Markus 9:33-37

Markus 9:33-37 AFR20

Hulle het in Kapernaum aangekom, en toe Jesus by hulle in die huis was, vra Hy hulle: “Waaroor het julle op pad geredeneer?” Hulle het egter stilgebly, want hulle het op pad onder mekaar geredekawel oor wie die belangrikste is. Nadat Hy gaan sit het, roep Hy die twaalf en sê vir hulle: “As iemand eerste wil wees, moet hy laaste van almal en almal se dienaar wees.” Hy het 'n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy neem hom toe in sy arms en sê vir hulle: “Wie een van hierdie kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het.”