JOHANNES 6:60-71

JOHANNES 6:60-71 NLV

Toe baie van Jesus se dissipels dit hoor, het hulle gesê: “Hierdie boodskap is te kras, wie kan daarna luister?” Jesus het besef dat sy dissipels hieroor mor en Hy het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot? Wat dan as julle vir My, die Seun van die Mens, sien opvaar na waar Ek vroeër was? Dit is die Gees wat lewend maak; die liggaam baat jou niks. Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe. En tog is daar sommige onder julle wat nie glo nie.” (Jesus het van die heel begin af geweet wie dit is wat nie glo nie en wie dit is wat Hom gaan verraai.) Daarop het Hy gesê: “Daarom het Ek aan julle gesê dat niemand in staat is om na My toe te kom as dit nie aan so ’n persoon gegun word deur die Vader nie.” Hieroor het baie van Jesus se dissipels teruggegaan na hulle vroeëre lewe en nie meer saam met Hom die pad geloop nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: “Wil júlle nie ook weggaan nie?” Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. Ons is daarvan oortuig en weet dat U die Heilige van God is.” Jesus het daarop teenoor hulle reageer: “Het Ek dan nie self julle twaalf uitgesoek nie? Maar een van julle is ’n duiwel!” Jesus het gepraat van Judas, die seun van Simon Iskariot, want hy sou Hom uitlewer, hy wat een van die twaalf was.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid