JOHANNES 2:1-12

JOHANNES 2:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana, in die Galilea-gebied. Jesus se ma het dit bygewoon en Hy en sy dissipels was ook na die bruilof toe genooi. Toe die wyn opraak, sê Jesus se ma vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” Jesus se reaksie was: “Wat het dit met My en jou te doen, Vrou? My tyd het nog nie gekom nie.” Sy ma sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle gaan doen.” Daar het ses klipkanne gestaan met water wat die Jode vir hulle rituele reiniging gebruik het. Elkeen het ongeveer 100 liter gehou. Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water!” Hulle het dit tot heel bo vol gemaak. Toe sê Jesus ook nog vir hulle: “Skep nou daarvan uit en vat dit vir die seremoniemeester.” Hulle het dit gedoen. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom. (Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water geskep het, het wel geweet.) Die seremoniemeester sê toe vir die bruidegom: “Elke gasheer sit volgens gebruik eers die goeie wyn voor, en wanneer die gaste nie meer so goed kan onderskei nie, die swakker gehalte; jy het egter die goeie wyn tot nou toe teruggehou.” Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana, in Galilea, gedoen. Hy het sy Goddelike heerlikheid op só ’n manier sigbaar gemaak, en sy dissipels het in Hom begin glo. Hierna het Jesus, sy ma, broers en dissipels na Kapernaum toe vertrek waar hulle vir ’n kort tyd gebly het.

JOHANNES 2:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Twee dae later was daar 'n troue. 'n Man en 'n vrou het getrou in die stad Kana in Galilea. Jesus se ma was ook daar. Die mense het vir Jesus en sy dissipels ook genooi na die troue. Toe die wyn op was, het Jesus se ma vir Hom gesê: “Die wyn is op.” Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, hoekom sê jy dit vir My? Dit is nog nie my tyd nie.” Jesus se ma sê toe vir die kelners: “Julle moet doen wat Jesus vir julle sê.” Daar was ses watervate van klip. Die Jode het die water in die vate gebruik om hulle te reinig. Daar was 90 tot 100 liter water in elke klipvat. Jesus het vir die kelners gesê: “Maak die vate vol water!” Hulle het die vate heeltemal volgemaak. Toe sê Jesus vir hulle: “Skep nou van die water en gee dit vir die hoofkelner!” Hulle het die water vir die hoofkelner gegee. Die hoofkelner het geproe dat die water wyn geword het. Hy het nie geweet van waar die wyn kom nie, maar die kelners wat die water geskep het, het geweet. Die hoofkelner het die bruidegom geroep en vir hom gesê: “'n Mens moet eers die goeie wyn vir jou gaste gee. Later, wanneer die mense baie gedrink het, gee 'n mens die wyn wat nie so goed is nie. Maar jy het die beste wyn gebêre tot nou toe!” Dit was die eerste wonderteken wat Jesus gedoen het. Hy het dit in die stad Kana in Galilea gedoen. So het Jesus vir die mense gewys dat Hy ook God is, en daarom het sy dissipels in Hom geglo. Daarna het Jesus, sy ma, sy broers en sy dissipels na die stad Kapernaum gegaan, maar hulle het nie lank daar gebly nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid