Matteus 3:1-11

Matteus 3:1-11 AFR20

In daardie tyd het Johannes die Doper in die openbaar begin optree en in die woestyn van Judea verkondig: “Bekeer julle, want die •koninkryk van die hemele is op hande.” Hy was immers die een van wie die profeet Jesaja gepraat het toe hy gesê het: “'n Stem van iemand wat roep in die woestyn, ‘Maak die pad vir die Here gereed, maak sy paaie reguit!’ ” Hierdie Johannes het 'n kleed van kameelhaar gedra, met 'n leergordel om sy heupe, en sy kos was sprinkane en wilde heuning. In dié tyd het daar inwoners van Jerusalem, die hele Judea en die hele Jordaanomgewing na hom gegaan, en hulle is deur hom in die Jordaanrivier gedoop, terwyl hulle hulle sondes bely het. Maar toe hy sien dat baie van die •Fariseërs en •Sadduseërs kom na waar hy gedoop het, het hy vir hulle gesê: “Addergeslag, wie het julle wysgemaak dat julle aan die dreigende oordeel kan ontkom? Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. En moenie eers oorweeg om by julleself te sê, ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê reeds teen die wortel van die boom. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Ek doop julle wel met water met die oog op bekering, maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, en ek is nie eers werd om sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 3:1-11