LUKAS 6:1-26
LUKAS 6:1-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Een Sabbatdag toe Jesus deur graanlande loop, het sy dissipels koringare afgebreek, dit in hulle hande uitgevryf en die koringkorrels geëet. Maar sommige Fariseërs het gesê: “Julle moenie dit doen nie! Dis teen die wet om op die Sabbat te werk en graan te oes.” Jesus het geantwoord: “Het julle nooit in die Skrif gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manskappe honger was nie? Hy het selfs in die huis van God ingegaan en die offerbrood wat vir die priesters alleen bedoel was, geëet en daarvan vir sy manskappe gegee. Daardeur is die wet mos ook verbreek. “En,” voeg Jesus by, “Ek, die Seun van die Mens, is Here oor die Sabbat.” Op ’n ander Sabbatdag was daar ’n man met ’n gebreklike regterhand in die sinagoge terwyl Jesus die mense geleer het. Die skrifkenners en Fariseërs het Jesus fyn dopgehou om te sien of Jesus die man op die Sabbat sou genees, want hulle was gretig om ’n klag teen Hom te lê. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy sê toe vir die man met die misvormde hand: “Kom staan hier waar almal jou kan sien.” Die man het toe vorentoe gegaan. Toe sê Jesus vir sy kritici: “Ek het ’n vraag om aan julle te stel. Is dit wetlik reg om goeie dade op die Sabbat te doen, of is dit ’n dag om kwaad te doen? Is hierdie ’n dag om lewens te red of om dit te vernietig?” Hy het hulle almal in die rondte aangekyk en sê toe vir die man: “Steek jou hand uit.” Die man het sy hand uitgesteek en dit het weer normaal geword! Hieroor was Jesus se vyande buite hulleself van woede en het onder mekaar bly redeneer oor wat om met Hom te doen. Eendag kort hierna het Jesus na ’n berg gegaan om te bid, en Hy het die hele nag in gebed deurgebring. Teen dagbreek het Hy al sy dissipels bymekaargeroep en twaalf van hulle gekies om apostels te wees. Hier is hulle name: Simon (Hy het hom ook Petrus genoem), Andreas (Petrus se broer), Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (seun van Alfeus), Simon (die Yweraar), Judas (seun van Jakobus), Judas Iskariot (wat Hom later uitgelewer het). Toe hulle teen die berghang afgekom het, het die dissipels saam met Jesus op ’n groot gelykte gaan staan, omring deur baie ander volgelinge en die skares. Daar was mense van oral oor Judea en Jerusalem en so ver noord as die kusgebied van Tirus en Sidon. Hulle het gekom om na Hom te luister en om genees te word, en Jesus het baie bose geeste uitgedryf. Almal het aan Hom probeer raak, want genesende krag het van Hom uitgegaan, en hulle is almal genees. Jesus het na sy dissipels gekyk en gesê: “Gelukkig is julle wat arm is, want die koninkryk van God is júlle deel. Gelukkig is julle wat nou honger is, want julle sal versadig word. Gelukkig is julle wat nou huil, want die tyd sal kom dat julle van blydskap sal lag. Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle uitsluit en beledig en julle naam deur die modder sleep ter wille van My, die Seun van die Mens. “Wanneer dit gebeur, verheug julle! Ja, spring rond van vreugde! Want ’n groot beloning wag vir julle in die hemel. Onthou, die profete van vroeër is net so deur julle voorvaders behandel.” “Ellende wag op julle wat nou ryk is, want julle het julle enigste geluk reeds nou. Ellende wag op julle wat nou versadig en voorspoedig is, want vir julle kom daar ’n tyd van ontsettende hongersnood. Ellende wag op julle wat sorgeloos lag, want julle gelag sal in rou en treur verander. Ellende wag op julle wat deur die skares geprys word, want hulle voorvaders het ook die vals profete geprys.”
LUKAS 6:1-26 Bybel vir almal (ABA)
Jesus en sy dissipels het op 'n Sabbatdag deur 'n koringland geloop. Die dissipels het van die koring-are gepluk en hulle het die korrels met hulle hande uitgevryf en dit geëet. Toe vra party van die Fariseërs: “Hoekom doen julle iets wat 'n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie?” Jesus het vir hulle gesê: “Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger was? Dawid het in 'n tempel ingegaan en hy het die brood geneem wat net die priesters mag eet. Dawid het dit geëet en hy het ook vir sy manne daarvan gegee.” Jesus sê toe vir hulle: “Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.” Op 'n ander Sabbatdag het Jesus na die sinagoge gegaan en Hy het vir die mense geleer. Daar was 'n man, sy regter-hand was gebreklik. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Jesus dopgehou om te kyk of Hy die man op die Sabbatdag gesond sal maak. As Jesus dit doen, dan wou hulle Hom beskuldig dat Hy verkeerd gedoen het. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: “Kom staan hier tussen die mense sodat almal jou kan sien.” Die man het gedoen wat Jesus gesê het. Jesus sê toe vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs: “Sê vir My, mag 'n mens op die Sabbatdag goed doen of verkeerd doen? Mag 'n mens iemand se lewe red, of mag 'n mens hom doodmaak?” Jesus het na al die mense rondom Hom gekyk en Hy het vir die man gesê: “Steek jou hand uit.” Die man het dit gedoen, en toe was sy hand gesond. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het baie kwaad geword, hulle was woedend. Hulle het planne gemaak en gedink wat hulle met Jesus kan doen. Nie lank daarna nie het Jesus na die berg gegaan om daar te bid. Hy het die hele nag tot God gebid. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels na Hom toe geroep. Hy het twaalf van hulle gekies en Hy het hulle apostels genoem. Hulle name was: Simon, sy ander naam was Petrus, en ook sy broer Andreas, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die patriot, Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het. Daarna het Jesus saam met die apostels van die berg afgegaan en op 'n gelyk plek gaan staan. Daar was baie van sy dissipels en baie ander mense wat gekom het uit die hele provinsie Judea, en van Jerusalem en van die stede Tirus en Sidon by die see. Hulle het almal na Jesus kom luister en hulle wou hê Hy moet hulle gesond maak. Daar was onrein geeste in party mense, en Jesus het daardie mense ook gesond gemaak. Almal wou graag aan Jesus raak, want daar het krag uit Hom gekom en die krag het almal gesond gemaak. Jesus kyk toe na sy dissipels en Hy sê vir hulle: Julle wat arm is, is gelukkige mense, want God is julle Koning. Julle wat nou honger is, is gelukkige mense, want God sal vir julle genoeg gee om te eet. Julle wat nou huil, is gelukkige mense, want julle sal lag. Julle is gelukkige mense wanneer die mense julle haat en wegjaag en beledig en slegte dinge van julle sê omdat julle aan My behoort, aan My, die Seun van die mens. Julle moet bly wees wanneer dit gebeur, so bly dat julle rondspring, want in die hemel sal God baie goed wees vir julle. Kan julle onthou wat gebeur het met die profete? Die voorouers van die mense wat vir julle nou haat, het die profete lank gelede ook so gehaat. Maar God sal dit sleg laat gaan met julle wat ryk is, want dit het in hierdie lewe goed gegaan met julle. God sal dit sleg laat gaan met julle wat nou baie kos het, want julle sal eendag honger wees. God sal dit sleg laat gaan met julle wat nou lag, want julle sal eendag huil en treur. God sal dit sleg laat gaan met julle wanneer al die mense net mooi dinge van julle sê, want hulle voorouers het lank gelede ook net mooi dinge van die vals profete gesê.
LUKAS 6:1-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN op die tweede eerste sabbat het Hy deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het die are gepluk en met hulle hande uitgevrywe en geëet. Toe sê sommige van die Fariseërs vir hulle: Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het nie — toe hy honger gehad het, hy en die wat by hom was — hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geneem en geëet het, en ook aan die wat by hom was, gegee het, wat hulle nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen? Toe sê Hy vir hulle: Die Seun van die mens is Here óók van die sabbat. EN op 'n ander sabbat het Hy in die sinagoge gegaan en geleer. En daar was 'n man, en sy regterhand was uitgedor. En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Hom in die oog gehou, of Hy op die sabbat gesond maak, sodat hulle 'n aanklag teen Hom kon vind. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die verdorde hand gesê: Staan op hier in hul midde. En hy het opgestaan. Toe sê Jesus vir hulle: Ek sal aan julle 'n vraag stel: wat is geoorloof op die sabbat — om goed te doen of kwaad te doen; om 'n lewe te red of óm te bring? En nadat Hy almal rondom aangekyk het, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit gedoen; en sy hand is herstel, gesond soos die ander een. En hulle is met uitsinnigheid vervul en het met mekaar gepraat wat hulle aan Jesus sou doen. EN Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die gebed tot God deurgebring. En toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels na Hom geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy apostels genoem het: Simon wat Hy Petrus genoem het, en Andréas, sy broer; Jakobus en Johannes; Filippus en Bartholoméüs; Matthéüs en Thomas; Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon wat Yweraar genoem word; Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskáriot, wat die verraaier geword het. EN Hy het met hulle afgeklim en op 'n gelyk plek gaan staan, en daar was 'n skare van sy dissipels en 'n groot menigte van die volk van die hele Judéa en Jerusalem en die kusstreek van Tirus en Sidon af, wat gekom het om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees. En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak. Toe slaan Hy sy oë op oor sy dissipels en sê: Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God. Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag. Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen. Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg. Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en ween. Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.
LUKAS 6:1-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Eenkeer het Jesus op 'n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het are gepluk en dit met die hande uitgevrywe en geëet. Toe sê 'n paar van die Fariseërs: “Waarom doen julle iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie?” Jesus antwoord hulle: “Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger gekry het nie? Hy het die huis van God binnegegaan en die offerbrode geneem en geëet en ook aan sy manne gegee. Tog is niemand behalwe die priesters toegelaat om daardie brood te eet nie.” Verder sê Hy vir hulle: “Die Seun van die mens is Here oor die sabbat.” Op 'n ander sabbatdag het Jesus weer in die sinagoge ingegaan en die mense geleer. Daar was 'n man met 'n gebreklike regterhand. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy op die sabbatdag iemand sou gesond maak sodat hulle 'n aanklag teen Hom kon kry. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die gebreklike hand gesê: “Staan op en kom staan hier in die middel.” En hy het daar kom staan. Toe sê Jesus vir hulle: “Nou vra Ek julle: Mag 'n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?” Nadat Hy almal rondom Hom aangekyk het, sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.” Hy het dit gedoen, en sy hand was gesond. Maar hulle het rasend van woede geword en onder mekaar geredeneer oor wat hulle Jesus sou aandoen. In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het. Hulle was Simon, wat Hy ook Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot, Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat die verraaier geword het. Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op 'n gelykte by 'n groot aantal volgelinge gaan staan. Van die hele Joodse land en Jerusalem en van die kusgebied van Tirus en Sidon af was daar 'n menigte mense wat gekom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook dié wat onder onrein geeste gely het, is gesond gemaak. Al die mense het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan het en Hy almal gesond gemaak het. Jesus het sy dissipels aangekyk en gesê: “Geseënd is julle wat arm is, want aan julle behoort die koninkryk van God. Geseënd is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Geseënd is julle wat nou huil, want julle sal lag. Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die mens. Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel. Hulle voorvaders het immers met die profete net so gemaak. “Maar ellende wag vir julle wat ryk is, want julle het julle lekker lewe al weg. Ellende wag vir julle wat julle nou vol eet, want julle sal honger ly. Ellende wag vir julle wat nou lag, want julle sal treur en huil. Ellende wag vir julle as al die mense goed van julle praat. Hulle voorvaders het immers met die vals profete net so gemaak.”
LUKAS 6:1-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op 'n keer het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het are gepluk en met hulle hande uitgevryf en geëet. Sommige van die •Fariseërs sê toe: “Waarom doen julle iets wat op die Sabbat nie toelaatbaar is nie?” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en dié saam met hom honger geword het nie? Hoe hy die huis van God binnegegaan en die •vertoonbrode gevat en geëet het, en ook daarvan aan dié wat saam met hom was, gegee het, alhoewel niemand behalwe die priesters daarvan mag eet nie? ” Verder sê Hy vir hulle: “Die •Seun van die Mens – Hy is Heer van die Sabbat.” Op 'n ander Sabbat, toe Hy weer na die •sinagoge gegaan en daar onderrig gegee het, was daar 'n man wie se regterhand verdor was. Die skrifkenners en die •Fariseërs het Hom dopgehou om te sien of Hy op die Sabbat iemand gesond sou maak, sodat hulle iets kon hê waarvan hulle Hom kon aankla. Maar Hy het geweet wat in hulle gedagtes aangaan, en vir die man met die gebreklike hand gesê: “Kom staan hier tussen ons.” Die man het opgestaan en daar gaan staan. Toe sê Jesus vir hulle: “Ek vra julle, is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen, of sleg te doen, om 'n lewe te red, of dit ten gronde te laat gaan?” Nadat Hy in die rondte na hulle almal gekyk het, sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Hy het dit gedoen, en sy hand het gesond geword. Hulle was egter buite hulleself van woede, en het onder mekaar beraadslaag oor wat hulle met Jesus kon doen. In dié tyd het Jesus uitgegaan na die berg om te bid, en Hy het die nag deurgebring in gebed met God. Teen dagbreek het Hy toe sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, en Hy het hulle •apostels genoem. Hulle was Simon, wat Hy ook •Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Thomas, Jakobus, seun van Alfeus, Simon met die naam “Seloot”, en Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskariot, wat 'n verraaier geword het. Nadat Hy saam met hulle van die berg af gekom het, het Hy op 'n gelykte gaan staan. Daar was 'n groot groep van sy dissipels en ook 'n menigte mense uit die volk – van oor die hele Judea en Jerusalem, en ook uit die kusstreke rondom Tirus en Sidon. Hulle het gekom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook mense wat deur •onrein geeste gepla is, is daarvan genees. En die hele skare het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan en Hy almal genees het. Toe het Hy sy oë op sy dissipels gerig en gesê: “Gelukkig is julle wat arm is, want die •koninkryk van God behoort aan julle. Gelukkig is julle wat nou honger ly, want julle sal versadig word. Gelukkig is julle wat nou huil, want julle sal lag. Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat en verstoot en uitskel en julle name deur die modder sleep ter wille van die •Seun van die Mens. “Wees bly op daardie dag, en spring op van vreugde, want kyk, julle beloning in die hemel is groot. Hulle voorvaders het immers die profete net so behandel. “Maar wee julle wat ryk is, want julle het reeds julle troos weg. Wee julle wat nou versadig is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en huil. Wee julle wanneer al die mense net goed van julle praat, want hulle voorvaders het die vals profete net so behandel.”
LUKAS 6:1-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En op die tweede sabbat ná die eerste het hy deur die koringlande gegaan; en sy dissipels het die are gepluk en geëet en dit met hulle hande gevryf. En sommige van die Fariseërs sê vir hulle: Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie? En Jesus antwoord hulle en sê: Het julle nie so baie gelees wat Dawid gedoen het toe hy honger was en die wat by hom was nie; hoe hy in die huis van God ingegaan het en die toonbrode geneem en geëet het en ook aan die wat by hom was, gegee het; wat nie geoorloof is om te eet nie, behalwe vir die priesters alleen? En Hy sê vir hulle: Die Seun van die mens is ook Here van die sabbat. En op 'n ander sabbat het Hy ook in die sinagoge ingegaan en geleer; en daar was 'n man wie se regterhand verdroog was. En die skrifgeleerdes en Fariseërs het Hom dopgehou of Hy op die sabbatdag sou genees; dat hulle 'n beskuldiging teen hom kan vind. Maar hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die verdorde hand gesê: Staan op en staan in die middel. En hy het opgestaan en opgestaan. Toe sê Jesus vir hulle: Een ding sal Ek julle vra; Is dit op die sabbat geoorloof om goed te doen of kwaad te doen? om lewe te red, of om dit te vernietig? En hy kyk rondom hulle almal en sê vir die man: Steek jou hand uit. En hy het so gedoen, en sy hand het herstel soos die ander. En hulle is met waansin vervul; en met mekaar vertel wat hulle aan Jesus sou doen. En in daardie dae het hy uitgegaan na die berg om te bid, en hy het die hele nag gebly in gebed tot God. En toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels na Hom geroep; en van hulle het Hy twaalf gekies, wat Hy ook apostels genoem het; Simon (wat hy ook Petrus genoem het) en Andreas, sy broer, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Tomas, Jakobus, die seun van Alfeus, en Simon wat Selotes genoem word, En Judas, die broer van Jakobus, en Judas Iskariot, wat ook die verraaier was. En Hy het saam met hulle afgekom en in die vlakte gaan staan en die menigte van sy dissipels en 'n groot menigte mense uit die hele Judéa en Jerusalem en van die seekus van Tirus en Sidon af, wat gekom het om na Hom te luister, en om van hul siektes genees te word; En die wat deur onrein geeste geplaag was, en hulle is genees. En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, want daar het krag uit Hom uitgegaan en hulle almal genees. En Hy het sy oë op sy dissipels opgeslaan en gesê: Geseënd is julle armes, want aan julle behoort die koninkryk van God. Geseënd is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Geseënd is julle wat nou ween, want julle sal lag. Geseënd is julle wanneer die mense julle sal haat en julle van hulle menigte afskei en julle smaad en julle naam verdryf as slegtheid ter wille van die Seun van die mens. Verheug julle in dié dag en spring van blydskap, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want net so het hulle vaders met die profete gedoen. Maar wee julle wat ryk is! want julle het julle vertroosting ontvang. Wee julle wat versadig is! want julle sal honger. Wee julle wat nou lag! want julle sal treur en ween. Wee julle as almal goed van julle praat! want so het hulle vaders met die valse profete gedoen.
LUKAS 6:1-26 Die Boodskap (DB)
Een sabbatdag het Jesus deur ’n koringland geloop. Sy dissipels het honger geword. Hulle het toe van die ryp koringare afgepluk, die kaf gou uitgevryf en die koring geëet. ’n Paar Fariseërs wat hulle soos valke dopgehou het, het dit dadelik raakgesien. “En wat is hier aan die gang?” wou hulle weet. “Julle weet mos ’n mens mag nie kos op die sabbat bymekaarmaak nie.” Jesus het hulle geantwoord: “Ken julle dan nie julle Bybel nie? Onthou julle nie wat Dawid en sy manne gedoen het toe hulle honger geword het nie? Het julle vergeet hoe hy die reëls oortree het deur in die huis van God in te gaan en van die brood op die altaar te vat en te eet wat spesiaal vir God opsy gesit is? Net die priesters is mos toegelaat om dit te eet. “Wel, nou is Ek, die Seun van die mens, hier by julle. En Ek is baie belangriker as die sabbat. Ek sê nou wat op die sabbat gedoen mag word en wat nie.” Op ’n ander sabbatdag het Jesus na ’n Joodse sinagoge toe gegaan waar die mense bymekaargekom het om God te dien. Hy het hulle daar geleer. Daar was ’n man wie se regterhand heeltemal misvorm was. Dit was ineengetrek sodat hy dit glad nie kon gebruik nie. Die skrifkenners en die Fariseërs het Jesus fyn dopgehou. Hulle wou sien of Hy dit sou waag om iemand op die sabbat gesond te maak sodat hulle Hom kon aankla dat Hy God se wet oortree. Jesus het geweet hulle hou Hom dop, maar Hy het Hom nie aan hulle gesteur nie. Hy het vir die man met die misvormde hand gesê: “Kom staan hier!” Die man het dadelik opgestaan en na Jesus toe gekom. Toe vra Jesus vir die godsdienstige leiers: “Sê ’n bietjie vir My: Moet ’n mens op die sabbat goed doen, of moet ’n mens slegte dinge doen? Moet ’n mens iemand anders se lewe red, of moet jy hom doodmaak?” Jesus het om Hom gekyk, maar niemand het dit gewaag om iets te antwoord nie. Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.” Hy het dit gedoen. Dit was gesond, so goed soos nuut. Die godsdienstige leiers was briesend daaroor. Dadelik het hulle begin planne maak hoe hulle van Hom ontslae kon raak. Kort daarna het Jesus een aand teen ’n berg opgeklim om te gaan bid. Hy het die hele nag in gebed tot God deurgebring. Die volgende dag het Jesus sy volgelinge na Hom toe geroep. Hy het toe twaalf van hulle uitgekies. Hierdie twaalf mans het Jesus sy apostels genoem, sy spesiale verteenwoordigers. Hulle name is: Simon (Jesus het hom Petrus genoem), Andreas, Petrus se broer, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus, die seun van Alfeus, Simon (die mense het hom “ywerige Simon” genoem), Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskariot (hy het Jesus later verraai). Toe Jesus saam met hulle van die berg af kom, het Hy daar onder op die oop vlakte gaan staan. Baie van sy volgelinge en ’n hele klomp ander mense het daar na Hom toe gestroom. Van oor die hele Judea en Jerusalem, selfs van die kusgebied van Tirus en Sidon af, het mense in ’n groot massa na Jesus toe gekom. Hulle wou Hom hoor preek en ook van hulle siektes genees word. Jesus het dit toe gedoen. Mense wat deur bose geeste beset is, is deur Hom bevry. Almal het probeer om aan Jesus te raak. Hy was so vol krag dat Hy almal wat siek was, gesond gemaak het. Toe kyk Jesus na sy volgelinge en sê vir hulle: “Julle is gelukkig as julle nou arm is. God sal dan vir julle ’n plek gee in sy nuwe wêreld. “Julle is gelukkig as julle nou honger is. God sal sorg dat julle genoeg kos het om te eet in sy nuwe wêreld. “Julle is gelukkig as julle nou hartseer is. God sal sorg dat julle in sy nuwe wêreld lag en feesvier. “Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees. Spring dan op en dans rond van vreugde, want daar wag ’n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld. Wanneer mense julle slegsê, is julle in baie goeie geselskap: God se boodskappers is nog altyd so behandel. “Vir al julle rykes wat net agter geld aanhardloop, lê daar groot probleme voor. Julle het julle beloning klaar ontvang. God skuld julle niks meer nie. “Daar wag groot probleme op julle wat julle nou vol eet. In God se nuwe wêreld sal daar nie vir julle plek wees nie. Julle sal buite staan en honger ly. “Daar wag groot probleme op julle wat dink dat die lewe een groot gefuif is. Wanneer God se nuwe wêreld aanbreek, sal julle verskriklik huil, want julle sal moet buite bly. “Daar wag groot probleme op julle wanneer mense heeltyd net mooi dinge oor julle moet sê. Onthou: in die ou dae het die mense ook mooi dinge oor al die vals boodskappers van die Here te sê gehad.”
LUKAS 6:1-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Een Sabbatdag toe Jesus deur graanlande loop, het sy dissipels koringare afgebreek, dit in hulle hande uitgevryf en die koringkorrels geëet. Maar sommige Fariseërs het gesê: “Julle moenie dit doen nie! Dis teen die wet om op die Sabbat te werk en graan te oes.” Jesus het geantwoord: “Het julle nooit in die Skrif gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manskappe honger was nie? Hy het selfs in die huis van God ingegaan en die offerbrood wat vir die priesters alleen bedoel was, geëet en daarvan vir sy manskappe gegee. Daardeur is die wet mos ook verbreek. “En,” voeg Jesus by, “Ek, die Seun van die Mens, is Here oor die Sabbat.” Op ’n ander Sabbatdag was daar ’n man met ’n gebreklike regterhand in die sinagoge terwyl Jesus die mense geleer het. Die skrifkenners en Fariseërs het Jesus fyn dopgehou om te sien of Jesus die man op die Sabbat sou genees, want hulle was gretig om ’n klag teen Hom te lê. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy sê toe vir die man met die misvormde hand: “Kom staan hier waar almal jou kan sien.” Die man het toe vorentoe gegaan. Toe sê Jesus vir sy kritici: “Ek het ’n vraag om aan julle te stel. Is dit wetlik reg om goeie dade op die Sabbat te doen, of is dit ’n dag om kwaad te doen? Is hierdie ’n dag om lewens te red of om dit te vernietig?” Hy het hulle almal in die rondte aangekyk en sê toe vir die man: “Steek jou hand uit.” Die man het sy hand uitgesteek en dit het weer normaal geword! Hieroor was Jesus se vyande buite hulleself van woede en het onder mekaar bly redeneer oor wat om met Hom te doen. Eendag kort hierna het Jesus na ’n berg gegaan om te bid, en Hy het die hele nag in gebed deurgebring. Teen dagbreek het Hy al sy dissipels bymekaargeroep en twaalf van hulle gekies om apostels te wees. Hier is hulle name: Simon (Hy het hom ook Petrus genoem), Andreas (Petrus se broer), Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (seun van Alfeus), Simon (die Yweraar), Judas (seun van Jakobus), Judas Iskariot (wat Hom later uitgelewer het). Toe hulle teen die berghang afgekom het, het die dissipels saam met Jesus op ’n groot gelykte gaan staan, omring deur baie ander volgelinge en die skares. Daar was mense van oral oor Judea en Jerusalem en so ver noord as die kusgebied van Tirus en Sidon. Hulle het gekom om na Hom te luister en om genees te word, en Jesus het baie bose geeste uitgedryf. Almal het aan Hom probeer raak, want genesende krag het van Hom uitgegaan, en hulle is almal genees. Jesus het na sy dissipels gekyk en gesê: “Gelukkig is julle wat arm is, want die koninkryk van God is júlle deel. Gelukkig is julle wat nou honger is, want julle sal versadig word. Gelukkig is julle wat nou huil, want die tyd sal kom dat julle van blydskap sal lag. Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle uitsluit en beledig en julle naam deur die modder sleep ter wille van My, die Seun van die Mens. “Wanneer dit gebeur, verheug julle! Ja, spring rond van vreugde! Want ’n groot beloning wag vir julle in die hemel. Onthou, die profete van vroeër is net so deur julle voorvaders behandel.” “Ellende wag op julle wat nou ryk is, want julle het julle enigste geluk reeds nou. Ellende wag op julle wat nou versadig en voorspoedig is, want vir julle kom daar ’n tyd van ontsettende hongersnood. Ellende wag op julle wat sorgeloos lag, want julle gelag sal in rou en treur verander. Ellende wag op julle wat deur die skares geprys word, want hulle voorvaders het ook die vals profete geprys.”