JOËL 2:12-32

JOËL 2:12-32 AFR83

Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie; of Hy nie weer voorspoed sal gee nie sodat daar weer graan- en drankoffers sal wees vir die Here julle God! Blaas die ramshoring in Sion, bepaal 'n dag om te vas, roep die gemeente bymekaar. Roep die volk op, reinig die gemeente, laat die leiers bymekaarkom, bring die kinders bymekaar, selfs dié wat nog drink. Die bruidegom moet uit sy kamer uitkom, die bruid uit haar wittebroodskamer. Die priesters wat in die diens van die Here staan, moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil, hulle moet sê: “Betoon medelye met u volk, Here, moenie die volk wat aan U behoort, tot 'n bespotting maak, sodat die nasies met hulle sal spot nie. Waarom moet daar onder die volke gevra word: Waar is Israel se God?” Die Here het vir sy land opgekom, Hy het medelye betoon met sy volk. Die Here het sy volk geantwoord: Ek stuur vir julle koring en wyn en olie. Julle sal oorgenoeg hê. Ek sal julle nie weer tot 'n bespotting onder die nasies maak nie. Hierdie vyand uit die noorde sal Ek wegvat van julle af, Ek sal hom wegjaag na 'n droë en verwoeste land toe, sy voorpunt sal in die Dooie See beland en sy agterhoede in die Middellandse See. Sy stank sal opstyg, sy slegte reuk sal versprei, want hy het hom groot gehou. Jy moenie bang wees nie, ploegland, jy moet bly wees en juig, want die Here het 'n wonder gedoen. Julle moenie bang wees nie, vee in die veld, want die weiveld word groen, die bome dra vrugte, die vyebome en die wingerd staan in volle drag. Inwoners van Sion, julle moet bly wees en juig tot eer van die Here julle God, want Hy het die reëns betyds laat kom, Hy het die vroeë en die laat reën soos voorheen gegee. Die dorsvloer lê vol koring, die parskuipe loop oor van wyn en olie. Ek sal julle vergoed vir die tyd van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm toe my groot leër wat Ek teen julle gestuur het, julle verteer het. Julle sal oorgenoeg hê om te eet, julle sal die Naam van die Here julle God prys, Hy wat wonders vir julle gedoen het. My volk sal nooit weer in die skande kom nie. Dan sal julle besef dat Ek by Israel is, dat Ek die Here julle God is, dat daar buiten My nie 'n ander is nie. My volk sal nooit weer in die skande kom nie. Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien. In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie. Ek sal tekens gee, in die hemel en op die aarde: bloed, vuur en rookwolke. Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Op Sionsberg en in Jerusalem sal daar uitkoms wees. So het die Here beloof. Dié wat deur die Here geroep is, is by dié wat gered is.