Johannes 1:29-39

Johannes 1:29-39 AFR20

Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Hy is die Een van wie ek gesê het, ‘Ná my kom 'n Man wat belangriker as ek is, omdat Hy voor my was.’ Ook ek het Hom nie geken nie, maar juis daarom het ek gekom en doop ek met water, sodat Hy aan Israel bekend gemaak kan word.” En Johannes het getuig: “Ek het die Gees uit die hemel sien neerdaal soos 'n duif, en Hy het op Hom gebly. Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die •Seun van God.’ ” Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan. Toe Jesus verbyloop, het hy stip na Jesus gekyk en gesê: “Kyk, die Lam van God!” Die twee dissipels het hom dit hoor sê, en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omdraai en hulle Hom sien volg, vra Hy hulle: “Wat wil julle hê?” En hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – wat, as dit vertaal word, beteken, ‘Meester’, “waar bly U?” Hy sê toe vir hulle: “Kom kyk!” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuisgaan, en hulle het dié dag by Hom gebly. Dit was omstreeks die tiende uur.