Numeri 9:15-23

Numeri 9:15-23 AFR20

Die dag toe die •tabernakel opgerig is, het 'n wolk die tabernakel, die tent met die Getuienis, oordek. In die aand was dit bo die tabernakel asof met die glans van vuur, tot die volgende oggend. So was dit deurentyd: Die wolk bedek dit, en snags is daar die glans van vuur, maar sodra die wolk bo die tent opgaan, breek die Israeliete dadelik kamp op. En op die plek waar die wolk vertoef, daar slaan die Israeliete kamp op. Op bevel van die HERE het die Israeliete telkens kamp opgebreek, en op bevel van die HERE het hulle kamp opgeslaan. Solank as wat die wolk bo die tabernakel vertoef het, het hulle gekamp. Wanneer die wolk 'n lang tyd bo die tabernakel was, het die Israeliete die verpligtinge teenoor die HERE nagekom en nie kamp opgebreek nie. Soms was die wolk maar net 'n paar dae bo die tabernakel. Op bevel van die HERE het hulle kamp opgeslaan, en op bevel van die HERE het hulle kamp opgebreek. Soms was die wolk net van die aand tot die volgende oggend daar, en wanneer die wolk dan in die oggend opgaan, het hulle verder getrek. Of dit bedags was of snags, wanneer die wolk opgaan, het hulle verder getrek. Of dit nou twee dae, 'n maand, of langer was, terwyl die wolk lank bo die tabernakel vertoef het, het die Israeliete gekamp en nie verder getrek nie. Maar wanneer die wolk opgaan, het hulle verder getrek. Op bevel van die HERE het hulle kamp opgeslaan en op bevel van die HERE het hulle kamp opgebreek. Die verpligtinge teenoor die HERE het hulle nagekom op bevel van die HERE by monde van Moses.

Video for Numeri 9:15-23