MATTEUS 3:1-11

MATTEUS 3:1-11 NLV

Op ’n dag verskyn Johannes die Doper in die woestyn van Judea en kondig God se boodskap aan deur te sê: “Kom tot inkeer! God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!” Jesaja het juis van Johannes gepraat toe hy gesê het: “Hy is ’n stem wat uitroep in die woestyn: ‘Kry die Here se pad gereed! Maak vir Hom ’n hoofweg!’” Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra, met ’n leerbelt om sy middel. Hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. Kort voor lank begin daar toe mense uit Jerusalem en uit die hele Judea en Jordaan-omgewing na hom toe stroom. En nadat hulle hulle sondes bely het, het hy hulle in die Jordaanrivier gedoop. Toe Johannes besef hoeveel Fariseërs en Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, het hy hulle soos volg berispe: “Julle broeisel slange! Wie het julle wysgemaak dat julle God se dreigende oordeel kan vryspring? Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het. En moet tog nie julleself mislei nie met die gedagte: ‘Ons is veilig. Ons is mos die nageslag van Abraham.’ Weet verseker, God kan selfs die klippe wat hier rondlê in kinders van Abraham verander. “Die byl van God se oordeel lê al teen die bome se wortel, gereed om julle heeltemal uit te kap. God gaan elke boom wat nie gesonde vrugte dra nie, afkap en in die vuur gooi. “Ek doop julle wel met water as teken van julle bekering. Maar ná my kom daar Iemand wat baie belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers goed genoeg is om soos ’n slaaf sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

Gratis leesplanne en oordenkings oor MATTEUS 3:1-11

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid