Johannes 2:1-12

Johannes 2:1-12 AFR20

Op die derde dag was daar 'n •bruilofsfees by Kana in Galilea, en Jesus se moeder was daar. Ook Jesus en sy dissipels is na die bruilofsfees genooi. Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” Maar Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom pla u My? My uur het nog nie aangebreek nie. ” Sy moeder sê vir die dienaars: “Doen wat Hy ook al vir julle sê.” Daar het, ooreenkomstig die reinigingsgebruike van die Jode, ses klipkanne gestaan wat elk tussen twee en drie metretes kon hou. Jesus sê toe vir hulle: “Maak die kanne vol water.” En hulle het dit tot bo toe volgemaak. Daarop sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en neem dit vir die hoofkelner.” Hulle het dit toe geneem. Toe die hoofkelner die water proe wat wyn geword het – hy het nie geweet waar dit vandaan kom nie, hoewel die dienaars wat die water uitgeskep het, geweet het – roep hy die bruidegom en sê vir hom: “'n Mens sit eers die goeie wyn voor, en eers wanneer hulle begin dronk word, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou teruggehou.” Dit het Jesus by Kana in Galilea gedoen, die begin van sy tekens. Hy het sy heerlikheid geopenbaar en sy dissipels het in Hom geglo. Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum afgegaan, maar nie baie lank daar gebly nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid