NUMERI 9:15-23

NUMERI 9:15-23 NLV

Die dag toe die tabernakel opgerig is, het ’n wolk daaroor kom hang. Gedurende die nag het dit gelyk soos ’n bondel vuur. So het dit altyd gebly: ’n wolk in die dag en iets wat soos vuur lyk in die nag. Wanneer die wolk van die tent af opgelig het, het die Israeliete kamp opgebreek en dit gevolg. Waar die wolk gaan staan het, daar het die Israeliete kamp opgeslaan. Op bevel van die HERE het die Israeliete getrek en op sy bevel weer kamp opgeslaan. So lank as wat die wolk oor die tabernakel bly hang het, het hulle daar bly kamp. As die wolk vir ’n lang tyd oor die tabernakel bly hang het, het die Israeliete net daar gebly en nie verskuif nie. Dit het soms gebeur dat die wolk net vir ’n paar dae oor die tabernakel stilgestaan het. So het hulle op die HERE se bevel stilgestaan en weer verder getrek as Hy so beveel het. Soms het dit gebeur dat die wolk net oornag op een plek bly staan het en die volgende oggend weer begin beweeg het. Of dit egter dag of nag was, hulle het begin trek as die wolk begin beweeg. Die Israeliete het op ’n plek gebly waar die wolk oor die tabernakel gehang het, of dit nou vir twee dae, of ’n maand, of selfs langer was. Hulle het nie van daar af weggegaan nie. Sodra die wolk egter van die tabernakel af oplig, het hulle agterna getrek. So het hulle volgens die HERE se besluit gekamp of getrek. Hulle het volgens die bevele opgetree wat die HERE deur Moses vir hulle gegee het.

Video for NUMERI 9:15-23