Jesus het daarvandaan vertrek en na die streke van Tirus en Sidon gegaan. En skielik het 'n Kanaänitiese vrou uit daardie omgewing vorentoe gekom en hard uitgeroep: “Ontferm U oor my, Here, •Seun van Dawid! My dogter word geweldig geteister deur 'n demoon.” Hy het haar egter glad nie geantwoord nie. Sy dissipels het nader gekom en Hom versoek: “Stuur haar weg, want sy hou aan skreeu agter ons aan.” Hy het geantwoord: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. ” Sy het egter nader gekom, voor Hom neergeval en gesê: “Here, help my!” Hy het geantwoord: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” Maar sy het gesê: “Ja, Here, en tog eet die hondjies van die krummels wat van hulle eienaars se tafel val. ” Toe het Jesus haar geantwoord: “O vrou, groot is jou geloof! Laat dit vir jou wees soos jy wil hê. ” En haar dogter was van daardie oomblik af genees. Jesus het daarvandaan vertrek en al langs die See van Galilea geloop. Daarna het Hy teen die berg opgegaan en daar gaan sit. 'n Groot skare het na Hom gekom met verlamdes, blindes, kreupeles, doofstommes en baie ander saam met hulle. Hulle het dié mense by sy voete neergelê, en Hy het hulle gesond gemaak, sodat die skare vol verwondering was toe hulle sien dat doofstommes praat, kreupeles gesond word, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel verheerlik. Daarop het Jesus sy dissipels nader geroep en gesê: “Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. Ek wil hulle nie honger wegstuur nie, anders kan hulle onderweg beswyk.” Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar kry ons in hierdie verlate plek genoeg brood om so 'n groot skare te voed? ” Jesus sê vir hulle: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe, en 'n paar vissies.” En nadat Hy die skare beveel het om op die grond te gaan sit, het Hy die sewe brode en die visse geneem, gedank, dit gebreek en vir die dissipels gegee, en die dissipels weer vir die skare. Hulle het almal geëet en versadig geword. Hulle het van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. Afgesien van die vroue en kindertjies, was daar vierduisend mans wat geëet het. Nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy in die boot geklim en na die gebied van Magadan gegaan.
Lees Matteus 15
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Matteus 15:21-39
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's