MATTEUS 3:1-11

MATTEUS 3:1-11 Bybel vir almal (ABA)

In daardie tyd het Johannes die Doper na die woestyn van Judea gekom en daar gepreek. Hy het gesê: “Julle moet verander en lewe soos God wil hê, want God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet.” Die profeet Jesaja het van Johannes gepraat toe hy gesê het: “ Iemand skree in die woestyn en hy sê: Julle moet die pad gereedmaak vir die Here, julle moet sy paaie reguit maak.” Johannes se klere was van kameelhare gemaak en hy het 'n belt van leer om sy heupe gedra. Hy het sprinkane geëet en heuning wat hy in die woestyn gekry het. Toe het die mense van Jerusalem en die hele provinsie Judea en van plekke naby die Jordaan-rivier na hom toe gegaan. Hulle het gesê hulle is jammer oor hulle sondes, en Johannes het hulle in die Jordaan-rivier gedoop. Johannes het gesien baie van die Fariseërs en Sadduseërs kom sodat hy hulle moet doop. Hy sê toe vir hulle: “Julle is so skelm soos slange! Julle sal nie kan wegvlug wanneer God se straf kom nie. Nee, julle moet wys julle het verander en dat julle nou lewe soos God wil hê. Julle moet wys julle is soos bome wat goeie vrugte dra. Julle sê vir mekaar: ‘Ons is kinders van Abraham,’ en julle dink dáárom sal God julle nie straf nie. Maar Ek sê vir julle: God kan van hierdie klippe kinders vir Abraham maak. God het al klaar begin om te oordeel. Dit is soos wanneer iemand met 'n byl elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, afkap en in die vuur gooi. Ek doop julle met water om te wys julle wil lewe soos God wil hê. Maar later sal daar Iemand kom wat meer kan doen as ek. Ek is nie belangrik genoeg om sy sandale vir Hom te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

MATTEUS 3:1-11 Die Boodskap (DB)

In daardie tyd het Johannes die Doper ook op die toneel verskyn. Hy het in die woestyn van Judea gepreek. Johannes het vir die mense wat na hom kom luister het, gesê: “Julle lewe moet radikaal verander, want God se nuwe wêreld is op hande.” Die profeet Jesaja het ook al na Johannes verwys. Hy skryf oor hom: “Daar is ’n man in die woestyn wat hard uitroep. Hy sê: ‘Vat al die hindernisse uit die Here se pad uit. Sorg dat die pad waarop Hy moet loop gelyk en reguit is!’” Johannes se klere was van kameelhare gemaak. Hy het dit met ’n leerbelt om sy lyf vasgemaak. Sy kos was sprinkane en heuning. Dié het hy in die veld gekry. Kort voor lank was Johannes die Doper groot nuus. Mense het van oraloor na hom toe gestroom. Van heinde en ver het hulle na hom toe gekom: uit Jerusalem, oral uit Judea en uit die omgewing van die Jordaanvallei. Almal van hulle wat in die openbaar erken het dat hulle nie doen wat God van hulle vra nie, is daar by die Jordaan deur hom gedoop. Op ’n dag het Johannes gesien dat ’n klomp Joodse godsdienstige leiers ook na hom toe kom om gedoop te word. Hy was baie omgekrap daaroor. “Julle skynheiliges! Julle seil soos ’n klomp slinkse slange hier na die doopwater toe. Weet julle nie dat God se oordeel baie naby is nie? Wie het vir julle gesê julle kan dit vryspring as ek ’n klomp water oor julle uitgooi? Kry eerder julle lewe in orde en doen wat God sê. Wys dat julle berou het oor al julle sondes. Moenie julleself bluf deur te sê Abraham is julle pa nie. Dit tel nie by God nie. Hy trek nie mense voor wat uit Abraham se nageslag kom nie. As sulke dinge vir God belangrik was, kon Hy mos die klippe wat hier rondlê in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het. “Ek sê weer vir julle: God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met sy byl in die hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die vuur van die hel gooi.” Johannes het ook met die ander mense gepraat wat na hom toe gekom het. Hy het vir hulle gesê: “Soos julle kan sien, doop ek julle nou met water. Hierdie doop is die bewys dat julle jammer is oor julle sondes en dat julle wil doen wat God vra. Maar ek het goeie nuus vir julle: binnekort kom daar ’n baie belangrike Man. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om sy skoene soos ’n slaaf vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal julle soos ’n vuur van binne af skoonmaak.

MATTEUS 3:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op ’n dag verskyn Johannes die Doper in die woestyn van Judea en kondig God se boodskap aan deur te sê: “Kom tot inkeer! God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!” Jesaja het juis van Johannes gepraat toe hy gesê het: “Hy is ’n stem wat uitroep in die woestyn: ‘Kry die Here se pad gereed! Maak vir Hom ’n hoofweg!’” Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra, met ’n leerbelt om sy middel. Hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. Kort voor lank begin daar toe mense uit Jerusalem en uit die hele Judea en Jordaan-omgewing na hom toe stroom. En nadat hulle hulle sondes bely het, het hy hulle in die Jordaanrivier gedoop. Toe Johannes besef hoeveel Fariseërs en Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, het hy hulle soos volg berispe: “Julle broeisel slange! Wie het julle wysgemaak dat julle God se dreigende oordeel kan vryspring? Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het. En moet tog nie julleself mislei nie met die gedagte: ‘Ons is veilig. Ons is mos die nageslag van Abraham.’ Weet verseker, God kan selfs die klippe wat hier rondlê in kinders van Abraham verander. “Die byl van God se oordeel lê al teen die bome se wortel, gereed om julle heeltemal uit te kap. God gaan elke boom wat nie gesonde vrugte dra nie, afkap en in die vuur gooi. “Ek doop julle wel met water as teken van julle bekering. Maar ná my kom daar Iemand wat baie belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers goed genoeg is om soos ’n slaaf sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid