NUMERI 9:15-23

NUMERI 9:15-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN op die dag toe hulle die tabernakel opgerig het, het die wolk die tabernakel van die tent van die Getuienis oordek, en in die aand was dit oor die tabernakel soos 'n gedaante van vuur, tot die môre toe. So was dit altyddeur: die wolk het dit oordek, en snags 'n gedaante van vuur. En so dikwels as die wolk van die tent af optrek, het die kinders van Israel daarna weggetrek; en op die plek waar die wolk rus, daar het die kinders van Israel laer opgeslaan — volgens die bevel van die HERE het die kinders van Israel weggetrek en volgens die bevel van die HERE laer opgeslaan; al die dae wat die wolk oor die tabernakel gerus het, het hulle in die laer gestaan. En as die wolk baie dae oor die tabernakel bly, het die kinders van Israel die diens van die HERE waargeneem en nie weggetrek nie. Maar somtyds was die wolk net 'n paar dae oor die tabernakel — volgens die bevel van die HERE het hulle laer opgeslaan, en volgens die bevel van die HERE het hulle weggetrek. En somtyds was die wolk daar van die aand tot die môre — as die wolk in die môre optrek, het hulle weggetrek; of by dag of by nag — as die wolk optrek, het hulle weggetrek; of ná twee dae of 'n maand of langer — as die wolk lank oor die tabernakel bly, het die kinders van Israel in die laer gestaan en nie weggetrek nie; en as dit optrek, het hulle weggetrek. Volgens die bevel van die HERE het hulle laer opgeslaan, en volgens die bevel van die HERE het hulle weggetrek. Hulle het die voorskrif van die HERE in ag geneem volgens die bevel van die HERE deur die diens van Moses.

NUMERI 9:15-23 Bybel vir almal (ABA)

Toe Moses die tempel-tent opgeslaan het, het 'n wolk die tempel-tent toegemaak, die tent waarin die tien gebooie was. Die wolk was van die aand tot die oggend oor die tempel-tent, dit het gelyk soos vuur. Dit was altyd so, die wolk het die tempel-tent toegemaak en in die nag het dit gelyk soos vuur. Elke maal wanneer die wolk opgegaan het van die tent, dan het die Israeliete verder gegaan. En wanneer die wolk op een plek gaan staan het, dan het die Israeliete hulle tente daar opgeslaan. Die Here het gesê wanneer die Israeliete verder moet gaan en die Here het gesê wanneer hulle die tente moet opslaan. Hulle het in die kamp gebly terwyl die wolk oor die tempel-tent gebly het. Wanneer die wolk 'n lang tyd oor die tempel-tent gebly het, dan het die Israeliete die Here daar gedien en hulle het nie verder gegaan nie. Wanneer die wolk net 'n paar dae oor die tempel-tent gebly het, dan het die Israeliete in die kamp gebly. Hulle het in die kamp gebly wanneer die Here sê hulle moet bly, en hulle het verder gegaan wanneer die Here sê hulle moet gaan. Wanneer die wolk van die aand tot die oggend daar gebly het en dan in die oggend opgegaan het, dan het die Israeliete verder gegaan, dit maak nie saak of dit in die dag of in die nag was nie. Wanneer die wolk opgaan, dan het hulle verder gegaan. Wanneer die wolk twee dae lank of 'n maand lank of baie lank oor die tempel-tent gebly het, dan het hulle daar gebly, en wanneer die wolk opgaan, dan het hulle verder gegaan. Hulle het in die kamp gebly wanneer die Here sê hulle moet, en hulle het verder gegaan wanneer die Here sê hulle moet gaan. Hulle het die Here gedien soos die Here vir Moses gesê het.

NUMERI 9:15-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die dag toe die tabernakel, die tent met die getuienis, opgerig is, het 'n wolk dit oordek. In die aand het die wolk oor die tabernakel soos vuur geword en dit het so gebly tot die môre toe. So was dit deurentyd. Die wolk het die tabernakel oordek en snags was dit soos vuur. Elke keer nadat die wolk van die tent af opgetrek het, het die Israeliete weggetrek, en op die plek waar die wolk afkom, daar het die Israeliete kamp opgeslaan. Op bevel van die Here het die Israeliete weggetrek, en op sy bevel het hulle kamp opgeslaan; gedurende die hele tyd dat die wolk op die tabernakel gerus het, het hulle in die kamp gebly. Wanneer die wolk 'n geruime tyd op die tabernakel gerus het, het die Israeliete die diens van die Here waargeneem en nie weggetrek nie. Soms het die wolk net 'n paar dae op die tabernakel gerus. Wat die geval ook al was, op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op sý bevel het hulle weggetrek. Soms was die wolk net van die aand af tot die volgende môre toe daar, en as dit dan in die môre optrek, het die volk weggetrek. Of dit bedags of snags was, as die wolk optrek, het hulle weggetrek. As die wolk 'n paar dae of 'n maand of 'n jaar of langer op die tabernakel rus, het die Israeliete in die kamp gebly en nie weggetrek nie, maar sodra dit optrek, het hulle weggetrek. Op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op sy bevel het hulle weggetrek. Hulle het die diens van die Here onderhou soos die Here deur middel van Moses beveel het.

NUMERI 9:15-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die dag toe die •tabernakel opgerig is, het 'n wolk die tabernakel, die tent met die Getuienis, oordek. In die aand was dit bo die tabernakel asof met die glans van vuur, tot die volgende oggend. So was dit deurentyd: Die wolk bedek dit, en snags is daar die glans van vuur, maar sodra die wolk bo die tent opgaan, breek die Israeliete dadelik kamp op. En op die plek waar die wolk vertoef, daar slaan die Israeliete kamp op. Op bevel van die HERE het die Israeliete telkens kamp opgebreek, en op bevel van die HERE het hulle kamp opgeslaan. Solank as wat die wolk bo die tabernakel vertoef het, het hulle gekamp. Wanneer die wolk 'n lang tyd bo die tabernakel was, het die Israeliete die verpligtinge teenoor die HERE nagekom en nie kamp opgebreek nie. Soms was die wolk maar net 'n paar dae bo die tabernakel. Op bevel van die HERE het hulle kamp opgeslaan, en op bevel van die HERE het hulle kamp opgebreek. Soms was die wolk net van die aand tot die volgende oggend daar, en wanneer die wolk dan in die oggend opgaan, het hulle verder getrek. Of dit bedags was of snags, wanneer die wolk opgaan, het hulle verder getrek. Of dit nou twee dae, 'n maand, of langer was, terwyl die wolk lank bo die tabernakel vertoef het, het die Israeliete gekamp en nie verder getrek nie. Maar wanneer die wolk opgaan, het hulle verder getrek. Op bevel van die HERE het hulle kamp opgeslaan en op bevel van die HERE het hulle kamp opgebreek. Die verpligtinge teenoor die HERE het hulle nagekom op bevel van die HERE by monde van Moses.

NUMERI 9:15-23 Die Boodskap (DB)

Die dag toe die tabernakel, die tent waar die Here aanbid word, vir die eerste keer opgeslaan is, het daar ’n wolk gekom wat die hele tent soos ’n seil toegemaak het. Die wolk het elke dag en elke nag daar bly hang. Die enigste verskil was net dat die wolk in die aand soos ’n vuur gelyk het. Bedags was daar ’n wolk oor die tent en saans ’n vuurwolk. Elke keer as die wolk van die tent af opgelig het, het die Israeliete kamp opgeslaan en agter die wolk aangetrek tot waar dit gaan staan het. Dan het hulle daar kamp opgeslaan. Dit was die Here se manier om hulle op ’n plek te laat bly of hulle te laat trek. Hulle het op ’n plek gebly totdat die wolk van die tent af opgelig het. Vir so lank as wat die wolk oor die tabernakel gebly het, het die volk daar bly kamp, al was dit ook hoe lank, want hulle het geweet dit is wat die Here wou hê. Soms het dit gebeur dat die wolk net vir ’n paar dae op die tabernakel gebly het. Dan het hulle net vir dié rukkie daar gebly. Maar wat ook al die geval was, hulle het altyd op die Here se bevel getrek of gebly. Ander kere weer het die wolk net een nag op ’n plek gebly en dan het hulle die volgende môre weer verder getrek. Dit het nie saak gemaak of dit net een dag was nie; as die wolk opgelig het, het hulle getrek. Of dit nou twee dae, ’n maand of ’n jaar was wat die wolk bokant die tabernakel gebly het, het nie saak gemaak nie. Solank die wolk daar gebly het, het die Israeliete op die plek bly kamp. Maar die oomblik dat dit opgelig het, het hulle dadelik kamp opgeslaan en agterna getrek. Hulle het net op die Here se bevel getrek en elke opdrag uitgevoer wat die Here vir Moses gegee het.