Maar baie uit die skare het in Hom begin glo en gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?” Die •Fariseërs het gehoor dat die skare hierdie dinge onderlangs oor Hom fluister, en hulle en die leierpriesters het die tempelwag gestuur om Hom te arresteer. Daarop het Jesus gesê: “Nog net 'n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie vind nie, en waar Ek is, kan julle nie kom nie. ” Toe het die Jode onder mekaar gesê: “Waarheen is hy van plan om te gaan dat ons hom nie sal vind nie? Hy is tog nie van plan om na die Diaspora onder die Grieke te gaan en die Grieke te leer nie? Wat beteken hierdie uitspraak wat hy gemaak het, ‘Julle sal My soek en My nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie?’ ” En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gaan staan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ ” Dit het Hy van die Gees gesê wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Sommige uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het toe gesê: “Hy is waarlik die Profeet.” Ander het gesê: “Hy is die Christus.” Nog ander het gesê: “Die Christus kom tog nie uit Galilea nie? Het die Skrif nie gesê die Christus is uit die nageslag van Dawid en kom uit Betlehem, die tuisdorp van Dawid nie?” Daar het toe oor Hom verdeeldheid onder die skare gekom. En sommige van hulle wou Hom arresteer, maar niemand het 'n hand op Hom gelê nie. Toe het die tempelwag teruggegaan na die leierpriesters en •Fariseërs, en dié het vir hulle gevra: “Waarom het julle hom nie gebring nie?” Die tempelwag het geantwoord: “Nog nooit het 'n mens só gepraat nie.” Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie? Nie een van die leierpriesters of van die Fariseërs het tog in hom geglo nie? Maar hierdie spul wat die wet nie ken nie, vervloek is hulle!” Nikodemus, die een wat voorheen na Hom gekom het, en een uit hulle geledere, sê toe vir hulle: “Ons wet oordeel tog nie 'n persoon tensy hy eers aangehoor is en daar verneem is wat hy doen nie?” Hulle het hom geantwoord: “Jy is tog nie ook uit Galilea nie? Gaan dit maar na, jy sal sien: Geen profeet is afkomstig uit Galilea nie! ” Elkeen het na sy eie huis teruggekeer
Lees Johannes 7
Deel
Vergelyk alle weergawes: Johannes 7:31-53
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's