JOHANNES 7:31-53

JOHANNES 7:31-53 Bybel vir almal (ABA)

Baie van die mense het in Hom geglo. Hulle het gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy dan meer wondertekens doen as hierdie man? Nee.” Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Jesus sê. Daarom het die priesterleiers en die Fariseërs wagte gestuur om Jesus te vang. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal nog 'n kort tydjie by julle wees. Dan gaan Ek terug na God toe wat My na die wêreld gestuur het. Julle sal My soek, maar julle sal My nie kry nie. Julle sal nie kan gaan waar Ek sal wees nie.” Toe het die Jode vir mekaar gesê: “Waarnatoe sal hy gaan waar ons hom nie sal kry nie? Gaan hy miskien by die Grieke woon en vir hulle leer? Wat beteken dit wanneer hy sê: ‘Julle sal My soek en My nie kry nie,’ en ‘Julle sal nie kan gaan waar Ek sal wees nie’?” Die laaste dag van die fees was die belangrikste dag. Op daardie dag het Jesus opgestaan en hard gesê: “As iemand dors is en hy wil lewe, dan kan hy na My toe kom en water kom drink wat die ewige lewe gee. Dit sal wees soos daar in die Ou Testament geskryf is: “ As iemand in My glo, dan sal die water soos fonteine uit hom vloei, die water wat die ewige lewe gee.” Toe Jesus dit gesê het, het Hy van die Heilige Gees gepraat. Almal wat in Jesus geglo het, het later die Heilige Gees ontvang. God het eers vir hulle gewys dat Jesus ook God is, daarna het hulle die Gees ontvang. Toe party van die mense hoor wat Jesus sê, sê hulle: “Hierdie man is regtig die Profeet.” Party mense het gesê: “Hy is die Christus.” Maar ander mense het gesê: “Nee, die Christus sal nie kom nie uit die provinsie Galilea nie. In die Ou Testament is geskryf dat die Messias van die nageslag van Dawid kom. Daar is ook geskryf dat die Messias van Betlehem kom, die dorpie waar Dawid gewoon het.” Toe het die mense gestry oor Jesus. Party van hulle wou Hom vang, maar niemand kon dit doen nie. Die wagte het teruggegaan na die priesterleiers en die Fariseërs. Die priesterleiers en die Fariseërs het vir die wagte gevra: “Hoekom het julle nie vir Jesus gebring nie?” Die wagte het gesê: “Ons het nog nooit iemand hoor praat wat soos Jesus gepraat het nie.” Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Jesus het vir julle ook gelieg, en julle het dit geglo. Glo een van die leiers of die Fariseërs in Jesus? Nee, niemand nie! Maar hierdie mense wat in Jesus glo, ken nie die Ou Testament nie. God sal hulle straf.” Nikodemus wat vroeër in die nag na Jesus toe gekom het, was een van die Fariseërs. Hy sê toe vir die Fariseërs en die priesterleiers: “Ons wette sê ons moet eers na iemand luister en ons moet presies weet wat hy gedoen het, dan kan ons hom oordeel.” Die Fariseërs sê toe vir Nikodemus: “Jy praat nou soos iemand wat uit die provinsie Galilea kom. Gaan lees in die Ou Testament en jy sal sien dat 'n profeet nooit uit die provinsie Galilea kom nie.” [ Al die mense het na hulle huise gegaan

JOHANNES 7:31-53 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Maar baie van die skare het in Hom geglo en gesê: Wanneer die Christus kom, sal Hy meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het? Die Fariseërs het gehoor dat die skare dit van Hom mompel, en die Fariseërs en die owerpriesters het dienaars gestuur om Hom gevange te neem. Toe sê Jesus vir hulle: Nog 'n klein tydjie is Ek by julle, en Ek gaan na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie. En die Jode sê onder mekaar: Waar wil Hy heengaan, dat ons Hom nie sal vind nie? Hy wil tog nie na die verstrooides onder die Grieke gaan en die Grieke leer nie? Wat beteken hierdie woord wat Hy gesê het: Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie? En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Baie van die skare het, toe hulle die woord hoor, gesê: Hy is waarlik die profeet. Ander het gesê: Hy is die Christus. En ander het gesê: Kom die Christus dan uit Galiléa? Het die Skrif nie gesê dat die Christus uit die geslag van Dawid kom en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was nie? Daar het toe verdeeldheid onder die skare gekom oor Hom. En sommige van hulle wou Hom gevange neem, maar niemand het die hand aan Hom geslaan nie. Die dienaars kom toe by die owerpriesters en die Fariseërs, en dié sê vir hulle: Waarom het julle Hom nie gebring nie? Die dienaars antwoord: Nooit het 'n mens so gespreek soos hierdie mens nie. En die Fariseërs antwoord hulle: Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek! Nikodémus — hy wat in die nag na Hom gegaan het, wat een van hulle was — sê vir hulle: Oordeel ons wet die mens sonder om hom eers te hoor en te weet wat hy doen? Hulle antwoord en sê vir hom: Jy is tog nie ook uit Galiléa nie? Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galiléa opgestaan het nie. En elkeen het huis toe gegaan.

JOHANNES 7:31-53 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar baie van die mense het tot geloof in Hom gekom en het gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?” Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Hom fluister, en hulle en die priesterhoofde het wagte gestuur om Hom gevange te neem. Jesus sê toe: “Nog net 'n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek terug na Hom toe wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie.” Toe sê die Jode vir mekaar: “Waarheen sou hy van plan wees om te gaan dat ons hom nie sal kry nie? Hy is tog nie van plan om na die Griekssprekende Jode in die buiteland te gaan en die Grieke daar te leer nie? Wat bedoel hy met die woorde: Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie?” Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ” Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie. Party van die mense wat hierdie woorde gehoor het, het gesê: “Hy is werklik die Profeet.” Party het gesê: “Hy is die Christus.” Maar party het gesê: “Die Christus kom tog nie uit Galilea nie? Die Skrif sê mos die Christus kom uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was.” Daar het toe verdeeldheid oor Hom onder die mense gekom. Party van hulle wou Hom gevange neem, maar niemand het dit gedoen nie. Daarna het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan, en dié het vir hulle gevra: “Waarom het julle hom nie gebring nie?” Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie.” Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Is julle tog nie ook mislei nie? Het een van die lede van die Joodse Raad miskien in hom geglo, of een van die Fariseërs? Nee, dit is net hierdie vervloekte klomp mense wat nie ons wet ken nie!” Nikodemus, wat voorheen na Jesus toe gekom het en wat een van hulle was, sê toe vir hulle: “Volgens ons wet kan ons mos nie sommer iemand veroordeel sonder om eers sy kant van die saak te hoor en vas te stel wat hy doen nie.” Hulle sê toe vir hom: “Jy kom tog nie ook van Galilea af nie? Ondersoek die Skrif en jy sal sien dat God niemand wat uit Galilea kom, as profeet roep nie.” Hierna is hulle elkeen na sy huis toe

JOHANNES 7:31-53 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Maar baie uit die skare het in Hom begin glo en gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?” Die •Fariseërs het gehoor dat die skare hierdie dinge onderlangs oor Hom fluister, en hulle en die leierpriesters het die tempelwag gestuur om Hom te arresteer. Daarop het Jesus gesê: “Nog net 'n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie vind nie, en waar Ek is, kan julle nie kom nie. ” Toe het die Jode onder mekaar gesê: “Waarheen is hy van plan om te gaan dat ons hom nie sal vind nie? Hy is tog nie van plan om na die Diaspora onder die Grieke te gaan en die Grieke te leer nie? Wat beteken hierdie uitspraak wat hy gemaak het, ‘Julle sal My soek en My nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie?’ ” En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gaan staan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ ” Dit het Hy van die Gees gesê wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Sommige uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het toe gesê: “Hy is waarlik die Profeet.” Ander het gesê: “Hy is die Christus.” Nog ander het gesê: “Die Christus kom tog nie uit Galilea nie? Het die Skrif nie gesê die Christus is uit die nageslag van Dawid en kom uit Betlehem, die tuisdorp van Dawid nie?” Daar het toe oor Hom verdeeldheid onder die skare gekom. En sommige van hulle wou Hom arresteer, maar niemand het 'n hand op Hom gelê nie. Toe het die tempelwag teruggegaan na die leierpriesters en •Fariseërs, en dié het vir hulle gevra: “Waarom het julle hom nie gebring nie?” Die tempelwag het geantwoord: “Nog nooit het 'n mens só gepraat nie.” Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie? Nie een van die leierpriesters of van die Fariseërs het tog in hom geglo nie? Maar hierdie spul wat die wet nie ken nie, vervloek is hulle!” Nikodemus, die een wat voorheen na Hom gekom het, en een uit hulle geledere, sê toe vir hulle: “Ons wet oordeel tog nie 'n persoon tensy hy eers aangehoor is en daar verneem is wat hy doen nie?” Hulle het hom geantwoord: “Jy is tog nie ook uit Galilea nie? Gaan dit maar na, jy sal sien: Geen profeet is afkomstig uit Galilea nie! ” Elkeen het na sy eie huis teruggekeer

JOHANNES 7:31-53 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En baie van die skare het in Hom geglo en gesê: Wanneer Christus kom, sal Hy meer wonderwerke doen as wat hierdie man gedoen het? Die Fariseërs het gehoor dat die volk sulke dinge oor Hom murmureer; en die Fariseërs en die owerpriesters het dienaars gestuur om Hom te neem. Toe sê Jesus vir hulle: Nog 'n klein rukkie is Ek by julle, en dan gaan Ek na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie vind nie; en waar Ek is, daar kan julle nie kom nie. Toe sê die Jode onder mekaar: Waarheen sal hy gaan, dat ons hom nie sal kry nie? sal hy na die verstrooides onder die heidene gaan en die heidene leer? Watter manier van sê is dit wat hy gesê het: Julle sal My soek en My nie vind nie; en waar Ek is, daarheen kan julle nie kom nie? Op die laaste dag, daardie groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink. Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy buik vloei. (Maar dit het Hy gespreek van die Gees, wat die wat in Hom glo, sou ontvang: want die Heilige Gees was nog nie gegee nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.) Baie van die volk het dan, toe hulle hierdie woord hoor, gesê: Dit is waarlik die profeet. Ander het gesê: Dit is die Christus. Maar sommige het gesê: Sal Christus uit Galilea kom? Sê die Skrif nie: Dat Christus uit die geslag van Dawid kom en uit die stad Betlehem waar Dawid was nie? Daar was dus verdeeldheid onder die volk oor hom. En sommige van hulle sou hom gevat het; maar niemand het hom die hande opgelê nie. Toe het die dienaars na die owerpriesters en Fariseërs gekom; en hulle sê vir hulle: Waarom het julle hom nie gebring nie? Die beamptes het geantwoord: Nooit het 'n mens soos hierdie man gepraat nie. Toe antwoord die Fariseërs vir hulle: Is julle ook mislei? Het enige van die owerstes of van die Fariseërs in Hom geglo? Maar hierdie volk wat die wet nie ken nie, is vervloek. Nikodemus sê vir hulle: Hy wat in die nag na Jesus gekom het, een van hulle, Veroordeel ons wet iemand voordat dit hom verhoor en weet wat hy doen? Hulle antwoord en sê vir Hom: Is jy ook van Galilea? Ondersoek en kyk, want uit Galilea het geen profeet opgestaan nie. En elkeen het na sy eie huis gegaan.

JOHANNES 7:31-53 Die Boodskap (DB)

Nie almal wou egter vir Jesus in die tronk gooi nie. Daar was baie mense wat in Hom geglo het. Vas oortuig het hulle gesê: “Kyk net watter wonderlike dinge het Hy al gedoen. Wat meer wil julle hê voordat julle oortuig sal wees dat Hy die Messias is?” Al het die mense dit probeer stil hou, het die Fariseërs dit tog te hore gekom. Dit het hulle laat besluit om nou iets aan die saak te doen. Hulle het die invloedryke priesters daarvan gaan vertel en toe die polisie gestuur om Jesus te gaan vang. Jesus het gesien wat aangaan. Hy sê toe: “Ek sal nie meer lank hier by julle wees nie. Dan gaan Ek weer terug na my Vader toe wat My gestuur het. Wanneer Ek teruggaan, sal dit ook nie help dat julle My soek nie. Julle sal My nie kry nie, al soek julle hoe hard. En weet julle hoekom nie? Waar Ek dan sal wees, sal julle nie kan kom nie.” Die Jode bespiegel toe onder mekaar hieroor: “Waarheen sou hy kon gaan dat ons hom nie sal kan kry nie? Is hy tog nie van plan om land uit te vlug en vir die klomp ongelowiges daar te gaan preek nie?” het hulle gewonder. Ja-nee, Jesus se woorde dat Hy na ’n plek toe gaan waar hulle Hom nie sal kan uitsnuffel nie, het die Jode aan die raai gehou. Die laaste dag van die fees was die hoogtepunt en almal was daar. Jesus sê toe hard en duidelik: “As jy geestelik dors is, kom na My toe. Ek sal jou dors les. Glo in My en in wat Ek sê. “Dan sal jy soos ’n fontein word waaruit daar vars water borrel, om ’n voorbeeld uit die Skrif te gebruik. Dit sal nie gewone water wees nie, maar ‘water’ wat ’n mens vir ewig sal laat leef.” (Met hierdie beeld het Jesus die koms van die Heilige Gees in gedagte gehad. Elke Christen sal die Gees ontvang en dan sal hierdie dinge van hom waar word. Maar die Gees was toe nog nie aan die gelowiges gegee nie. Dit sou eers gebeur nadat Jesus teruggegaan het na sy Vader in die hemel toe.) Van die mense wat dit gehoor het, was nou meer as ooit oortuig: “Sowaar, Hy moet die belangrike Boodskapper van God wees op wie ons gewag het!” “Julle mag so dink, maar ons dink Hy is die Redder self,” het ander hulle opinie gelug. Daar was ook ’n paar beterweters: “Ja, maar Hy kom uit Galilea. Ons almal weet tog dat die Redder nie uit Galilea sal kom nie. Die Bybel self sê vir ons dat die Redder ’n agteragterkleinseun van Dawid sal wees. Dawid kom mos uit Betlehem en dit is baie ver van Galilea af! Hoe verklaar julle dit?” So het die mense met mekaar gestaan en stry. Daar was ook weer sterk sprake dat party Jesus in die tronk wou gooi, maar niemand het die moed gehad om dit regtig te doen nie. Die polisie het Jesus net daar gelos. Hulle gaan rapporteer toe by die Fariseërs en die priesters, wat dadelik wou weet: “Waar’s hy?” Die polisie sê toe: “Het julle hom miskien al gehoor praat? Ons het nog nooit so iets gehoor nie; dit was uit ’n ander wêreld!” Die Fariseërs vlieg hulle toe in: “Is julle ook nou heeltemal deurmekaar? Weet julle ook nou nie meer wat die verskil tussen reg en verkeerd is nie? Maak oop julle oë! Sien julle miskien een enkele Joodse leier of Fariseër wat dink hierdie man praat die waarheid? Nou toe! Al mense wat Hy kan beïndruk, is net die dom klomp daar buite. G’n wonder nie, want hulle weet niks van God se wil af nie.” Nikodemus (wat daardie een aand met Jesus kom praat het) was ook ’n Fariseër. Hy sê toe: “Nie so haastig nie. Ons wet sê mos dat iemand eers skuldig is as hy skuldig bevind word. Laat ons die saak eers verder ondersoek.” “Ja-nee, so ’n opmerking kan ’n mens ook net verwag van iemand wat uit Galilea kom,” kap die ander terug. “Gaan lees jou Bybel mooi. Dan sal jy sien dat Galilea nie ’n plek is waar profete nou juis vandaan kom nie.” Daarna is almal huis toe.

JOHANNES 7:31-53 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Baie mense uit die skare het in Hom begin glo en ge-sê: “Wanneer die Messias ook al kom, sal Hy sekerlik nie méér wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie.” Die Fariseërs het gehoor dat die skare so oor Hom bespiegel. Hulle en die priesterhoofde het toe wagte gestuur om Hom te arresteer. Jesus het egter reageer: “Ek is net vir ’n kort tydjie nog by julle; dan gaan Ek terug na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie kry nie, en waar Ek My dan bevind, kan julle nie kom nie.” Toe het die Joodse leiers vir mekaar gesê: “Waarheen beplan hierdie man om te gaan dat ons hom nie sou kry nie? Hy beplan tog nie om na die verstrooide Jode onder die Griekssprekendes te gaan en om daar die Grieke te gaan onderrig nie? Wat beteken die uitdrukking as hy sê: ‘Julle sal My soek, maar nie kry nie, want waar Ek My dan bevind, kan julle nie kom nie’?” Op die laaste dag, die groot dag van die Huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As jy dors is, kom dan na My toe en drink. Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’” Dit het Jesus gesê oor die Gees wat die mense wat in Hom glo, sou ontvang. Want die Gees was nog nie daar nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Die mense uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het opgemerk: “Hierdie man is regtig die Profeet.” Ander het gesê: “Hierdie man is die Messias.” En nog ander het gesê: “Die Messias kom tog nie uit Galilea nie? Het die Skrif dan nie gesê dat die Messias uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die tuisdorp van Dawid, sou kom nie?” Onder die skare het daar toe verdeeldheid oor Jesus gekom. Sommige van die mense het Hom selfs probeer arresteer, maar niemand het aan Hom geraak nie. Gevolglik het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan en dié het vir hulle gesê: “Waarom het julle hom nie saamgebring nie?” Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het ’n mens só gepraat soos hierdie man nie.” Die Fariseërs antwoord hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die geledere van die leiers of uit die Fariseërs miskien tot geloof in hom gekom? Nee, dit is net hierdie skare mense wat nie vertroud is met die wet nie; vervloek is hulle!” Nikodemus, wat Jesus vroeër opgesoek het, een uit hulle kring, sê toe vir hulle: “Ons wet veroordeel nie ’n mens as ons nie eers na hom geluister het en agtergekom het wat hy doen nie.” Hulle het dadelik reageer: “Jy kom tog nie ook uit Galilea nie? Gaan doen navorsing en jy sal sien dat daar geen profeet uit Galilea na vore tree nie.” Elkeen het toe na sy huis toe gegaan.