Hy die hemelgewelf opgerig het, toe Hy die horison oor die see afgemerk het, toe Hy die wolke daarbo gesit het, die fonteine onder die diep water laat uitborrel het. Ek was daar toe Hy vir die see sy grens vasgestel het, die waters aan sy wil onderwerp het, toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het. Ek het my kennis by Hom gekry, ek was elke dag sy vreugde; die hele tyd het ek dit by Hom geniet. Ek het my verlustig in die wêreld wat Hy gemaak het, die mense was vir my 'n vreugde. “Daarom, kinders, luister na my, dit sal goed gaan met dié wat op my pad bly. Luister na wat ek julle leer, moet dit nie verontagsaam nie, dan sal julle ook wysheid hê. Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag. Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here. Maar wie my nie wil vind nie, doen homself skade aan; wie my haat, hou van die dood.”

SPREUKE 8:1-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Is dit nie Wysheid wat uitroep, en Verstandigheid wat haar stem laat opklink nie? Op die top van die hoogtes langs die pad, waar die hoofpaaie bymekaarkom, het sy stelling ingeneem. Langs die poorte, by die ingang na die stad, by die toegang tot die poortdeure, roep sy opgewonde uit: “Na julle, manne, roep ek; my stem is gerig tot mensekinders. Kry tog insig in vernuf, onverstandiges; onnoseles, bring die hart tot insig! Luister, want oor gepaste dinge praat ek – en oor my lippe kom wat reg is. Want die waarheid, dit verkondig my mond, en afstootlik vir my lippe is goddeloosheid. Wat reg is, kenmerk al die woorde uit my mond, niks daarin is geslepe of verdraai nie; dit is alles duidelik vir wie insig toon, en gepas vir hulle wat kennis verwerf. Aanvaar my vermaning, en nie silwer nie, aanvaar kennis eerder as goud.” Ja, Wysheid is beter as koraal, en niks wat begeerlik is, kan met haar vergelyk word nie. “ Ek, Wysheid, die kennis van goeie oordeel verkry ek. Ontsag vir die HERE is om die kwaad te haat; verwaandheid, hoogmoed, 'n verkeerde pad en 'n verdorwe mond haat ek. Ek beskik oor raad en vindingrykheid; ek, insig, beskik oor krag. Deur my regeer konings, en hooggeplaastes vaardig regverdige dekrete uit. Deur my voer •aanvoerders bevel, ook vooraanstaandes – almal wat regverdige beslissings neem. Wie my liefhet, het ek self ook lief, en wie my soek, sal my vind. Welvaart en eer is by my, bestendige rykdom en geregtigheid. My vrugte is beter as goud, as fyngoud, my opbrengs beter as uitgesoekte silwer. Op die pad van geregtigheid loop ek – presies op die paaie van regverdigheid – om hulle wat my liefhet, besittings te laat erf. Hulle voorraadkamers maak ek vol. “Die HERE, Hy het my geskep as die eerste van sy werke, voor sy dade van lank gelede. In die verre verlede is ek gevorm, aan die begin, voor die aarde. Daar was nog nie •oerwaters nie, toe is ek voortgebring; daar was nog nie fonteine ryk aan water nie. Voordat berge ingeplant is, voor heuwels daar was, is ek voortgebring, toe Hy nog nie grond en oop weivelde gemaak het nie – die eerste grondsoorte van die vasteland. Toe Hy die hemele gevestig het, was ek daar. Toe Hy die horison afgemerk het oor die oppervlak van die watermassa; toe Hy die wolkehemel daarbo gevestig, die fonteine van die oerwater sterk gemaak het; toe Hy vir die see sy grens vasgestel het, dat die water nie sy bevel sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het, was ek 'n lieflingskind aan sy sy – ek was dag ná dag sy vreugde, terwyl ek die hele tyd voor Hom speel. Terwyl ek op die bewoonbare deel van sy aarde speel, het ek vreugde gevind in die mensekinders. “ Daarom, seuns, luister na my! Gelukkig is hulle wat op my paaie bly. Luister na my vermaning en word wys; moet dit nie in die wind slaan nie. Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak, by die kosyne van my ingange wag te hou. Ja, wie my vind, het die lewe gevind; hy geniet die goedkeuring van die HERE. Maar wie my ontbeer, doen sy lewe geweld aan; almal wat my haat, het die dood lief.”

SPREUKE 8:1-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Huil die wysheid nie? en verstand het haar stem laat hoor? Sy staan op die top van hoogtes, langs die pad op die plekke van die paaie. Sy roep by die poorte, by die ingang van die stad, by die ingang by die deure. Ek roep tot julle, o manne; en my stem is tot die mensekinders. O julle eenvoudiges, verstaan wysheid, en julle dwase, wees julle verstandig van hart. Hoor; want ek sal van voortreflike dinge spreek; en die opening van my lippe sal regte dinge wees. Want my mond sal waarheid spreek; en goddeloosheid is 'n gruwel vir my lippe. Al die woorde van my mond is in geregtigheid; daar is niks verkeerd of pervers in hulle nie. Hulle is almal duidelik vir die verstandige, en reg vir die wat kennis vind. Ontvang my tug en nie silwer nie; en kennis eerder as uitgesoekte goud. Want wysheid is beter as robyne; en al die dinge wat begeer kan word, is nie daarmee te vergelyk nie. Ek wysheid woon in verstandigheid, en ek vind kennis van geestige versinsels. Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; trotsheid en hoogmoed en die verkeerde weg en die verkeerde mond haat ek. Die raad is myne en die gesonde wysheid; ek is verstand; Ek het krag. Deur my heers konings, en vorste bepaal geregtigheid. Deur my heers vorste en edeles, al die regters van die aarde. Ek het die wat My liefhet, lief; en die wat My vroeg soek, sal My vind. Rykdom en eer is by my; ja, duursame rykdom en geregtigheid. My vrugte is beter as goud, ja, as fyn goud; en my inkomste as uitsoeksilwer. Ek lei op die weg van geregtigheid, in die middel van die paaie van reg. Sodat ek die wat My liefhet, goed kan laat beërwe; en Ek sal hulle skatte vul. Die HERE het my in besit geneem in die begin van sy weg, voor sy werke van ouds af. Ek is opgerig van ewigheid af, van die begin af, of altyd die aarde was. Toe daar geen dieptes was nie, is ek gebore; toe daar geen fonteine was wat oorvloedig was van water nie. Voordat die berge gevestig was, voor die heuwels is Ek voortgebring; Terwyl Hy nog nie die aarde of die velde of die hoogste deel van die stof van die wêreld gemaak het nie. Toe Hy die hemel gereedgemaak het, was ek daar; Toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe Hy die fonteine van die wêreldvloed versterk het. Toe Hy sy bevel aan die see gegee het, dat die waters sy gebod nie sou oortree nie, toe Hy die fondamente van die aarde bepaal het. Toe was ek by hom, soos 'n mens by hom grootgemaak het; Jubel oor die bewoonbare deel van sy aarde; en my behae was in die mensekinders. Luister dan nou na my, o kinders, want geseënd is hulle wat my weë bewaar. Hoor tug en wees wys en verwerp dit nie. Geseënd is die man wat na my luister, elke dag waak by my poorte, en wag by die poste van my deure. Want wie My vind, kry die lewe en sal guns van die HERE verkry. Maar hy wat teen My sondig, doen sy eie siel onreg; almal wat My haat, het die dood lief.

SPREUKE 8:1-36 Die Boodskap (DB)

Iemand wat reg leef, is ’n getuienis. Om reg te leef is soos ’n goeie vrou. Waar sy gaan, sien mense hoe goed en mooi sy is. Oral vertel sy hoe die wysheid jou kan help. Jy sien haar by opdraandes staan. By stopstrate waar die verkeer stadig vloei. By die ingange van stede waar hordes mense verbygaan. By die deure van huise en woonstelle. Oral sê sy dieselfde dinge: “Mense, hoekom leef julle so dom? Word slim. Kry insig in die lewe. Lewe gelukkig. Luister na die goeie dinge wat ek vir julle wil sê. Dit is woorde wat werklik iets aan jou lewe kan doen. Elke woord is die waarheid, want ek haat leuens. My woorde gee jou ’n goeie kennis van die lewe. Daar is werklik niks kroms of skeefs daaraan nie. Geen geheime agendas, magspeletjies of wat ook al nie. Net egte lewenswaarhede. Gaan vra maar vir hulle wat reeds wys leef en gelukkig is. Hulle sal weet my woorde is waar. “My lewensreëls is baie meer werd as geld. Dit wat ek jou van die lewe wil leer, is baie kosbaarder as aardse skatte. My goeie raad vir ’n gelukkige lewe is baie meer werd as jou peperduur juwele. Dis kosbaarder as enigiets wat jy ooit kan begeer. “Wysheid moet gesien kan word daar waar mense moeilike situasies reg hanteer, daar waar die regte woorde op die regte oomblik gesê word. “Onthou, wysheid begin by liefde vir die Here. Wie Hom liefhet, haat dinge soos om te veel van jouself te dink. Wysheid verag ’n verkeerde manier van leef en praat. “Die wysheid verskaf die regte raad, kennis en insig vir ’n gelukkige lewe. Niemand kan sonder wysheid klaarkom nie. Konings gebruik dit om te regeer, staatspresidente maak goeie wette daarmee en regters sorg dat die regte besluite geneem word. “Wie wysheid liefhet, is gelukkig. Wie daarna smag om reg te leef, sal dit regkry. Wie wys leef, kry rykdom en eer, voorspoed en sukses. Die voordele van die regte manier van leef is onpeilbaar groot. Selfs die suiwerste goud en die duurste silwer kan dit nie koop nie. “Wysheid moet oral in mense te sien wees. Tree daarom in elke lewensituasie reg op. Behandel alle mense billik en reg. Dan sal dit met jou baie goed gaan. Jy sal ’n ryk mens wees.” Wysheid is baie oud. Neem dit dus ernstig op. Voorskrifte vir die regte manier van lewe is baie oud. Dit kom uit die gryse verlede. Riglyne om reg te leef, die regte dinge op die regte tyd te sê, kom al van die skepping af. God het die wysheid heel aan die begin van die tyd gemaak, voordat Hy nog enigiets anders gemaak het: in die begin, nog voordat die aarde daar was, is die wysheid al netjies aanmekaargesit toe daar nog geen oseane was nie, toe daar nog geen fonteine was nie, was die wysheid al daar voordat die berge gemaak is, voordat die heuwels daar was, voordat Hy die aarde en die velde gemaak het, voordat die eerste stoffies van die aarde daar was, het die wysheid al bestaan. Toe Hy die hemelruim gevorm het, toe Hy die waters se grense bepaal het, toe Hy die wolke hulle vaste plek gegee het, toe Hy die fonteine onder die aarde geskep het, toe Hy vir die see grense gestel het (sodat die waters hulle plek sou ken), toe Hy die fondamente van die aarde bepaal het, was die wysheid al lankal daar. Wysheid was vir God soos ’n lieflingskind. Dag vir dag het Hy haar geniet. Soos ’n vrolike, huppelende kind het die wysheid die hele aarde vol gespeel. Op ’n dag het die wysheid met Adam se kinders kennis gemaak. Tot vandag toe geniet sy hierdie vrolike verhouding met sy nageslag. Wysheid is oud en baie belangrik. Luister daarom na al haar voorskrifte. Maak dit alles jou eie. Dit is die moeite werd. Neem elke stukkie wysheid ernstig op. Wie elke dag reg wil leef, is baie gelukkig. Wie elke dag probeer om die regte dinge te doen en te sê se vreugde ken geen perke nie. Wie die wysheid sy eie maak, het die lewe gevind. Die Here is lief vir hom. Wie die rug vir die wysheid draai, vernietig homself. Wie dit haat, is al klaar dood.

SPREUKE 8:1-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Wysheid self staan en roep. Insig laat haar stem hoor. Sy staan by die hoë plekke langs die pad. Sy staan daar waar die paaie mekaar kruis. Sy staan by die ingang van die stad. Sy roep uit by die poorte: “Ek roep na julle almal. Ek roep hardop na alle mense: Julle wat nog ervaring kortkom, moet verstandig word. Dié wat dwaas optree, moet insig ontwikkel. Luister na my. Ek het iets belangriks om te sê. Elke woord uit my mond is opreg. Ek praat die volle waarheid. Vir bedrog het ek nie tyd nie. Alles wat ek sê, is reg. Daar is niks daarin wat krom of verdraai is nie. Hulle wat insig het, weet dat ek reguit praat. Hulle wat na kennis soek, weet wat ek sê, is reg. Aanvaar eerder wat ek julle leer, dit is meer werd as silwer. My kennis is meer werd as goud. Wysheid is baie meer werd as edelstene. Daar is niks wat jy kan begeer wat teen wysheid kan opweeg nie.” “Ek, Wysheid, maak my tuis by dié wat verstand het. Ek weet waar om kennis en onderskeidingsvermoë te bekom. Hulle wat respek het vir die HERE, haat dit wat verkeerd is. Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid, ’n verkeerde lewe en slinkse woorde. Ek besit raad en goeie oordeel. Ek het insig en sterkte. Konings regeer met my hulp. Deur my maak regeerders die regte wette. Leiers neem deur my hulp leiding. Deur my maak vooraanstaande mense die regte uitsprake. Ek het hulle lief wat my liefhet. Hulle wat na my soek, sal my kry. Ek het rykdom en eer, uitsonderlike skatte en geregtigheid. Wat ek gee, is beter as die suiwerste goud. My beloning is beter as die suiwerste silwer. Ek loop die pad van reg en geregtigheid. Ek maak húlle ryk wat my liefhet. Hulle pakkamers maak ek propvol.” “Die HERE het my heel eerste gemaak. Ek was al daar voor Hy die res gemaak het. Ek is voor die tyd al gevorm, heel aan die begin, voor die aarde daar was. Ek is gebore toe die diep waters nog nie eers daar was nie, toe die fonteine nog nie water gegee het nie. Ek het reeds gekom voor die berge gevestig is en daar heuwels was. Ek was daar voor die HERE die aarde met sy vlaktes gemaak het, voor Hy selfs die eerste grond van die aarde gemaak het. Ek was al daar toe Hy die hemelkoepel op sy plek geplaas het, toe Hy die horison oor die see afgemerk het. Ek was al daar toe Hy die wolke daarbo gesit het en die fonteine onder die diep waters laat uitborrel het. Ek was alreeds daar toe Hy die see se grens bepaal het sodat dit nie die grens kan oorsteek wat Hy daarvoor gestel het nie. Ek was daar toe Hy die fondamente van die aarde afgemerk het. Soos ’n boumeester was ek elke dag langs Hom. Ek was elke dag sy vreugde. Die hele tyd het ek dit by Hom geniet. Ek het my verlustig in die wêreld wat Hy gemaak het. Die mense wat Hy gemaak het, het my vreugde gegee.” “My kinders, luister na my. Hulle wat op my pad bly, sal geseënd wees. Luister wat ek julle leer sodat julle wys kan wees. Moenie dit ignoreer nie. Dit sal goed gaan met elke mens wat na my luister, wat elke dag na my huis toe kom en buite by my deur vir my staan en wag. Hy wat my kry, kry die lewe self. Hy geniet die guns van die HERE. Hy wat my nie wil vind nie, doen skade aan homself. Hy wat my haat, is lief vir die dood.”