Josua 4:19-24

Josua 4:19-24 AFR20

Die volk self het uit die Jordaan opgetrek op die tiende van die eerste maand. Hulle het kamp opgeslaan by Gilgal aan die oosgrens van Jerigo. Daardie twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan geneem het, het Josua in Gilgal opgerig. Hy het vir die Israeliete gesê: “As julle kinders in die toekoms vir hulle ouers vra, ‘Wat beteken hierdie klippe?’ dan moet julle aan julle kinders verduidelik, ‘Op droë grond het Israel deur hierdie Jordaan getrek.’ Want die HERE julle God het die water van die Jordaan voor julle laat opdroog, totdat julle deurgetrek het, soos wat die HERE julle God gedoen het met die Rietsee wat Hy voor ons laat opdroog het, totdat ons deurgetrek het, sodat al die volke van die aarde mag weet dat die hand van die HERE sterk is, en sodat julle altyd vir die HERE julle God ontsag sal hê.”