Jesus het van Galilea noordwaarts vertrek na die gebied van Tirus en Sidon. ’n Nie-Joodse vrou uit daardie omgewing het na Hom toe gekom en aanhou smeek: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my! My dogter is in die mag van ’n bose gees en hy teister haar verskriklik.” Maar Hy het Hom heeltemal doof gehou vir haar. Sy dissipels kom vra Hom toe: “Stuur haar tog weg. Sy hou nie op met tekere gaan al agter ons aan nie.” Hy antwoord hulle: “Ek is net gestuur na die afgedwaalde skape van die volk van Israel.” Sy kom val toe voor Hom neer en sê: “Here, help my tog, asseblief!” Maar Hy antwoord haar: “Dis glad nie reg om die kinders se kos weg te vat en dit vir die huishondjies te gooi nie.” Sy het daarop gereageer: “Dit is so, Here, maar selfs die huishondjies eet tog darem van die krummels wat van hulle base se tafel afval.” Daarop antwoord Jesus haar: “Vrou, jou geloof is baie sterk. Jou versoek word toegestaan.” En haar dogter het dadelik gesond geword. Jesus het daarvandaan vertrek en weer by die See van Galilea aangekom. Hy het toe teen ’n heuwel uitgeklim en daar gaan sit. ’n Groot skare het met hulle verlamdes, blindes, kreupeles, stommes en nog baie ander siekes na Jesus toe gekom en hulle voor Hom neergesit. En Hy het hulle gesond gemaak. Die skare was verbaas toe hulle agterkom dat stommes praat, kreupeles gesond is, verlamdes rondbeweeg en blindes kan sien. En hulle het die God van Israel geloof. Jesus het sy dissipels nadergeroep met die woorde: “Ek voel baie jammer vir hierdie mense, want hulle is nou al drie dae by My en hulle het niks om te eet nie. Ek wil hulle ook nie met leë mae wegstuur nie; anders beswyk hulle dalk van honger langs die pad.” Daarop sê sy dissipels vir Hom: “Waar sal ons in hierdie verlate wêreld genoeg brood kry om so ’n massa te voed?” Jesus vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?” Hulle het geantwoord: “Sewe, en ’n paar vissies.” Jesus sê toe dat almal op die grond moet gaan sit. Toe neem Hy die sewe brode en die visse, bid om God se seën, breek die brood in stukke, en gee dit aan sy dissipels, en die dissipels weer aan die skare. Hulle het almal geëet totdat hulle versadig was! Van die oorskiet van die brood het hulle nog sewe mandjies vol opgetel. 4 000 mans het van hierdie kos geëet, afgesien van al die vroue en kinders! Daarna het Jesus die skare huis toe gestuur, in die boot geklim en na die omstreke van Magadan vertrek.
Lees MATTEUS 15
Luister na MATTEUS 15
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: MATTEUS 15:21-39
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's