Numeri 31

31
Oorwinning oor die Midianiete
1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2 “Vergeld die onreg wat die Israeliete aangedoen is deur die Midianiete. Daarna sal jy met jou mense verenig word.” 3 Moses het toe met die volk gepraat en gesê: “Van die manne onder julle moet hulleself bewapen vir die stryd, sodat hulle teen Midian kan optrek om die vergelding van die Here oor Midian te voltrek. 4'n Duisend man uit elkeen van die stamme van Israel moet julle stuur vir die stryd.”
5Uit die leërafdelings van Israel is 'n duisend man per stam gekies – twaalfduisend wat gewapen was vir oorlog. 6 Moses het hulle, die duisend uit elke stam, gestuur op die veldtog, hulle en Pinehas, seun van die priester Eleasar. Vir die veldtog het Pinehas die heilige voorwerpe en die trompette vir die waarskuwingsein by hom gehad.
7 Hulle het teen Midian gaan veg, soos die Here Moses beveel het, en al die manlike persone doodgemaak. 8 Hulle het selfs die konings van Midian doodgemaak. Onder die gesneuweldes was Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba, die vyf konings van Midian. Ook Bileam, seun van Beor, het hulle met die swaard doodgemaak. 9 Maar die Israeliete het die vroue van Midian en hulle kinders gevange geneem. Al hulle diere, al hulle lewende hawe en al hulle besittings het hulle buitgemaak. 10Al hulle dorpe waarin hulle gewoon het en al hulle kampe het die Israeliete verbrand, 11maar alles wat gestroop is en al die oorlogsbuit, mense en diere, het hulle saamgevat. 12 Hulle het die gevangenes, die oorlogsbuit en alles wat gestroop is, na Moses, die priester Eleasar en die volksvergadering van die Israeliete gebring in die kamp, in die vlaktes van Moab by die Jordaan, teenoor Jerigo.
13Moses, die priester Eleasar en al die leiers van die volksvergadering het uitgegaan om hulle buite die kamp te ontmoet. 14Moses het hom bloedig vererg vir die bevelvoerders van die leër, die aanvoerders van duisend en die aanvoerders van honderd, wat van die militêre veldtog teruggekeer het. 15Moses het vir hulle gesê: “Het julle die vroue almal laat lewe? 16 Kyk, dit is juis hulle wat, op advies van Bileam, met die gebeure by Peor, vir die Israeliete die rede geword het om ontrou te bedryf teenoor die Here, sodat daar 'n plaag in die volksvergadering van die Here uitgebreek het. 17 Maak dan nou elke manlike kind dood. Maak ook elke vrou dood wat met 'n man gemeenskap gehad het, 18maar spaar vir julleself al die meisies wat nog nie met 'n man gemeenskap gehad het nie. 19 Almal van julle wat iemand doodgemaak het, en almal wat aan 'n gesneuwelde geraak het, moet sewe dae lank buite die kamp tent opslaan. Op die derde en op die sewende dag moet julle julleself reinig – julle en julle gevangenes. 20Elke kledingstuk, elke artikel van leer, alles wat van bokhaar gemaak is en elke artikel van hout moet julle reinig.”
21Die priester Eleasar het vir die krygsmanne wat oorlog toe gegaan het, gesê: “Die volgende is 'n vaste wetlike voorskrif wat die Here Moses gegee het, 22‘Net die goud en silwer, die brons, yster, tin en lood 23– elke voorwerp wat teen vuur bestand is – moet julle deur die vuur laat gaan; dan sal dit rein wees. Maar dit moet ook met reinigingswater gereinig word. Ook alles wat nie vuurbestand is nie, moet julle deur die water laat gaan. 24Julle moet julle klere op die sewende dag was, dan sal julle rein wees. Daarna kan julle in die kamp inkom.’ ”
25Die Here het vir Moses gesê: 26“Stel 'n lys saam van die oorlogsbuit – van die mense en diere wat gevange geneem is – jy en die priester Eleasar, asook die familiehoofde van die volksvergadering. 27 Verdeel dan die oorlogsbuit in die helfte tussen dié wat in die geveg betrokke was, wat uitgetrek het vir die stryd, en die hele volksvergadering. 28 Vorder vir die Here 'n bydrae in van die krygsmanne wat uitgetrek het vir die stryd: een uit elke vyfhonderd van die mense, van die beeste, van die donkies en van die kleinvee. 29Uit húlle helfte moet julle dit neem en dit vir die priester Eleasar gee, as 'n •wydingsgeskenk vir die Here. 30Uit die helfte-aandeel van die Israeliete, moet jy een uit vyftig neem van die mense, die beeste, die donkies, die kleinvee, van al die diere. Jy moet dit vir die Leviete gee wat hulle verpligtinge by die •tabernakel van die Here nakom.” 31 Moses en die priester Eleasar het toe gedoen wat die Here Moses beveel het.
32Die oorlogsbuit wat nog oor was van die goedere wat die manskappe geroof het, was:
675 000 stuks kleinvee,
3372 000 beeste,
3461 000 donkies.
35En wat die mense betref: Van die vroue wat nog nie met 'n man gemeenskap gehad het nie, was daar 32 000.
36 Die helfte, die deel van dié wat aan die stryd deelgeneem het, se getalle was:
kleinvee – 337 500,
37en die bydrae vir die Here
uit die kleinvee was 675;
38beeste – 36 000,
en die bydrae vir die Here was 72;
39donkies – 30 500,
en die bydrae vir die Here was 61;
40mense – 16 000,
en die bydrae vir die Here
was 32 persone.
41 Moses het die bydrae, die wydingsgeskenk aan die Here, vir die priester Eleasar gegee, soos die Here Moses beveel het.
42Wat betref die helfte-aandeel van die Israeliete, dit wat Moses van die manne wat gaan veg het, eenkant gehou het:
43Die helfte-aandeel van die volksvergadering was:
337 500 stuks kleinvee,
4436 000 beeste,
4530 500 donkies
46en 16 000 mense.
47 Moses het uit die helfte-aandeel van die Israeliete, dit wat teruggehou is, een uit vyftig van die mense en van die diere geneem en hulle vir die Leviete gegee wat verpligtinge nagekom het by die tabernakel van die Here, soos wat die Here Moses beveel het.
48Die bevelvoerders wat oor die leërafdelings was, die aanvoerders van duisend en die aanvoerders van honderd, het Moses genader 49en vir hom gesê: “U dienaars het 'n hoofdelike telling gehou van die krygsmanne wat onder ons bevel staan, en nie een van hulle word vermis nie. 50 Daarom bied elkeen van ons wat goue voorwerpe gevind het, 'n offergawe vir die Here aan – armkettinkies, armbande, ringe, oorringe en halskettings – om voor die Here vir ons lewens versoening te doen. ” 51Moses en die priester Eleasar het die goud van hulle geneem, al die smeewerk. 52Al die goud van die wydingsgeskenk wat hulle aan die Here afgestaan het, was 16 750 sikkel. Dit was afkomstig van die aanvoerders van duisend en die aanvoerders van honderd. 53 Die krygsmanne het elkeen vir homself ook buit geneem. 54 Moses en die priester Eleasar het die goud in ontvangs geneem van die aanvoerders van duisend en van honderd. Hulle het dit in die Tent van Ontmoeting ingeneem om voor die Here te dien as 'n herinnering aan die Israeliete.

Tans Gekies:

Numeri 31: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan