Klaagliedere van Jeremia 3:1-9

Klaagliedere van Jeremia 3:1-9 AFR20

Ek is die man wat ellende beleef het deur die slae van die HERE se gramskap. Hy het my gedryf, my in die donker laat loop, sonder lig. Ja, Hy het sy hand teen my gelig, telkens weer, die hele dag. Hy het my vleis en vel verteer, my bene gebreek. Hy het my beleër, my omring met bitterheid en moeite. Hy het my in donker plekke laat bly soos dié wat lankal dood is. Hy het 'n muur rondom my gebou, uitkom kan ek nie; Hy het my boeie van brons swaar gemaak. Selfs al skree ek en roep om hulp, sluit Hy Hom af vir my gebed. Met gekapte klip het Hy my pad toegebou, Hy het my paaie laat kronkel.