Een Sabbatdag toe Jesus deur graanlande loop, het sy dissipels koringare afgebreek, dit in hulle hande uitgevryf en die koringkorrels geëet. Maar sommige Fariseërs het gesê: “Julle moenie dit doen nie! Dis teen die wet om op die Sabbat te werk en graan te oes.”
Jesus het geantwoord: “Het julle nooit in die Skrif gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manskappe honger was nie? Hy het selfs in die huis van God ingegaan en die offerbrood wat vir die priesters alleen bedoel was, geëet en daarvan vir sy manskappe gegee. Daardeur is die wet mos ook verbreek.
“En,” voeg Jesus by, “Ek, die Seun van die Mens, is Here oor die Sabbat.”
Op ’n ander Sabbatdag was daar ’n man met ’n gebreklike regterhand in die sinagoge terwyl Jesus die mense geleer het. Die skrifkenners en Fariseërs het Jesus fyn dopgehou om te sien of Jesus die man op die Sabbat sou genees, want hulle was gretig om ’n klag teen Hom te lê. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy sê toe vir die man met die misvormde hand: “Kom staan hier waar almal jou kan sien.” Die man het toe vorentoe gegaan.
Toe sê Jesus vir sy kritici: “Ek het ’n vraag om aan julle te stel. Is dit wetlik reg om goeie dade op die Sabbat te doen, of is dit ’n dag om kwaad te doen? Is hierdie ’n dag om lewens te red of om dit te vernietig?”
Hy het hulle almal in die rondte aangekyk en sê toe vir die man: “Steek jou hand uit.” Die man het sy hand uitgesteek en dit het weer normaal geword! Hieroor was Jesus se vyande buite hulleself van woede en het onder mekaar bly redeneer oor wat om met Hom te doen.
Eendag kort hierna het Jesus na ’n berg gegaan om te bid, en Hy het die hele nag in gebed deurgebring. Teen dagbreek het Hy al sy dissipels bymekaargeroep en twaalf van hulle gekies om apostels te wees. Hier is hulle name:
Simon (Hy het hom ook Petrus genoem),
Andreas (Petrus se broer),
Jakobus,
Johannes,
Filippus,
Bartolomeus,
Matteus,
Tomas,
Jakobus (seun van Alfeus),
Simon (die Yweraar),
Judas (seun van Jakobus),
Judas Iskariot (wat Hom later
uitgelewer het).
Toe hulle teen die berghang afgekom het, het die dissipels saam met Jesus op ’n groot gelykte gaan staan, omring deur baie ander volgelinge en die skares. Daar was mense van oral oor Judea en Jerusalem en so ver noord as die kusgebied van Tirus en Sidon. Hulle het gekom om na Hom te luister en om genees te word, en Jesus het baie bose geeste uitgedryf.
Almal het aan Hom probeer raak, want genesende krag het van Hom uitgegaan, en hulle is almal genees.
Jesus het na sy dissipels gekyk en gesê:
“Gelukkig is julle wat arm is,
want die koninkryk van God
is júlle deel.
Gelukkig is julle wat nou
honger is,
want julle sal versadig word.
Gelukkig is julle wat nou huil,
want die tyd sal kom
dat julle van blydskap sal lag.
Gelukkig is julle wanneer
die mense
julle haat,
en wanneer hulle julle uitsluit
en beledig
en julle naam deur die modder
sleep
ter wille van My,
die Seun van die Mens.
“Wanneer dit gebeur, verheug julle! Ja, spring rond van vreugde! Want ’n groot beloning wag vir julle in die hemel. Onthou, die profete van vroeër is net so deur julle voorvaders behandel.”
“Ellende wag op julle wat nou
ryk is,
want julle het julle enigste geluk
reeds nou.
Ellende wag op julle
wat nou versadig
en voorspoedig is,
want vir julle kom daar ’n tyd
van ontsettende hongersnood.
Ellende wag op julle
wat sorgeloos lag,
want julle gelag
sal in rou en treur verander.
Ellende wag op julle
wat deur die skares
geprys word,
want hulle voorvaders
het ook die vals profete
geprys.”