JOHANNES 7:31-53

JOHANNES 7:31-53 NLV

Baie mense uit die skare het in Hom begin glo en ge-sê: “Wanneer die Messias ook al kom, sal Hy sekerlik nie méér wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie.” Die Fariseërs het gehoor dat die skare so oor Hom bespiegel. Hulle en die priesterhoofde het toe wagte gestuur om Hom te arresteer. Jesus het egter reageer: “Ek is net vir ’n kort tydjie nog by julle; dan gaan Ek terug na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie kry nie, en waar Ek My dan bevind, kan julle nie kom nie.” Toe het die Joodse leiers vir mekaar gesê: “Waarheen beplan hierdie man om te gaan dat ons hom nie sou kry nie? Hy beplan tog nie om na die verstrooide Jode onder die Griekssprekendes te gaan en om daar die Grieke te gaan onderrig nie? Wat beteken die uitdrukking as hy sê: ‘Julle sal My soek, maar nie kry nie, want waar Ek My dan bevind, kan julle nie kom nie’?” Op die laaste dag, die groot dag van die Huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As jy dors is, kom dan na My toe en drink. Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’” Dit het Jesus gesê oor die Gees wat die mense wat in Hom glo, sou ontvang. Want die Gees was nog nie daar nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Die mense uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het opgemerk: “Hierdie man is regtig die Profeet.” Ander het gesê: “Hierdie man is die Messias.” En nog ander het gesê: “Die Messias kom tog nie uit Galilea nie? Het die Skrif dan nie gesê dat die Messias uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die tuisdorp van Dawid, sou kom nie?” Onder die skare het daar toe verdeeldheid oor Jesus gekom. Sommige van die mense het Hom selfs probeer arresteer, maar niemand het aan Hom geraak nie. Gevolglik het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan en dié het vir hulle gesê: “Waarom het julle hom nie saamgebring nie?” Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het ’n mens só gepraat soos hierdie man nie.” Die Fariseërs antwoord hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die geledere van die leiers of uit die Fariseërs miskien tot geloof in hom gekom? Nee, dit is net hierdie skare mense wat nie vertroud is met die wet nie; vervloek is hulle!” Nikodemus, wat Jesus vroeër opgesoek het, een uit hulle kring, sê toe vir hulle: “Ons wet veroordeel nie ’n mens as ons nie eers na hom geluister het en agtergekom het wat hy doen nie.” Hulle het dadelik reageer: “Jy kom tog nie ook uit Galilea nie? Gaan doen navorsing en jy sal sien dat daar geen profeet uit Galilea na vore tree nie.” Elkeen het toe na sy huis toe gegaan.