Jesus en sy dissipels het op 'n Sabbatdag deur 'n koringland geloop. Die dissipels het van die koring-are gepluk en hulle het die korrels met hulle hande uitgevryf en dit geëet. Toe vra party van die Fariseërs: “Hoekom doen julle iets wat 'n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie?”
Jesus het vir hulle gesê: “Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger was? Dawid het in 'n tempel ingegaan en hy het die brood geneem wat net die priesters mag eet. Dawid het dit geëet en hy het ook vir sy manne daarvan gegee.”
Jesus sê toe vir hulle: “Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.”
Op 'n ander Sabbatdag het Jesus na die sinagoge gegaan en Hy het vir die mense geleer. Daar was 'n man, sy regter-hand was gebreklik. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Jesus dopgehou om te kyk of Hy die man op die Sabbatdag gesond sal maak. As Jesus dit doen, dan wou hulle Hom beskuldig dat Hy verkeerd gedoen het. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: “Kom staan hier tussen die mense sodat almal jou kan sien.”
Die man het gedoen wat Jesus gesê het. Jesus sê toe vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs: “Sê vir My, mag 'n mens op die Sabbatdag goed doen of verkeerd doen? Mag 'n mens iemand se lewe red, of mag 'n mens hom doodmaak?”
Jesus het na al die mense rondom Hom gekyk en Hy het vir die man gesê: “Steek jou hand uit.”
Die man het dit gedoen, en toe was sy hand gesond. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het baie kwaad geword, hulle was woedend. Hulle het planne gemaak en gedink wat hulle met Jesus kan doen.
Nie lank daarna nie het Jesus na die berg gegaan om daar te bid. Hy het die hele nag tot God gebid. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels na Hom toe geroep. Hy het twaalf van hulle gekies en Hy het hulle apostels genoem. Hulle name was: Simon, sy ander naam was Petrus, en ook sy broer Andreas, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die patriot, Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het.
Daarna het Jesus saam met die apostels van die berg afgegaan en op 'n gelyk plek gaan staan. Daar was baie van sy dissipels en baie ander mense wat gekom het uit die hele provinsie Judea, en van Jerusalem en van die stede Tirus en Sidon by die see. Hulle het almal na Jesus kom luister en hulle wou hê Hy moet hulle gesond maak. Daar was onrein geeste in party mense, en Jesus het daardie mense ook gesond gemaak. Almal wou graag aan Jesus raak, want daar het krag uit Hom gekom en die krag het almal gesond gemaak.
Jesus kyk toe na sy dissipels en Hy sê vir hulle:
Julle wat arm is, is gelukkige mense,
want God is julle Koning.
Julle wat nou honger is,
is gelukkige mense,
want God sal vir julle
genoeg gee om te eet.
Julle wat nou huil,
is gelukkige mense,
want julle sal lag.
Julle is gelukkige mense
wanneer die mense julle haat
en wegjaag
en beledig en slegte dinge
van julle sê
omdat julle aan My behoort,
aan My, die Seun van die mens.
Julle moet bly wees
wanneer dit gebeur,
so bly dat julle rondspring,
want in die hemel sal God
baie goed wees vir julle.
Kan julle onthou wat gebeur het
met die profete?
Die voorouers van die mense
wat vir julle nou haat,
het die profete lank gelede
ook so gehaat.
Maar God sal dit sleg laat gaan
met julle wat ryk is,
want dit het in hierdie lewe
goed gegaan met julle.
God sal dit sleg laat gaan
met julle wat nou baie kos het,
want julle sal eendag honger wees.
God sal dit sleg laat gaan
met julle wat nou lag,
want julle sal eendag huil en treur.
God sal dit sleg laat gaan met julle
wanneer al die mense net
mooi dinge van julle sê,
want hulle voorouers het lank gelede
ook net mooi dinge
van die vals profete gesê.