Joël 2:12-32

Joël 2:12-32 AFR20

“Maar selfs nou, keer terug na My met julle hele hart, vas en huil en rou,” is die uitspraak van die HERE. Skeur julle harte, en nie julle klere nie, draai om na die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring. Wie weet, dalk draai Hy om, het berou, en laat 'n seëning agter Hom oorbly – 'n •graanoffer en 'n •drankoffer vir die HERE julle God. Blaas die ramshoring op Sion, bepaal 'n heilige vastyd, roep 'n gewyde byeenkoms uit. Roep die volk byeen, heilig die geloofsgemeenskap, versamel die oudstes, maak die kinders bymekaar, ook die suigelinge. Laat die bruidegom uit sy kamer kom, die bruid uit haar bruidskamer. Tussen die voorhof en die altaar moet die priesters huil, hulle wat in diens van die HERE staan. Hulle moet sê: “Spaar u volk, HERE, moet u erfdeel nie oorgee aan vernedering, sodat nasies met hulle spot nie. Waarom moet hulle onder die volke vra, ‘Waar is hulle God?’ ” Daarop het die HERE Hom vir sy land beywer, Hy was jammer vir sy volk. Die HERE het geantwoord, Hy het vir sy volk gesê: “Kyk, Ek stuur vir julle koring en •nuwe wyn en olie, sodat julle daarvan versadig kan word, Ek gee julle nie langer daaraan oor om deur die nasies verneder te word nie. Die vyand uit die noorde sal Ek uit julle midde verwyder, Ek sal hom na 'n dor en verlate land verdryf: sy voorhoede na die oostelike see, sy agterhoede na die westelike see. Sy stank sal opstyg, sy slegte reuk sal optrek, omdat hy groot dinge probeer doen het. “ Moenie bang wees nie, landerye, juig en wees bly, want die HERE doen groot dinge! Moenie bang wees nie, wilde diere, want die weiding van die woestyn word groen, ja, die bome dra hulle vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer hulle volle opbrengs. “Kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy gee vir julle reën as teken van geregtigheid, soos voorheen, sal Hy stortbuie en laatreëns vir julle laat uitsak. Dan sal die dorsvloere vol skoon graan wees, die kuipe sal oorloop van nuwe wyn en olie. “ Ek sal julle vergoed vir die jare toe die treksprinkane, die voetgangers, die kaalvreters en die ruspes alles opgevreet het, daardie groot leërmag van My wat Ek teen julle uitgestuur het. Dan sal julle oorgenoeg kan eet en versadig word, en julle sal die Naam van die HERE julle God loof, wat wonderlike dinge met julle laat gebeur het. My volk sal nooit weer in die skande kom nie. Dan sal julle weet dat Ek in julle midde is, Israel. Ek is die HERE julle God en niemand anders nie. My volk sal nooit weer in die skande kom nie.” “ Ná hierdie dinge sal Ek my Gees uitstort op alle mense. Dan sal julle seuns en julle dogters profeteer. Julle ou mense sal drome droom, en julle jong mense sal visioene sien. Selfs op die slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort. Ek sal tekens gee in die hemel en op aarde: bloed en vuur en kolomme rook. Die son sal verander word in donkerte, en die maan in bloed, voordat die groot en verskriklike dag van die HERE kom. Dan sal elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, ontkom; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontvlugting wees, soos die HERE gesê het. Net hulle wat deur die HERE geroep word, sal vry wees.”