JOHANNES 1:29-39

JOHANNES 1:29-39 Bybel vir almal (ABA)

Die volgende dag het Johannes gesien Jesus kom na hom toe. Johannes sê toe hard: “Kyk, daar is die Lam wat God vir ons gee! Hy sal die sonde van die wêreld wegneem. Ek het van Hóm gepraat toe ek gesê het: ‘Ek het gekom, en ná my sal 'n Man kom. Hy is belangriker as ek, want Hy was daar lank voor my.’ Ek het Hom nie geken nie, maar ek het gekom om die mense van Israel met water te doop sodat hulle sal weet wie Hy is.” Johannes het ook gesê: “Ek het gesien die Heilige Gees kom soos 'n duif uit die hemel en bly op Hom. Ek het Hom nie geken nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Jy sal sien die Gees kom af en bly op Hom. Dit is Hy wat die mense met die Heilige Gees sal doop.’ Ek het dit self gesien. Daarom sê ek vir julle: Hierdie Man is die Seun van God.” Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan. Johannes het gesien Jesus loop verby. Johannes het hard gesê: “Kyk, daar is die Lam wat God vir ons gee!” Die twee dissipels het gehoor wat Johannes gesê het. Daarom het hulle begin om Jesus te volg. Jesus het omgedraai en Hy het gesien hulle volg Hom. Hy vra toe vir hulle: “Wat soek julle?” Hulle het geantwoord: “ Rabbi, waar woon U?” 'n Rabbi is iemand wat vir mense leer hoe om God te dien. Jesus sê toe vir hulle: “Kom kyk!” Hulle het gegaan en hulle het die plek gesien waar Hy woon. Dit was omtrent vier-uur die middag. Hulle het daardie hele dag by Jesus gebly.

JOHANNES 1:29-39 Die Boodskap (DB)

Die volgende dag het dit toe gebeur. Jesus het na Johannes toe gekom. “Kyk mooi! Daar is die Offerlam van God!” het Johannes uitgeroep. “Hy gaan die mag van die sonde in die wêreld finaal breek. Dit is van Hom wat ek gepraat het. Ek het mos gesê dat daar Iemand ná my gaan kom, maar dat Hy baie belangriker is as ek. Immers, voor ek nog gebore was, was Hy al daar. Julle het gevra hoekom ek doop. Wel, ek self het nie eens mooi geweet wie Hy presies is nie. Daarom doop ek met water, want so sal God se mense Hom kan herken.” Dit is nie al wat Johannes te sê gehad het nie, maar hy het met oortuiging die volgende vertel: “Die Gees het voor my oë soos ’n duif uit die hemel afgekom en op Jesus neergesak en op Hom gebly. Wel, soos ek gesê het, ek self het nie eens geweet wie hierdie belangrike Persoon sou wees nie. God wat my gestuur het om met water te doop, het egter vir my gesê: ‘Dit is jou teken: die Gees sal voor jou oë neersak op die Een wat mense met die Heilige Gees gaan doop.’ Presies so het dit gebeur. Daarom sal ek voor enige hof getuig: hierdie man, ja Hy, is die Seun van God!” Die volgende dag was Johannes weer op sy pos. Twee van sy volgelinge was saam met hom daar. Jesus stap toe daar verby. Johannes het Hom gesien en gesê: “Kyk mooi! Hy is die Offerlam van God!” Die twee volgelinge van Johannes het hom dit hoor sê en is agter Jesus aan. Jesus kyk toe om.“Wie soek julle?” vra Hy vir hulle. “Rabbi, waar bly U?” vra hulle. (Terloops, “rabbi” beteken “onderwyser”.) “Kom saam en kom kyk,” nooi Jesus hulle toe uit. So het dit gekom dat hulle saam is om te gaan kyk waar Hy bly. Dit was egter al laatmiddag en die son het begin water trek, met die gevolg dat die twee kuiergaste toe sommer die nag daar oorgebly het.

JOHANNES 1:29-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die volgende dag sien Johannes dat Jesus na hom toe aangestap kom. Hy sê toe: “Kyk, dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Dit is Hý van wie ek gesê het: ‘Ná my kom Iemand wat voor my reeds bestaan het. Hy is baie belangriker as ek.’ Ek was self ook nie daarvan bewus dat dit Hy is nie. Daarom het ek gekom, en doop ek met water om Hom aan Israel voor te stel.” Johannes het ook nog verder getuig: “Ek het duidelik gesien dat die Gees soos ’n duif uit die hemel neerkom en op Hom gaan sit. Ek het regtig nie geweet dat dit Hy was nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien neerdaal en bly sit, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self sien afspeel voor my oë, en daarom getuig ek dat Hy werklik die Seun van God is.” Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, saam met twee van sy dissipels. Toe Jesus by hulle verbyloop, het Johannes betekenisvol na Hom gekyk en gesê: “Kyk, dáár is die Lam van God!” Sy twee dissipels het Johannes dit hoor sê en Jesus dadelik begin volg. Jesus het omgedraai en gesien hulle volg Hom. Hy sê toe vir hulle: “Wat soek julle?” Hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – as dit vertaal word, beteken dit “leermeester” – “waar gaan U tuis?” Hy antwoord hulle: “Kom kyk self en julle sal sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis was. Dit was omtrent vieruur die middag. Hulle het toe die res van daardie dag by Hom gebly.

JOHANNES 1:29-39

JOHANNES 1:29-39 AFR83