Numeri 32

32
Verdeling van die land oos van die Jordaan
1 Die nageslag van Ruben en Gad het baie vee gehad, besonder baie. Toe hulle die landstreek Jaser en die landstreek Gilead sien – en kyk, die gebied was 'n plek vir vee – 2het die nageslag van Gad en die nageslag van Ruben gekom en vir Moses, die priester Eleasar en die leiers van die volksvergadering gesê: 3“Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sibma, Nebo en Beon, 4die gebied wat die Here voor die oë van die volksvergadering van Israel vernietig het, dit is 'n land vir vee, en u dienaars het vee.” 5Hulle het ook gesê: “As ons guns vind in u oë, gee dan hierdie gebied vir u dienaars as erfgrond. Moet ons nie die Jordaan laat oorsteek nie.”
6Moses het vir die nageslag van Gad en Ruben gesê: “Moet julle broers oorlog toe gaan terwyl julle hier bly? 7Waarom wil julle die Israeliete ontmoedig om deur te trek na die land wat die Here vir hulle gegee het? 8 Julle voorvaders het net so gemaak toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land deur te kyk. 9Hulle het opgetrek tot by die Eskoldal en die land deurgekyk; maar hulle het die Israeliete ontmoedig, sodat hulle nie na die land gegaan het wat die Here vir hulle gegee het nie. 10Die toorn van die Here het op daardie dag ontbrand en Hy het 'n eed afgelê, 11‘Die manne van twintig jaar en ouer, wat uit Egipte opgetrek het, sal nie die land sien wat Ek met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie; want hulle het My nie met volharding gevolg nie, 12behalwe Kaleb, seun van Jefunne, van die Kenasstam, en Josua, seun van Nun; want hulle het die Here met volharding gevolg.’ 13 Die toorn van die Here het teen Israel ontbrand en Hy het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerf, totdat nie een meer oorgebly het van die hele geslag wat gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here nie. 14En kyk, julle het in die plek van julle voorvaders gaan staan, julle sondige geslag, om die brandende toorn van die Here teen Israel nog erger te maak. 15 As julle ophou om Hom te volg, sal Hy julle weer in die woestyn agterlaat, en julle sal die ondergang van hierdie hele volk veroorsaak.”
16Maar hulle het tot by hom gekom en gesê: “Veekrale sal ons hier bou vir ons diere en stede vir ons afhanklikes. 17Maar ons, ons sal ons in slagorde bewapen aan die voorpunt van die Israeliete, totdat ons hulle by hulle plek gebring het, terwyl ons afhanklikes in die versterkte stede bly woon vanweë die inwoners van die land. 18Ons sal nie na ons huise terugkeer nie, totdat elkeen van die Israeliete sy erfdeel volledig besit; 19want ons wil nie saam met hulle 'n erfdeel hê oorkant die Jordaan en verder weg nie. Nee, ons erfdeel het ons aan die oostekant van die Jordaan toegeval.”
20 Toe sê Moses vir hulle: “As julle hierdie saak so aanpak, as julle voor die Here julle vir die geveg bewapen, 21en elke gewapende man onder julle, voor die Here uit, die Jordaan oorsteek totdat Hy sy vyande voor Hom verdryf het 22en die land voor die Here onderwerp is, kan julle daarná terugkeer. Julle sal dan sonder blaam wees teenoor die Here en teenoor Israel, en hierdie gebied sal in die oë van die Here vir julle erfgrond wees. 23Maar as julle nie so optree nie; kyk, dan het julle teen die Here gesondig. Julle moet besef: Julle sonde sal julle inhaal. 24Bou self stede vir julle afhanklikes, en krale vir julle kleinvee; maar wat oor julle lippe gekom het, moet julle uitvoer.”
25Die nageslag van Gad en Ruben het vir Moses gesê: “U dienaars sal doen wat my heer beveel. 26Ons afhanklikes, ons vroue, ons vee en al ons diere sal daar in die stede van Gilead bly; 27maar u dienaars, elkeen wat gewapen is vir oorlog, sal oortrek voor die Here uit, soos my heer sê.”
28 Daarop het Moses oor hulle opdragte gegee aan die priester Eleasar en aan Josua, seun van Nun, asook aan die familiehoofde van die Israelitiese stamme. 29Moses het vir hulle gesê: “As die nageslag van Gad en Ruben saam met julle die Jordaan oorsteek, elkeen wat gewapen is vir die geveg voor die Here, en die land voor julle onderwerp is, moet julle vir hulle die land Gilead gee as erfgrond. 30Maar as hulle nie gewapen saam met julle oortrek nie, moet hulle tussen julle erfgrond kry in die land Kanaän.”
31 Die nageslag van Gad en Ruben het daarop gereageer en gesê: “Wat die Here aan u dienaars gesê het, sal ons doen. 32Ons sal gewapen voor die Here na die land Kanaän oortrek, maar ons sal ons onvervreembare erfgrond oos van die Jordaan behou.”
33Moses het toe vir die nageslag van Gad en Ruben en die halwe stam van Manasse, seun van Josef, die koninkryk van Sihon, koning van die •Amoriete, en die koninkryk van Og, koning van Basan, gegee – die gebied volgens sy stede, met die omliggende grond van die stede in die gebied. 34 Die nageslag van Gad het Dibon, Atarot en Aroër herbou, 35ook Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha, 36Bet-Nimra en Bet-Haran – versterkte stede met skaapkrale. 37Die nageslag van Ruben het Gesbon, Elale en Kirjatajim herbou, 38asook Nebo, Baäl-Meon – waarvan die name verander is – en Sibma. Hulle het al die name van die stede wat hulle herbou het, verander.
39 Die nageslag van Magir, seun van Manasse, het na Gilead gegaan. Hulle het dit verower en die Amoriete wat daarin was, verdryf. 40Moses het toe Gilead vir Magir, seun van Manasse, gegee en hy het daar gaan woon.
41Jaïr, seun van Manasse, het gegaan en die tentdorpe van die Amoriete ingeneem. Hy het dit Gawwoot-Jaïr genoem. 42Nobag het gegaan en Kenat en omliggende dorpies ingeneem. Hy het dit sy eie naam, Nobag, gegee.

Tans Gekies:

Numeri 32: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

Video for Numeri 32