Lukas 6:1-26

Lukas 6:1-26 AFR20

Op 'n keer het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het are gepluk en met hulle hande uitgevryf en geëet. Sommige van die •Fariseërs sê toe: “Waarom doen julle iets wat op die Sabbat nie toelaatbaar is nie?” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en dié saam met hom honger geword het nie? Hoe hy die huis van God binnegegaan en die •vertoonbrode gevat en geëet het, en ook daarvan aan dié wat saam met hom was, gegee het, alhoewel niemand behalwe die priesters daarvan mag eet nie? ” Verder sê Hy vir hulle: “Die •Seun van die Mens – Hy is Heer van die Sabbat.” Op 'n ander Sabbat, toe Hy weer na die •sinagoge gegaan en daar onderrig gegee het, was daar 'n man wie se regterhand verdor was. Die skrifkenners en die •Fariseërs het Hom dopgehou om te sien of Hy op die Sabbat iemand gesond sou maak, sodat hulle iets kon hê waarvan hulle Hom kon aankla. Maar Hy het geweet wat in hulle gedagtes aangaan, en vir die man met die gebreklike hand gesê: “Kom staan hier tussen ons.” Die man het opgestaan en daar gaan staan. Toe sê Jesus vir hulle: “Ek vra julle, is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen, of sleg te doen, om 'n lewe te red, of dit ten gronde te laat gaan?” Nadat Hy in die rondte na hulle almal gekyk het, sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Hy het dit gedoen, en sy hand het gesond geword. Hulle was egter buite hulleself van woede, en het onder mekaar beraadslaag oor wat hulle met Jesus kon doen. In dié tyd het Jesus uitgegaan na die berg om te bid, en Hy het die nag deurgebring in gebed met God. Teen dagbreek het Hy toe sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, en Hy het hulle •apostels genoem. Hulle was Simon, wat Hy ook •Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Thomas, Jakobus, seun van Alfeus, Simon met die naam “Seloot”, en Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskariot, wat 'n verraaier geword het. Nadat Hy saam met hulle van die berg af gekom het, het Hy op 'n gelykte gaan staan. Daar was 'n groot groep van sy dissipels en ook 'n menigte mense uit die volk – van oor die hele Judea en Jerusalem, en ook uit die kusstreke rondom Tirus en Sidon. Hulle het gekom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook mense wat deur •onrein geeste gepla is, is daarvan genees. En die hele skare het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan en Hy almal genees het. Toe het Hy sy oë op sy dissipels gerig en gesê: “Gelukkig is julle wat arm is, want die •koninkryk van God behoort aan julle. Gelukkig is julle wat nou honger ly, want julle sal versadig word. Gelukkig is julle wat nou huil, want julle sal lag. Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat en verstoot en uitskel en julle name deur die modder sleep ter wille van die •Seun van die Mens. “Wees bly op daardie dag, en spring op van vreugde, want kyk, julle beloning in die hemel is groot. Hulle voorvaders het immers die profete net so behandel. “Maar wee julle wat ryk is, want julle het reeds julle troos weg. Wee julle wat nou versadig is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en huil. Wee julle wanneer al die mense net goed van julle praat, want hulle voorvaders het die vals profete net so behandel.”