“In daardie tyd,” is die uitspraak van die HERE, “sal Ek 'n God wees vir al die familiegroepe van Israel, en hulle sal vir My 'n volk wees.”
So sê die HERE:
“Die volk wat aan die swaard ontkom het,
het genade gevind in die woestyn.
Israel is op pad om rus te vind.
Van ver af het die HERE
aan hom verskyn.
“Met 'n ewige liefde het Ek jou liefgehad;
daarom het Ek jou
in troue liefde nadergetrek.
Ek sal jou weer herbou,
en jy sal gevestig wees, jongvrou Israel.
Jy sal jou weer versier
met jou tamboeryne,
en uitgaan in die kring van die dansers.
Jy sal weer wingerde plant
op die berge van Samaria.
Hulle wat plant,
sal die eerste vrugte daarvan geniet.
Ja, daar kom 'n dag waarop
die wagte op die bergland
van Efraim sal uitroep,
‘Maak gereed, en laat ons opgaan
na Sion, na die HERE ons God!’ ”
Ja, so sê die HERE,
“Jubel met vreugde oor Jakob!
Juig oor die hoof van die nasies.
Verkondig dit! Sing lof en sê,
‘Verlos u volk, HERE,
die oorblyfsel van Israel!’
Kyk, Ek gaan hulle bring
uit 'n land in die noorde.
Ek gaan hulle byeenbring vanaf
die uithoeke van die aarde.
Onder hulle sal blindes en kreupeles wees,
vroue wat swanger is en wat geboorte gee –
almal saam.
As 'n groot geloofsgemeenskap
gaan hulle hierheen terugkeer.
Met 'n gehuil sal hulle kom,
en onder smeekbedes
sal Ek hulle begelei.
Ek sal hulle bring by waterstrome,
op 'n gelyk pad waarop hulle
nie sal struikel nie.
Want Ek het vir Israel 'n vader geword,
Efraim is my eersgeborene.
“Hoor die woord van die HERE, nasies!
Maak dit bekend op die verste eilande,
en sê, ‘Hy wat Israel verstrooi het,
sal hulle bymekaarmaak
en hulle oppas soos 'n herder sy kudde.’
Want die HERE het Jakob vrygekoop,
hom losgekoop uit die hand
van een wat sterker is as hy.
Hulle sal kom en jubel
op die hoogte by Sion;
hulle sal van vreugde straal
oor die goedheid van die HERE,
oor koring, •nuwe wyn en olie,
en oor lammers en beeste.
Hulle sal wees soos 'n natgeleide tuin;
hulle sal nie weer wegkwyn nie.
Dan sal jongvroue vreugde vind
in kringdanse,
ook jong manne en ou manne
saam met hulle.
Ek sal hulle rou verander in vrolikheid;
Ek sal hulle troos,
en aan hulle vreugde gee
in die plek van hulle droefheid.
Ek sal die priesters verkwik met olie,
en my volk sal met my goedheid
versadig word,’ ”
is die uitspraak van die HERE.
So sê die HERE:
“'n Stem word gehoor in Rama,
'n treurlied, 'n bittere gehuil.
Ragel huil oor haar kinders;
sy weier om vertroos te word oor haar kinders,
omdat hulle nie meer daar is nie.”
So sê die HERE,
“Weerhou jou stem daarvan om te huil,
jou oë daarvan om trane te stort;
want daar is beloning vir jou geswoeg,”
is die uitspraak van die HERE;
“hulle sal terugkeer uit die land
van die vyand.
Daar is hoop vir jou nageslag,”
is die uitspraak van die HERE –
“kinders sal terugkeer
na hulle grondgebied.
“ Ek het dit beslis gehoor –
Efraim bejammer homself,
‘U het my ingebreek,
en ek het my laat inbreek
soos 'n ongeleerde kalf.
As U my laat terugkeer,
keer ek werklik terug;
want U is die HERE my God.
Ja, nadat ek tot inkeer gekom het,
het ek berou gehad;
nadat ek tot die besef gekom het,
het ek myself op die heup geslaan.
Ek staan beskaamd,
ek voel ook verneder;
ja, ek dra die skande van my jeug.’
Is Efraim vir My 'n dierbare seun,
'n kind wat My vreugde verskaf?
Al vaar Ek telkens teen hom uit,
bly Ek hom weer onthou.
Daarom is my binneste
oor hom in beroering.
Ek sal My beslis oor hom ontferm,”
is die uitspraak van die HERE.
“Rig vir jou padwysers op;
bring vir jou rigtingwysers aan!
Rig jou aandag op die hoofroete,
die pad wat jy geloop het.
Keer terug, jongvrou van Israel!
Keer terug na hierdie dorpe van jou!
Hoe lank gaan jy nog huiwer,
afvallige dogter?
Want die HERE skep iets nuuts
op die aarde:
'n Vrou sal om 'n man beweeg. ”
“So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Hulle sal weer hierdie woorde sê in die land Juda en in sy dorpe wanneer Ek hulle lot verander: “Mag die HERE jou seën, woonplek van geregtigheid, heilige berg!” Juda en al sy dorpe sal saam daar woon, landbouers en hulle wat met kuddes kleinvee rondtrek.
“ ‘Want Ek verkwik
'n dors mens,
en aan elkeen wat versmag,
gee Ek genoeg.’ ”
Hierop het ek wakker geword
en gekyk,
en my slaap was vir my soet.