Johannes 6:60-71

Johannes 6:60-71 AFR20

Baie van sy dissipels het, toe hulle dit hoor, gesê: “Hierdie woord is erg; wie kan daarna luister?” Maar Jesus, innerlik bewus daarvan dat sy dissipels hieroor mor, het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot? Wat dan as julle die •Seun van die Mens sou sien opvaar na waar Hy voorheen was? Dit is die Gees wat lewend maak; die vlees is van geen nut nie. Die woorde wat Ek tot julle gespreek het, is Gees en is lewe. Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie Hom sou verraai. Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê: Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie.” Hieroor het baie van sy dissipels teruggedraai en nie meer saam met Hom rondgegaan nie. Daarop het Jesus vir die twaalf gesê: “Julle wil tog seker nie ook weggaan nie?” Simon •Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het woorde van die ewige lewe. En ons glo en weet dat U die •Heilige van God is. ” Jesus het hulle geantwoord: “Het Ek nie julle twaalf uitgekies nie? En tog is een van julle die Duiwel!” Hy het Judas, die seun van Simon Iskariot, bedoel, want hy sou Hom uitlewer, hy wat een van die twaalf was.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid