JOËL 2:12-32

JOËL 2:12-32 Die Boodskap (DB)

Die Here sê: Verander julle manier van leef, nou dadelik! Draai terug na My toe. Hou op om te eet omdat julle huil en treur oor al julle sonde. Moenie julle klere skeur om te wys julle is jammer oor julle sondes nie. Julle berou moet uit julle binneste uit kom; julle manier van leef moet verander. Kom terug na die Here julle God toe. Hy is vol goedheid en Hy kry mense gou-gou jammer. Hy is nie haastig om te straf nie, Hy is vol liefde vir mense. Hy is bereid om sy straf terug te trek en mense te vergewe. Wie weet of die Here nie dalk van plan sal verander en sal ophou om vir julle kwaad te wees nie! Dalk gee Hy weer vir julle groot oeste. Dan kan julle weer vir die Here julle God offers van koring en wyn bring om Hom te eer. Blaas op trompette in Sion! Roep ’n vasdag uit waar almal sonder kos klaarkom om te wys hulle is regtig jammer oor hulle sonde. Roep die gemeente op vir ’n vergadering. Kry almal bymekaar. Maak hulle gereed vir ’n spesiale byeenkoms. Bring die oumense, die kinders en die babas. Selfs pasgetroude paartjies wat op wittebrood is, moet hierdie vergadering bywoon. Die priesters wat in diens van die Here is, moet tussen die ingang van die tempel en die altaar, daar waar die offers gebring word, gaan staan en huil. Hulle moet ernstig bid: “Here, kry u mense jammer. Moenie toelaat dat ander volke spot met ons wat aan U behoort en vermakerig vir ons vra: ‘Waar is Israel se God?’ nie.” Toe het die Here sy mense en sy land jammer gekry. Hy sê toe: Ek sal sorg dat julle binnekort te veel koring, wyn en olyfolie sal hê. Dan sal die ander nasies wat My nie ken nie, julle nie langer kan spot nie. Ek sal die sprinkane wat as julle vyand uit die noorde gekom het, van julle af wegjaag die woestyn in. Hulle voorpunt sal Ek in die Dooie See laat verdrink en hulle agterhoede in die Middellandse See. Hulle het te veel van hulleself gedink; daarom sal die slegte reuk van dooie liggame oral in die lug bly hang. Hou dadelik op om bang te wees, ploeglande. Wees baie bly en juig, want die Here het ’n groot wonderwerk gedoen. Ook julle, diere van die veld, hou dadelik op om bang te wees, want die weivelde is nou weer groen en daar is vrugte aan die bome. Die vyebome en die wingerde is oortrek van die vrugte. Wees bly, inwoners van Sion, juig tot eer van die Here julle God! Die reën wat van Hom af kom, is ’n teken dat Hy regtig vir julle omgee. Dit is Hy wat die winterreën laat kom het en die lentereën weer laat val het, presies soos voorheen. Daar sal hope koring langs die dorsvloer lê. Die wyn- en olyfperse sal oorloop van die wyn en olie. Ek sal opmaak vir dit wat julle verloor het toe Ek al daardie sprinkane gestuur het om julle oeste te verwoes. Julle sal weer genoeg hê om te eet. Dan sal julle die Naam van die Here julle God grootmaak en loof vir die wonderlike dinge wat Hy vir julle gedoen het. My volk sal nooit weer so verneder word nie. Dan, Israel, sal julle weet dat Ek regtig by julle is en dat net Ek, die Here, julle God is, niemand anders nie. My volk sal nooit weer so verneder word nie. Nadat al hierdie dinge gebeur het, sal Ek my Gees oor almal laat reën. Julle seuns en julle dogters sal my boodskap bekendmaak, presies net soos die profete dit gedoen het. Julle oumense sal drome droom wat van My af kom, en julle jongmense sal bonatuurlike visioene sien waarin Ek met hulle praat. In daardie tyd sal Ek selfs my Gees laat kom op mense wat glad nie belangrik is nie. Ek sal ook buitengewone tekens in die hemelruim en op die aarde laat gebeur. Op die aarde sal daar bloedvergieting, vuur en rookwolke wees. In die hemelruim sal die son en die maan pikdonker word. Dan sal die groot en vreeslike dag van die Here kom. Almal wat die Here ernstig smeek om hulle te help, sal op daardie dag gered word. Presies net soos die Here beloof het, sal Hy daar op die berg Sion en in Jerusalem ingryp om al sy mense te help. Almal wat deur die Here geroep is om aan Hom te behoort, sal definitief deel uitmaak van die mense wat gered word.

JOËL 2:12-32 Bybel vir almal (ABA)

Maar die Here sê daar is nog tyd. Hy sê: “Julle moet terugkom na My toe. Julle moet My altyd dien, julle moet net vir My dien.” Julle moet vas en huil en treur. Moenie net vir mense wys julle is jammer nie, wys dit vir die Here. Moenie net julle klere skeur nie, skeur julle harte. Julle moet terugkom na julle God die Here toe, want Hy is genadig en goed vir mense wat swaarkry. Hy is geduldig en vol liefde. Hy vergewe mense se sonde maklik. Miskien sal Hy julle sonde vergewe en julle weer seën. Dan sal daar weer koring-offers en drank-offers wees vir julle God die Here. Julle moet die ramshoring blaas op Sionsberg. Julle moet 'n dag aan die Here wy, en almal moet op daardie dag vas. Julle moet al die mense roep om bymekaar te kom. Julle moet die mense bymekaarmaak en die gemeente wy, julle moet al die mense bymekaarmaak, die mense wat oud is, die kinders en ook die babatjies wat nog aan hulle ma's drink. Die bruidegom en die bruid moet ook uitkom uit hulle slaapkamer. Die priesters moet dan tussen die tempel en die altaar staan en hulle moet huil. Die priesters, die mense wat vir die Here werk, moet dan bid en sê: “Here, U moet asseblief jammer wees vir u volk, ons behoort aan U. Die ander volke spot en lag vir ons. U moet hulle stop. Hulle sê: ‘Waar is daardie mense se God? Hoekom help Hy hulle nie?’ ” Die Here is baie lief vir sy land. Hy was jammer vir sy volk. Die Here het vir sy volk gesê: “Ek stuur vir julle al die koring en wyn en olyf-olie wat julle nodig het. Ek sal julle help. Die ander volke sal julle nie weer spot nie. Die sprinkane het julle aangeval soos julle vyande wat altyd van die noorde kom. Maar Ek sal die sprinkane wegvat, ver weg van julle. Ek sal hulle wegjaag na 'n droë land. Niks kan daar lewe nie. Die sprinkane wat voor is, sal in die Dooie See val, en die sprinkane wat agter is, sal in die Middellandse See val. Hulle sal vrek en stink.” Die Here sal 'n wonderwerk doen. Die mense van die land moenie bang wees nie, hulle moet bly wees en juig, want die Here sal 'n wonderwerk doen. Die diere moenie bang wees nie, want die veld waar die diere wei, sal groen word. Die bome sal vrugte kry, daar sal baie vye en druiwe wees. En julle, mense van Jerusalem, julle moet juig, julle moet bly wees oor julle God die Here, want Hy gee vir julle reën op die regte tyd, Hy gee reën vroeg in die jaar en ook laat in die jaar, soos Hy voorheen gedoen het. Die dorsvloere sal vol koring wees, daar sal baie wyn en olyf-olie in die parskuipe wees. Die Here sê: “Ek het vier maal sprinkane na julle toe gestuur, die sprinkane was my soldate en hulle was baie. Maar nou sal dit weer goed gaan met julle. Julle sal baie kos hê, meer as wat julle kan eet. Julle sal die Naam van julle God die Here prys. Ek sal vir julle wonderwerke doen, en die ander volke sal my volk nooit weer spot nie. Julle sal weet dat Ek by die Israeliete is, Ek is julle God die Here, daar is nie 'n ander God nie. Die ander volke sal nooit weer my volk spot nie.” Die Here sê: “Wanneer dit alles gebeur het, dan sal Ek my Gees gee vir al die mense. Julle seuns en julle dogters sal profete wees. Die ou mense en die jong mense sal droom en sien wat later sal gebeur. Ek sal in daardie tyd my Gees ook vir slawe en slavinne gee. Ek sal vir die mense tekens wys. Daar sal bloed op die aarde wees, en vuur en rook in die lug. Die son sal donker word, en die maan sal rooi word. Dan sal die dag van die Here kom, die groot en verskriklike dag. Dan sal almal vry word wat die Here aanbid. Almal wat nog lewe, sal vry word in Jerusalem, op Sionsberg.”

JOËL 2:12-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy 'n seën sal agterlaat — 'n spysoffer en 'n drankoffer aan die HERE julle God. Blaas die basuin op Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam! Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek. Laat die priesters, die dienaars van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: o HERE, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God? TOE het die HERE geywer vir sy land en sy volk verskoon. En die HERE het geantwoord en aan sy volk gesê: Kyk, Ek stuur vir julle koring en mos en olie, sodat julle daarvan versadig word, en Ek maak julle nie meer tot 'n voorwerp van smaad onder die nasies nie. Ja, Ek sal die sprinkaanswerm, uit die noorde afkomstig, van julle af wegjaag en dit wegdrywe na 'n dor en woeste land; sy voorhoede na die Oostelike See en sy agterhoede na die Westelike See toe. En sy stank sal opstyg, en 'n slegte reuk uit hom opgaan; want hy het alte groot dinge gedoen. Wees nie bevrees nie, o aarde, juig en wees bly, want die HERE doen groot dinge! Wees nie bevrees nie, diere van die veld, want die weivelde van die woestyn spruit uit, want die bome dra hulle vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer hulle drag! En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen. Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop. En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het — my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het. Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie. En julle sal weet dat Ek in die midde van Israel is, en dat Ek die HERE julle God is, en niemand anders nie; en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie. En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet. En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom. En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep.

JOËL 2:12-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie; of Hy nie weer voorspoed sal gee nie sodat daar weer graan- en drankoffers sal wees vir die Here julle God! Blaas die ramshoring in Sion, bepaal 'n dag om te vas, roep die gemeente bymekaar. Roep die volk op, reinig die gemeente, laat die leiers bymekaarkom, bring die kinders bymekaar, selfs dié wat nog drink. Die bruidegom moet uit sy kamer uitkom, die bruid uit haar wittebroodskamer. Die priesters wat in die diens van die Here staan, moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil, hulle moet sê: “Betoon medelye met u volk, Here, moenie die volk wat aan U behoort, tot 'n bespotting maak, sodat die nasies met hulle sal spot nie. Waarom moet daar onder die volke gevra word: Waar is Israel se God?” Die Here het vir sy land opgekom, Hy het medelye betoon met sy volk. Die Here het sy volk geantwoord: Ek stuur vir julle koring en wyn en olie. Julle sal oorgenoeg hê. Ek sal julle nie weer tot 'n bespotting onder die nasies maak nie. Hierdie vyand uit die noorde sal Ek wegvat van julle af, Ek sal hom wegjaag na 'n droë en verwoeste land toe, sy voorpunt sal in die Dooie See beland en sy agterhoede in die Middellandse See. Sy stank sal opstyg, sy slegte reuk sal versprei, want hy het hom groot gehou. Jy moenie bang wees nie, ploegland, jy moet bly wees en juig, want die Here het 'n wonder gedoen. Julle moenie bang wees nie, vee in die veld, want die weiveld word groen, die bome dra vrugte, die vyebome en die wingerd staan in volle drag. Inwoners van Sion, julle moet bly wees en juig tot eer van die Here julle God, want Hy het die reëns betyds laat kom, Hy het die vroeë en die laat reën soos voorheen gegee. Die dorsvloer lê vol koring, die parskuipe loop oor van wyn en olie. Ek sal julle vergoed vir die tyd van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm toe my groot leër wat Ek teen julle gestuur het, julle verteer het. Julle sal oorgenoeg hê om te eet, julle sal die Naam van die Here julle God prys, Hy wat wonders vir julle gedoen het. My volk sal nooit weer in die skande kom nie. Dan sal julle besef dat Ek by Israel is, dat Ek die Here julle God is, dat daar buiten My nie 'n ander is nie. My volk sal nooit weer in die skande kom nie. Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien. In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie. Ek sal tekens gee, in die hemel en op die aarde: bloed, vuur en rookwolke. Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Op Sionsberg en in Jerusalem sal daar uitkoms wees. So het die Here beloof. Dié wat deur die Here geroep is, is by dié wat gered is.

JOËL 2:12-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Maar selfs nou, keer terug na My met julle hele hart, vas en huil en rou,” is die uitspraak van die HERE. Skeur julle harte, en nie julle klere nie, draai om na die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring. Wie weet, dalk draai Hy om, het berou, en laat 'n seëning agter Hom oorbly – 'n •graanoffer en 'n •drankoffer vir die HERE julle God. Blaas die ramshoring op Sion, bepaal 'n heilige vastyd, roep 'n gewyde byeenkoms uit. Roep die volk byeen, heilig die geloofsgemeenskap, versamel die oudstes, maak die kinders bymekaar, ook die suigelinge. Laat die bruidegom uit sy kamer kom, die bruid uit haar bruidskamer. Tussen die voorhof en die altaar moet die priesters huil, hulle wat in diens van die HERE staan. Hulle moet sê: “Spaar u volk, HERE, moet u erfdeel nie oorgee aan vernedering, sodat nasies met hulle spot nie. Waarom moet hulle onder die volke vra, ‘Waar is hulle God?’ ” Daarop het die HERE Hom vir sy land beywer, Hy was jammer vir sy volk. Die HERE het geantwoord, Hy het vir sy volk gesê: “Kyk, Ek stuur vir julle koring en •nuwe wyn en olie, sodat julle daarvan versadig kan word, Ek gee julle nie langer daaraan oor om deur die nasies verneder te word nie. Die vyand uit die noorde sal Ek uit julle midde verwyder, Ek sal hom na 'n dor en verlate land verdryf: sy voorhoede na die oostelike see, sy agterhoede na die westelike see. Sy stank sal opstyg, sy slegte reuk sal optrek, omdat hy groot dinge probeer doen het. “ Moenie bang wees nie, landerye, juig en wees bly, want die HERE doen groot dinge! Moenie bang wees nie, wilde diere, want die weiding van die woestyn word groen, ja, die bome dra hulle vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer hulle volle opbrengs. “Kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy gee vir julle reën as teken van geregtigheid, soos voorheen, sal Hy stortbuie en laatreëns vir julle laat uitsak. Dan sal die dorsvloere vol skoon graan wees, die kuipe sal oorloop van nuwe wyn en olie. “ Ek sal julle vergoed vir die jare toe die treksprinkane, die voetgangers, die kaalvreters en die ruspes alles opgevreet het, daardie groot leërmag van My wat Ek teen julle uitgestuur het. Dan sal julle oorgenoeg kan eet en versadig word, en julle sal die Naam van die HERE julle God loof, wat wonderlike dinge met julle laat gebeur het. My volk sal nooit weer in die skande kom nie. Dan sal julle weet dat Ek in julle midde is, Israel. Ek is die HERE julle God en niemand anders nie. My volk sal nooit weer in die skande kom nie.” “ Ná hierdie dinge sal Ek my Gees uitstort op alle mense. Dan sal julle seuns en julle dogters profeteer. Julle ou mense sal drome droom, en julle jong mense sal visioene sien. Selfs op die slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort. Ek sal tekens gee in die hemel en op aarde: bloed en vuur en kolomme rook. Die son sal verander word in donkerte, en die maan in bloed, voordat die groot en verskriklike dag van die HERE kom. Dan sal elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, ontkom; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontvlugting wees, soos die HERE gesê het. Net hulle wat deur die HERE geroep word, sal vry wees.”

JOËL 2:12-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daarom ook nou, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart en met vas en geween en rou. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God, want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot goedertierenheid, en Hy het berou oor die onheil. Wie weet of hy sal terugkeer en berou sal hê en 'n seën agter hom laat; 'n spysoffer en 'n drankoffer aan die HERE jou God? Blaas die basuin in Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n plegtige byeenkoms. Versamel die volk, heilig die vergadering, laat die oudstes bymekaarkom, versamel die kinders en dié wat die borste suig; laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar kleedkamer. Laat die priesters, die dienaars van die HERE, ween tussen die voorportaal en die altaar, en laat hulle sê: Spaar u volk, HERE, en gee u erfdeel nie aan smaad nie, dat die heidene oor hulle sou heers nie; waarom moet hulle sê onder die volk: Waar is hulle God? Dan sal die HERE jaloers wees oor sy land en Hom oor sy volk ontferm. Ja, die HERE sal antwoord en aan sy volk sê: Kyk, Ek stuur vir julle koring en wyn en olie, en julle sal daarmee versadig word; en Ek sal julle nie meer 'n smaad maak onder die nasies nie. Maar Ek sal die noordelike leër ver van jou verwyder en hom verdryf in 'n onvrugbare en woeste land, met sy aangesig na die Oossee en sy agterste deel na die uiterste see, en sy stank sal opkom en sy siek geur sal opkom, want hy het groot dinge gedoen. Wees nie bevrees nie, o land; wees bly en juig, want die HERE sal groot dinge doen. Wees nie bevrees nie, diere van die veld, want die weivelde van die woestyn spruit uit, want die boom dra sy vrugte, die vyeboom en die wingerdstok gee hulle krag. Wees dan bly, kinders van Sion, en jubel in die HERE julle God, want Hy het die vorige reëns matig gegee, en Hy sal vir julle die reën laat neerdaal, die vorige reëns en die laat reëns in die eerste maand. En die vloere sal vol koring wees, en die vette sal oorloop van wyn en olie. En Ek sal jou die jare teruggee wat die sprinkaan geëet het, die kankerwurm en die ruspes en die palmwurm, my groot leër wat Ek onder julle gestuur het. En julle sal in oorvloed eet en versadig word en die Naam van die HERE julle God loof wat wonderbaarlik aan julle gehandel het; en my volk sal nooit beskaamd staan nie. En julle sal weet dat Ek in die midde van Israel is en dat Ek die HERE julle God is en niemand anders nie; en my volk sal nooit beskaamd staan nie. En daarna sal Ek my Gees op alle vlees uitgiet; en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense sal drome droom, julle jongmanne sal gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort. En Ek sal wonders aan die hemel en op die aarde doen, bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en vreeslike dag van die HERE kom. En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal verlossing wees, soos die HERE gespreek het, en in die oorblyfsel wat die HERE sal roep.

JOËL 2:12-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar nou sê die HERE: “Draai met volle oorgawe terug na My toe! Vas, huil en treur! Moenie julle klere skeur omdat julle hartseer is nie, skeur julle harte!” Draai terug na die HERE julle God toe, want Hy is genadig en vol meegevoel. Hy word nie maklik kwaad nie. Hy is baie liefdevol en wil julle nie graag straf nie. Wie weet, miskien besluit Hy anders en is Hy julle genadig. Dalk gee Hy vir julle voorspoed in plaas van hierdie verskriklike oordeel. Miskien maak Hy dit vir julle moontlik dat julle weer soos voorheen graan en wyn vir die HERE julle God kan offer! Blaas op die trompet in Jerusalem! Kondig ’n tyd van vas aan. Roep die gemeente op om saam te kom. Bring die volk byeen en wy die vergadering toe aan die HERE. Bring die leiers, die kinders en selfs die babas bymekaar. Laat die bruidegom uit sy kamer kom en die bruid uit haar bruidskamer. Die priesters wat in diens is van die HERE moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil. Hulle moet bid: “HERE, spaar u volk! Hulle behoort aan U. Moenie toelaat dat ander met hulle die spot dryf nie. Moenie toelaat dat nasies slagspreuke oor hulle maak nie. Waarom moet die volke onder mekaar sê: ‘Waar is die God van Israel?’” Dan sal die HERE wys dat Hy omgee vir sy land en Hy sal sy volk jammer kry. Hy sal hulle antwoord en sê: “Kyk, Ek stuur vir julle koring, wyn en olyfolie. Dit sal aan julle behoeftes voldoen. Julle sal nie langer ’n voorwerp van spot onder die nasies wees nie. Ek sal hierdie leërs uit die noorde verwyder en hulle ver weg stuur. Ek sal hulle verdryf na ’n droë en onherbergsame land toe. Dié op die voorhoede sal in die Dooie See beland, en dié op die agterhoede in die Middellandse See. Die stank van hulle lyke sal oor die land versprei.” Die HERE het inderdaad groot dinge gedoen! Julle moenie bang wees nie, my volk! Wees bly en verheug julle, want die HERE het groot dinge gedoen! Moenie bang wees nie, diere van die veld! Binnekort sal die weiding groen wees. Die bome sal weer vol vrugte wees. Die vyebome en wingerde sal weer volop vrugte dra. Wees bly, inwoners van Jerusalem! Juig oor die HERE julle God! Die reën wat Hy stuur, is ’n bewys van sy genade. Die herfsreëns en die lentereëns sal weer oorvloedig wees soos voorheen. Daar sal weer hope koring op die dorsvloere wees. Die parskuipe sal oorloop van wyn en olyfolie. Die HERE sê: “Ek sal herstel wat julle deur die stropersprinkane, die snysprinkane, die swermsprinkane en die jong sprinkane verloor het. Ek het hierdie groot, vernietigende leër teen julle gestuur. “Julle sal weer al die kos kry wat julle begeer. Julle sal die HERE julle God loof wat hierdie wonders vir julle moontlik maak. My volk sal nooit weer so in die skande kom nie. Julle sal weet dat Ek onder my volk Israel teenwoordig is. Net Ek is die HERE julle God, niemand anders nie! My volk sal nooit weer so in die skande kom nie.” HERE “Daarna sal Ek my Gees op alle mense uitstort. Julle seuns en julle dogters sal profeteer. Julle oumense sal drome droom. Julle jongmense sal visioene sien. In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort. “Ek sal wonders in die hemel en op die aarde laat plaasvind: bloed, vuur en rookkolomme. Die son sal donker word en die maan bloedrooi. Dit sal gebeur voor die groot en verskriklike dag van die HERE aanbreek. “Enige persoon wat tot die HERE bid, sal gered word. Die mense wat ontsnap, sal op die Sionsberg en in Jerusalem wees, net soos die HERE gesê het. Hulle sal tussen die oorlewendes wees wat die HERE geroep het.”

JOËL 2:12-32

JOËL 2:12-32 AFR83JOËL 2:12-32 AFR83JOËL 2:12-32 AFR83