MATTEUS 15:21-39

MATTEUS 15:21-39 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het weggegaan na plekke naby die stede Tirus en Sidon. 'n Kanaänitiese vrou van daardie stede het gekom en sy het aangehou skree. Sy het gesê: “Here, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help! Daar is 'n duiwel in my dogter en dit gaan baie sleg met haar.” Maar Jesus het nie die vrou geantwoord nie. Sy dissipels kom toe na Hom toe en hulle het aangehou om vir Hom te vra: “Sê vir die vrou sy moet weggaan, want sy loop saam met ons en sy hou aan skree.” Toe sê Jesus: “God het My gestuur net na die mense van Israel. Hulle is soos verlore skape.” Maar die vrou het na Jesus toe gekom en sy het voor Hom gekniel en gesê: “Here, help my asseblief!” Jesus het vir haar gesê: “Die Jode is die kinders van God. Dit is nie reg om die kinders se brood te vat en dit vir die hondjies te gooi nie.” Die vrou sê toe vir Jesus: “Dit is waar, Here, maar ook die hondjies eet van die krummels wat afval van die tafels van hulle eienaars.” Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, jou geloof is groot. Wat jy wil hê, sal gebeur.” En God het die vrou se dogter op daardie oomblik gesond gemaak. Jesus het weggegaan en Hy het langs die See van Galilea gekom. Hy het teen die berg opgegaan en daar gaan sit. 'n Klomp mense het na Hom toe gekom. Hulle het mense saamgebring wat verlam was, of blind, of kreupel, of doof en stom, en hulle het ook baie ander siek mense gebring. Hulle het die siek mense voor Jesus se voete neergesit en Hy het hulle gesond gemaak. Die mense was verbaas toe hulle sien dat die mense wat doof en stom was, kan praat, dat die kreupel mense gesond is en dat die blindes kan sien. En hulle het die God van Israel geprys. Jesus het sy dissipels na Hom toe geroep. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie jammer vir al hierdie mense, want hulle is al drie dae by My en hulle het niks kos nie. Ek wil hulle nie honger wegstuur huis toe nie, want hulle sal flou word voordat hulle by die huis is.” Die dissipels vra toe vir Jesus: “Waar sal ons so baie brood kry dat ons vir hierdie klomp mense genoeg kan gee om te eet? Ons is ver van 'n stad, hier woon niemand nie.” Jesus vra toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle?” En hulle sê vir Hom: “Ons het sewe brode en 'n paar klein vissies.” Jesus het toe vir al die mense gesê hulle moet op die grond gaan sit om te eet. Hy het die sewe brode en die visse geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee, en die dissipels het dit vir die mense gegee. Almal het genoeg geëet. Sy dissipels het die stukkies opgetel wat oorgebly het, dit was sewe groot mandjies vol. Daar was 4 000 mans wat geëet het. Daar was ook nog vroue en kinders. Daarna het Jesus al die mense huis toe gestuur. Toe het Jesus in 'n boot geklim en na plekke naby die stad Magadan gegaan.

MATTEUS 15:21-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon vertrek. En 'n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete. Maar Hy het haar nie 'n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan. Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my! Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie. En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval. Toe antwoord Jesus en sê vir haar: O Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af. TOE gaan Jesus daarvandaan weg en kom by die see van Galiléa; en Hy het op die berg geklim en daar gaan sit. En ondertussen kom daar groot menigtes na Hom met kreupeles, blindes, stommes, gebreklikes en baie ander by hulle, en hulle het dié by die voete van Jesus neergesit, en Hy het hulle gesond gemaak, sodat die skare verbaas was om te sien dat stommes praat, gebreklikes gesond word, kreupeles loop en blindes sien; en hulle het die God van Israel verheerlik. Toe het Jesus sy dissipels na Hom geroep en gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie; en Ek wil hulle nie graag honger wegstuur nie, sodat hulle nie miskien op die pad beswyk nie. En sy dissipels sê vir Hom: Waar sal ons in die woestyn soveel brode vandaan kry om so 'n groot skare te versadig? Toe sê Jesus vir hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle antwoord: Sewe, en 'n paar vissies. En Hy het bevel gegee aan die skare om op die grond te gaan sit. Toe neem Hy die sewe brode en die visse, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels, en die dissipels aan die skare. En hulle het almal geëet en versadig geword; en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol. En die wat geëet het, was vierduisend manne buiten die vroue en kinders. En nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy in die skuit gegaan en in die gebied van Mágdala gekom.

MATTEUS 15:21-39 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 'n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van 'n bose gees, en dit gaan sleg.” Maar Hy het haar niks geantwoord nie. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.” Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.” Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!” Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” “Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.” “Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Van daardie oomblik af was die dogter gesond. Jesus het daarvandaan vertrek en by die See van Galilea gekom. Hy het teen die berg opgegaan en daar gaan sit. Baie mense het na Hom toe gekom met verlamdes, blindes, gebreklikes, dowes en nog baie ander, en hulle voor Hom neergesit. Hy het hulle gesond gemaak, sodat die menigte hulle verwonder het toe hulle sien dat stommes praat, gebreklikes herstel is, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel geprys. Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. En Ek wil hulle ook nie sonder kos huis toe stuur nie, want hulle kan miskien op pad beswyk.” Sy dissipels sê vir Hom: “Waar sal ons in hierdie verlate plek genoeg brood kry om so baie mense kos te gee?” “Hoeveel brood het julle?” vra Hy vir hulle. “Sewe,” antwoord hulle, “en 'n paar vissies.” Hy het gesê die mense moet op die grond gaan sit. Toe neem Hy die sewe brode en die visse en dank God daarvoor. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan die dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. Almal het geëet en genoeg gekry. En die dissipels het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het. Daar was vier duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders. Daarna het Hy die mense huis toe gestuur, in die skuit geklim en na die gebied van Magadan vertrek.

MATTEUS 15:21-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jesus het daarvandaan vertrek en na die streke van Tirus en Sidon gegaan. En skielik het 'n Kanaänitiese vrou uit daardie omgewing vorentoe gekom en hard uitgeroep: “Ontferm U oor my, Here, •Seun van Dawid! My dogter word geweldig geteister deur 'n demoon.” Hy het haar egter glad nie geantwoord nie. Sy dissipels het nader gekom en Hom versoek: “Stuur haar weg, want sy hou aan skreeu agter ons aan.” Hy het geantwoord: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. ” Sy het egter nader gekom, voor Hom neergeval en gesê: “Here, help my!” Hy het geantwoord: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” Maar sy het gesê: “Ja, Here, en tog eet die hondjies van die krummels wat van hulle eienaars se tafel val. ” Toe het Jesus haar geantwoord: “O vrou, groot is jou geloof! Laat dit vir jou wees soos jy wil hê. ” En haar dogter was van daardie oomblik af genees. Jesus het daarvandaan vertrek en al langs die See van Galilea geloop. Daarna het Hy teen die berg opgegaan en daar gaan sit. 'n Groot skare het na Hom gekom met verlamdes, blindes, kreupeles, doofstommes en baie ander saam met hulle. Hulle het dié mense by sy voete neergelê, en Hy het hulle gesond gemaak, sodat die skare vol verwondering was toe hulle sien dat doofstommes praat, kreupeles gesond word, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel verheerlik. Daarop het Jesus sy dissipels nader geroep en gesê: “Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. Ek wil hulle nie honger wegstuur nie, anders kan hulle onderweg beswyk.” Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar kry ons in hierdie verlate plek genoeg brood om so 'n groot skare te voed? ” Jesus sê vir hulle: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe, en 'n paar vissies.” En nadat Hy die skare beveel het om op die grond te gaan sit, het Hy die sewe brode en die visse geneem, gedank, dit gebreek en vir die dissipels gegee, en die dissipels weer vir die skare. Hulle het almal geëet en versadig geword. Hulle het van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. Afgesien van die vroue en kindertjies, was daar vierduisend mans wat geëet het. Nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy in die boot geklim en na die gebied van Magadan gegaan.

MATTEUS 15:21-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het Jesus daarvandaan gegaan en na die gebiede van Tirus en Sidon vertrek. En kyk, 'n Kanaänse vrou het uit dieselfde gebied gekom en Hom aangeroep en gesê: Wees my genadig, Here, Seun van Dawid! my dogter is erg gekwel deur 'n duiwel. Maar hy het haar nie 'n woord geantwoord nie. En sy dissipels het gekom en Hom gesmeek en gesê: Stuur haar weg; want sy roep agter ons aan. Maar hy antwoord en sê: Ek is nie gestuur nie, behalwe na die verlore skape van die huis van Israel. Toe kom sy en aanbid Hom en sê: Here, help my! Maar hy antwoord en sê: Dit is nie reg om die brood van die kinders te neem en dit vir die honde te gooi nie. En sy sê: Waarlik, Here, tog eet die honde van die krummels wat van hulle eienaars se tafel val. Toe antwoord Jesus en sê vir haar: Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil. En haar dogter is van daardie selfde uur af gesond geword. En Jesus het daarvandaan weggegaan en naby die see van Galiléa gekom; en op 'n berg geklim en daar gaan sit. En groot menigtes het na Hom gekom en kreupeles, blindes, stomme, verminktes en baie ander by hulle gehad, en hulle het hulle voor Jesus se voete neergegooi; en Hy het hulle gesond gemaak: Sodat die skare hulle verwonder het toe hulle sien dat die stomme praat, die verminktes gesond is, die kreupeles om te loop en die blindes om te sien; en hulle het die God van Israel verheerlik. Toe roep Jesus sy dissipels na Hom en sê: Ek het medelye met die skare, want hulle bly nou drie dae by My en het niks om te eet nie; en Ek sal hulle nie laat vas nie, sodat hulle nie op die pad beswyk nie. En sy dissipels sê vir Hom: Waarvandaan sou ons soveel brood in die woestyn hê om so 'n groot menigte te versadig? En Jesus sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle sê: Sewe en 'n paar vissies. En Hy het die skare bevel gegee om op die grond te gaan sit. En Hy het die sewe brode en die visse geneem en gedank en dit gebreek en aan Sy dissipels gegee en die dissipels aan die skare. En hulle het almal geëet en versadig geword, en van die stukkende vleis wat oorgebly het, het hulle sewe mandjies vol opgetel. En die wat geëet het, was vierduisend man, buiten vroue en kinders. En Hy het die skare weggestuur en die skip gevat en in die gebied van Magdala gekom.

MATTEUS 15:21-39 Die Boodskap (DB)

Hierna het Jesus na die gebied van Tirus en Sidon vertrek. ’n Vrou wat daar gebly het, maar wat nie ’n Israeliet was nie, het na Hom toe gekom en hardop uitgeroep: “Here, Seun van Dawid, help my tog! My kind is in die mag van ’n bose gees.” Jesus het egter gemaak of Hy haar nie hoor nie. Maar sy het nie moed verloor nie. Sy het agter Hom bly aanloop en om genade gepleit. Die dissipels was later baie omgekrap oor hierdie vrou. Hulle sê toe vir Jesus: “Jaag haar weg. Sy maak ons gek met haar geskreeu.” Jesus sê vir die vrou: “Ek het net een taak. Dit is om die mense in Israel wat ver van God af lewe na Hom toe terug te bring.” Hierdie woorde het haar nog nie afgesit nie. Sy het voor Jesus kom neerval en by Hom gepleit: “Here, help my, asseblief!” Hy sê toe vir haar: “Dit is mos nie mooi om die geestelike kos uit Israel se mond te vat en dit vir onrein mense te gee wat nie deel van sy volk is nie.” “Ag, Here, dit is waar,” het sy geantwoord. “Maar partykeer is onrein mense bereid om die oorskietkos te eet wat op die grond beland. U kan gerus voortgaan met u bediening aan Israel. Laat asseblief tog net ’n stukkie van u genade na my kant toe val!” “Weet jy, jou geloof is baie groot,” het Jesus haar toe geantwoord. “Ek sal jou wens waar maak.” Van daardie oomblik af was haar dogter gesond. Na hierdie episode het Jesus na die gebied by die See van Galilea teruggekeer. Daar het Hy ’n ent teen ’n berg opgeklim en gaan sit. ’n Groot aantal mense het daar na Hom toe gekom. Hulle het baie siekes saamgebring: verlamdes, blindes, doofstom mense, gebreklikes en sommer nog ’n menigte. Hierdie siek mense is almal gesond gemaak. Doofstommes het begin praat; gebreklikes se ledemate was weer normaal; verlamdes het begin rondbeweeg, en die blindes kon sien. Almal wat hierdie groot wonderwerk gesien het, was uitermate verbaas. Hulle het God hardop geprys. Terwyl die skare nog in vervoering was oor wat om hulle gebeur het, het Jesus sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek voel innig jammer vir hierdie mense. Hulle is al ’n volle drie dae hier by My en hulle het niks om te eet nie. Ek wil hulle nie honger huis toe stuur nie. Dalk maak hulle dit nie op die lang pad terug nie.” Die dissipels vra verbaas vir Jesus: “Waar sal ons in hierdie verlate plek genoeg kos kry vir so ’n menigte?” “Hoeveel brood het julle by julle?” vra Hy. “Sewe brode en ’n paar vissies,” antwoord hulle. Jesus laat toe al die mense sit. Daarna neem Hy die sewe brode en die vissies in sy hand. Na ’n dankgebed begin Hy om dit te breek en aan sy dissipels te gee. Hulle het dit weer aan die skare uitgedeel. Daar was uiteindelik oorgenoeg kos vir almal. Die mense het geëet totdat hulle versadig was. Na die tyd is daar sewe mandjies met oorskietkos opgetel. Net die mans by hierdie ete was sowat 4 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was. Na die ete het Jesus die mense na hulle huise toe teruggestuur. Hy het in die skuit geklim en na die gebied van Magadan vertrek.

MATTEUS 15:21-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het van Galilea noordwaarts vertrek na die gebied van Tirus en Sidon. ’n Nie-Joodse vrou uit daardie omgewing het na Hom toe gekom en aanhou smeek: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my! My dogter is in die mag van ’n bose gees en hy teister haar verskriklik.” Maar Hy het Hom heeltemal doof gehou vir haar. Sy dissipels kom vra Hom toe: “Stuur haar tog weg. Sy hou nie op met tekere gaan al agter ons aan nie.” Hy antwoord hulle: “Ek is net gestuur na die afgedwaalde skape van die volk van Israel.” Sy kom val toe voor Hom neer en sê: “Here, help my tog, asseblief!” Maar Hy antwoord haar: “Dis glad nie reg om die kinders se kos weg te vat en dit vir die huishondjies te gooi nie.” Sy het daarop gereageer: “Dit is so, Here, maar selfs die huishondjies eet tog darem van die krummels wat van hulle base se tafel afval.” Daarop antwoord Jesus haar: “Vrou, jou geloof is baie sterk. Jou versoek word toegestaan.” En haar dogter het dadelik gesond geword. Jesus het daarvandaan vertrek en weer by die See van Galilea aangekom. Hy het toe teen ’n heuwel uitgeklim en daar gaan sit. ’n Groot skare het met hulle verlamdes, blindes, kreupeles, stommes en nog baie ander siekes na Jesus toe gekom en hulle voor Hom neergesit. En Hy het hulle gesond gemaak. Die skare was verbaas toe hulle agterkom dat stommes praat, kreupeles gesond is, verlamdes rondbeweeg en blindes kan sien. En hulle het die God van Israel geloof. Jesus het sy dissipels nadergeroep met die woorde: “Ek voel baie jammer vir hierdie mense, want hulle is nou al drie dae by My en hulle het niks om te eet nie. Ek wil hulle ook nie met leë mae wegstuur nie; anders beswyk hulle dalk van honger langs die pad.” Daarop sê sy dissipels vir Hom: “Waar sal ons in hierdie verlate wêreld genoeg brood kry om so ’n massa te voed?” Jesus vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?” Hulle het geantwoord: “Sewe, en ’n paar vissies.” Jesus sê toe dat almal op die grond moet gaan sit. Toe neem Hy die sewe brode en die visse, bid om God se seën, breek die brood in stukke, en gee dit aan sy dissipels, en die dissipels weer aan die skare. Hulle het almal geëet totdat hulle versadig was! Van die oorskiet van die brood het hulle nog sewe mandjies vol opgetel. 4 000 mans het van hierdie kos geëet, afgesien van al die vroue en kinders! Daarna het Jesus die skare huis toe gestuur, in die boot geklim en na die omstreke van Magadan vertrek.