JOHANNES 6:60-71

JOHANNES 6:60-71 Bybel vir almal (ABA)

Baie van Jesus se dissipels het gehoor wat Hy sê oor die brood uit die hemel. Hulle sê toe: “Die dinge wat Jesus sê, is baie moeilik om te verstaan. Ons wil dit nie hoor nie.” Niemand het dit vir Jesus gesê nie, maar Hy het geweet dat sy dissipels kla. Hy het vir hulle gevra: “Hou julle nie van die dinge wat Ek sê nie? Wat sal julle sê wanneer julle sien dat Ek, die Seun van die mens, teruggaan na die hemel waar Ek voorheen was? Dit is die Heilige Gees wat vir julle waarlik weer laat lewe. Julle kan dit nie self doen nie. Wanneer Ek met julle praat, dan kom die Gees na julle toe en Hy laat julle waarlik lewe. Maar party van julle glo nie in My nie.” Jesus het van die begin af geweet wie nie in Hom sal glo nie. Hy het ook van die begin af geweet wie Hom sal verraai. Jesus het ook vir hulle gesê: “Dit is hoekom Ek vir julle gesê het niemand kan self na My toe kom nie. Die Vader bring hom na My toe.” Hieroor het baie van Jesus se dissipels teruggegaan. Hulle wou nie langer saam met Jesus gaan nie. Toe vra Jesus vir die twaalf dissipels: “En julle, wil julle ook weggaan?” Simon Petrus het vir Jesus gesê: “Nee, Here, daar is niemand na wie toe ons kan gaan nie. Die dinge wat U sê, laat mense altyd lewe. Ons glo en weet dat U die Heilige is wat van God kom.” Jesus het vir hulle gesê: “Ek het twaalf van julle gekies om dissipels te wees, maar een van julle is 'n duiwel!” Jesus het gepraat van Judas, die seun van Simon Iskariot. Judas was een van Jesus se dissipels, maar hy het later vir Jesus verraai.

JOHANNES 6:60-71 Die Boodskap (DB)

Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se volgelinge onder mekaar gepraat: “Het julle dit gehoor? ’n Mens praat mos nie so nie! Wie kan daarna luister?” Hulle kon hierdie gebrom nie vir Jesus wegsteek nie. Hy sê toe vir hulle: “Voel julle dit is te erg? Hoe gaan julle voel as julle My sien teruggaan hemel toe waar Ek oorspronklik vandaan kom? Dit moet so wees. Wanneer Ek teruggaan, kom gee die Gees vir mense die ewige lewe. ’n Mens kan dit tog nie doen nie. Ek is egter ’n uitsondering. Die Gees werk nou reeds deur my woorde en daarom kan julle die ewige lewe kry as julle luister na wat Ek vir julle sê. Maar daar is ’n klomp van julle wat dit ongelukkig nie wil glo nie.” (Jesus het van die begin af geweet watter mense glo en watter nie. Hy het ook geweet dat Judas teen Hom sou draai.) Teen hierdie agtergrond sê Hy toe: “Nou verstaan julle miskien ook waarom Ek sê dat niemand ’n Christen kan word as die Vader dit nie vir hom moontlik maak nie.” Na dié gesprek het baie van Jesus se volgelinge nie meer in Hom belanggestel nie. Hulle het omgedraai en toe op die ou manier met hulle lewe aangegaan. Jesus vra toe vir sy twaalf getrouste volgelinge: “En julle? Het julle nie ook lus om alles maar op te gee en ook weg te gaan nie?” Simon Petrus antwoord: “Here, na wie anders sal ons gaan? Daar is niemand soos U nie! U vertel dan vir ons hoe om die ewige lewe te kry. Ons weet tog dat God U spesiaal uitgesonder het om dit te doen. Daarvan is ons doodseker.” Jesus sê toe: “Jy praat so. Een van julle wat hier staan, is ’n duiwel, al het Ek hom self gevra om my volgeling te word.” (Jesus het van Judas, uit die familie van Simon Iskariot, gepraat. Hy was een van Jesus se twaalf intiemste volgelinge. Hy sou Jesus egter later verraderlik aan sy vyande uitlewer.)

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid