JEREMIA 31:1-26
JEREMIA 31:1-26 Bybel vir almal (ABA)
Die Here sê: “Daardie dag sal Ek die God wees van al die Israeliete, en hulle sal my volk wees.” Die Here sê: “'n Volk wat nie in 'n oorlog gesterf het nie, het genade ontvang in die woestyn. Israel sal kom en hulle sal veilig woon.” Die Here het gekom na sy volk wat ver van Hom is. Die Here het gesê: “Ek was lief vir julle en Ek sal aanhou om lief te wees vir julle. Julle behoort aan My, daarom hou Ek julle vas. Mense van Israel, julle sal weer kinders kry, Ek sal vir julle kinders gee. Julle sal weer tamboeryne dra en uitgaan om te dans saam met die ander mense wat bly is. Julle sal weer wingerde plant op die berge van Samaria. Die boere sal dit plant en hulle sal eerste van die druiwe eet. Ja, die dag het gekom, die wagte op die berge van Samaria sal skree en sê: ‘Kom ons gaan na Sion, na ons God die Here toe.’ ” Ja, die Here sê: “Julle moet bly wees en sing, julle moet juig oor Jakob, die hoof van die volke. Julle moet hard sing en die Here prys sodat die mense dit kan hoor. Julle moet sê: ‘Here, red asseblief u volk, red die mense van Israel wat nog lewe.’ Ek sal my volk nou bring uit die land in die noorde, Ek sal hulle bymekaarmaak uit die ver plekke op die aarde. Daar sal blinde en kreupel mense tussen hulle wees, en ook vroue wat babas verwag en vroue wat besig is om babas te kry. Hulle sal huil en kom bid dat Ek hulle moet help, en Ek sal hulle lei, Ek sal hulle op 'n gelyk pad bring, by waterstrome. Hulle sal nie op die pad struikel en val nie. Ek het 'n Vader geword vir Israel, Efraim is my oudste seun.” Volke, julle moet hoor wat die Here sê, julle moet dit vertel in die lande ver langs die see, julle moet sê: “Hy wat die Israeliete gejaag het na al die kante toe, Hy sal hulle bymekaarmaak en Hy sal hulle oppas soos 'n herder die skape oppas wat aan hom behoort, want die Here het die nageslag van Jakob losgekoop en Hy het hulle vrygemaak van iemand wat sterker was as hulle. Die Israeliete sal kom en sing op die hoë Sionsberg. Hulle sal bly wees oor die goeie dinge wat die Here gee, oor die koring en die wyn en die olyf-olie, en oor die lammers en die kalwers. Hulle sal self wees soos tuine met baie water, hulle sal nie meer dors word nie. Dan sal die jong vroue weer bly wees en dans, en die jongmans en die ou mans sal saam met hulle dans. Ek sal hulle rou verander, en hulle sal vrolik wees, Ek sal hulle lewe verander, hulle was hartseer, maar Ek sal hulle bly maak. Ek sal die priesters wat nou honger is, lekker laat eet. Ek sal my volk genoeg laat eet van die goeie dinge wat Ek sal gee.” Dit het die Here gesê. Die Here sê: “Die mense hoor iets in die stad Rama, hulle hoor dat iemand kla en baie hartseer huil. Dit is Ragel wat huil oor haar kinders, sy wil nie hê die mense moet haar troos nie, sy huil oor haar kinders, want hulle is weg.” Die Here sê: “Jy moenie aanhou huil nie, want Ek sal vir jou iets gee omdat jy dit alles gedoen het.” Dit sê die Here. “Jou kinders sal terugkom uit die vyand se land. En jy sal weet dat dit later goed sal gaan met jou, jou kinders sal terugkom na hulle land.” Dit sê die Here. Ek, Jeremia, het iets gehoor, dit is seker: dit is Efraim wat soebat en sê: “U het my geslaan, ek het slae gekry soos 'n kalf wanneer iemand hom mak wil maak. Bring my terug na U toe, en laat my terugkom, want U is my God die Here. Ek vra dit, want nadat ek weggegaan het van U, was ek jammer daaroor. Ek weet nou beter en ek slaan myself op my heupe, want ek is skaam, ek voel sleg, ek is skaam oor alles wat ek gedoen het toe ek jonk was.” “Die mense sal sê Efraim is my kind, Ek is die liefste vir hom, Ek hou die meeste van hom, want elke maal wanneer Ek teen hom praat, dan dink Ek nog aan hom en dan word Ek baie hartseer en ontsteld. Daarom sal Ek jammer wees vir hom en Ek sal hom help, Ek sál dit doen.” Dit het die Here gesê. Julle moet klippe opmekaar pak, julle moet padtekens maak, julle moet goed kyk waar julle moet loop op die pad waarop julle weggegaan het. Israeliete, julle moet terugkom na hierdie stede van julle. Hoe lank wil julle nog wag en twyfel? Julle is mense wat aanhou weggaan. Want die Here het iets nuut laat gebeur op die aarde: Soos 'n vrou wat na haar man toe draai wanneer hulle dans, so sal die Israeliete die Here soek en terugkom na Hom toe. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: “Wanneer Ek dit weer goed laat gaan met die mense van Juda, dan sal hulle in die land Juda en in sy stede weer sê: ‘ Gewyde berg, die Here sal jou seën, jy is die berg waar die mense woon wat reg doen.’ Al die mense van Juda en sy stede sal saam in Jerusalem woon, die mense wat in die grond werk en ook die wagters wat met hulle skape en bokke na ander plekke trek. Ja, Ek gee nuwe krag vir elkeen wat moeg is, Ek laat elkeen wat honger is, meer as genoeg kos kry. “Dit is hoekom Ek wakker geword het en gesien het dat die tyd gekom het om mense te red.”
JEREMIA 31:1-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN dié tyd, spreek die HERE, sal Ek vir al die geslagte van Israel 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. So sê die HERE: Die volk van diegene wat van die swaard vrygeraak het, het genade gevind in die woestyn, op weg om sy rus te geniet, naamlik Israel. Die HERE het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met 'n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel! Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne en uittrek in die koordans van die spelers. Jy sal weer wingerde plant op die berge van Samaría; die planters sal plant en die vrugte geniet. Want die dag is daar dat die oppassers op die berge van Efraim roep: Maak julle klaar en laat ons optrek na Sion, na die HERE onse God. Want so sê die HERE: Jubel oor Jakob van vreugde, en juig oor die hoof van die nasies; laat dit hoor, sing lof en sê: o HERE, verlos u volk, die oorblyfsel van Israel! Kyk, Ek bring hulle aan uit die Noordland en sal hulle bymekaar laat kom uit die agterhoeke van die aarde; blindes en lammes, swangeres en barendes onder hulle, almal saam; in 'n groot vergadering sal hulle terugkom hiernatoe. Hulle sal kom met geween, en met smekinge sal Ek hulle lei; Ek sal hulle bring by waterstrome, op 'n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie; want Ek is vir Israel 'n Vader, en Efraim is my eersgeborene. Hoor die woord van die HERE, o nasies, en verkondig in die kuslande wat ver is, en sê: Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos 'n herder sy kudde. Want die HERE het Jakob losgekoop en hom verlos uit die hand van hom wat sterker was as hy. En hulle sal kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die HERE, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste; en hulle siel sal wees soos 'n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie. Dan sal die jonkvrou haar verheug in die koordans, ja, die jongmanne en die oues tesame; en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer. En Ek sal die siel van die priesters verkwik met vettigheid, en my volk sal versadig word met my seëninge, spreek die HERE. So sê die HERE: 'n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie. So sê die HERE: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die HERE; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom. Ja, daar is verwagting vir jou nakomelinge, spreek die HERE; en die kinders sal terugkom na hulle grondgebied. Sekerlik het Ek Efraim hoor weeklaag: U het my getugtig en ek het my laat tugtig soos 'n ongeleerde kalf. Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die HERE my God. Want nadat ek tot inkeer gekom het, het ek berou gehad; en nadat ek tot insig gekom het, het ek op die heup geslaan; ek het beskaamd gestaan, ja, ook in die skande gekom, omdat ek die smaad van my jeug dra. Is Efraim vir My 'n dierbare seun of 'n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die HERE. Rig vir jou mylpale op, maak vir jou padwysers, let op die grootpad, die pad wat jy geloop het. Kom terug, o jonkvrou van Israel, kom terug na hierdie stede van jou! Hoe lank sal jy bly aarsel, o afkerige dogter? Want die HERE het iets nuuts op die aarde geskape: Die vrou sal die man beskerm. So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Weer sal hulle hierdie woord sê in die land Juda en in die stede daarvan, as Ek hulle lot verander: Mag die HERE jou seën, o woning van geregtigheid, heilige berg! En Juda en al sy stede sal daarin woon, almal saam; die landbouers en die wat met troppe vee rondtrek. Want Ek verkwik die vermoeide siel en elke kwynende siel versadig Ek. (Hierop het ek wakker geword en opgekyk, en my slaap was vir my soet.)
JEREMIA 31:1-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daardie tyd, sê die Here, sal Ek die God van al die stamme van Israel wees, en hulle sal my volk wees. So sê die Here: Israel, die volk wat aan die swaard ontkom het, is begenadig in die woestyn, hy sal na sy rusplek toe kom. Van ver af het die Here Hom aan Israel bekend gemaak: Ek het jou nog altyd liefgehad, daarom het Ek jou met geduld verdra. Ek sal aan jou kinders gee, Israel, jy sal kinders in die wêreld bring. Jy sal weer jou tamboeryne dra, jy sal uitgaan om te dans saam met dié wat bly is. Jy sal weer wingerde plant op die Samariaberge, die boere sal dit plant en die vrugte daarvan geniet. Die dag het aangebreek, die dag waarop dié wat wag staan, op die Efraimsberge sal roep: “Kom ons gaan na Sion toe, na die Here ons God toe.” So sê die Here: Sing van blydskap oor Jakob, die leier onder die nasies, juig oor hom! Laat hoor julle loflied, en sê: Red u volk, Here, red wat van Israel oorgebly het! Ek laat kom hulle uit die land in die noorde, Ek vergader hulle van die uithoeke van die aarde af: onder hulle is blindes en kreupeles, swanger vrouens en vrouens in kraam. 'n Groot gemeente sal hiernatoe terugkom. In trane sal hulle kom, met smeekgebede, maar Ek sal hulle lei, Ek sal hulle by waterstrome bring, op 'n gelyk pad, niemand sal struikel nie, want Ek het Israel se Vader geword, Efraim is my eersgeborene. Hoor die woord van die Here, nasies, vertel dit aan die verste eilande! Julle moet sê: Hy wat vir Israel verstrooi het, sal hom bymekaarmaak. Die Here sal hom oppas soos 'n wagter sy trop skape oppas. Die Here het vir Jakob bevry, hulle gered uit die mag van een wat sterker as hulle is. Hulle sal kom en op die Sionshoogte sing, hulle sal straal van blydskap oor die goeie wat deur die Here gegee word: oor koring, wyn en olie, oor die aanteel van kleinvee en grootvee. Hulle sal floreer soos 'n tuin wat goed natgelei word, hulle sal nie meer na water smag nie. Dan sal die jong meisies dans van blydskap saam met die jong mans en die ou mans. Ek sal hulle droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee: Ek sal hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie. Ek sal 'n oorvloed goeie kos vir die priesters gee, my volk sal oorgenoeg hê aan die goeie wat Ek gee, sê die Here. So sê die Here: 'n Gekerm word op Rama gehoor, 'n gehuil vol hartseer: Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie, want haar kinders is weg. So sê die Here: Bly stil, moenie huil nie, moenie trane in jou oë hê nie! Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word, sê die Here, jou kinders sal uit die vyand se land terugkom. Daar is 'n toekoms vir jou nageslag, sê die Here, jou kinders sal na hulle besitting toe terugkom. Ek het duidelik gehoor hoe Efraim kla: “U het my gestraf, ek is ingebreek soos 'n kalf wat mak gemaak is. Bring my terug na U toe dat ek my kan bekeer, want U is die Here my God. Ek het weggedwaal, maar ek het berou gehad, ek het tot insig gekom en myself vol berou op die heupe geslaan, ek het my geskaam, ek het skande oor my gebring, ek is verneder oor die sondes van my jeug af.” Efraim is nie my troetelkind nie, 'n kind in wie Ek My verlustig nie, en tog, elke keer as Ek hom bestraf, dink Ek met hartseer aan hom en is Ek ontstel oor hom, want Ek het hom baie lief, sê die Here. Rig vir jou padwysers op, bring vir jou rigtingborde aan, hou jou oog op die grootpad, op die pad wat jy moet loop. Kom terug, Israel, kom terug na jou stede toe. Hoe lank gaan jy nog talm, jy wat so dikwels jou eie koers gaan? Die Here skep iets nuuts in jou land: Israel sal die Here liefhê. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Wanneer Ek hulle lot verander, sal hulle weer in Juda en in sy stede sê: Die Here sal jou seën, regmatige woonplek, heilige berg! Mense sal saam woon in Juda en in sy stede, boere en veewagters wat rondtrek. Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed. Dit is waarom Ek ingryp: Ek het alles gesien, Ek sal nie terugkom op my besluit nie.
JEREMIA 31:1-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“In daardie tyd,” is die uitspraak van die HERE, “sal Ek 'n God wees vir al die familiegroepe van Israel, en hulle sal vir My 'n volk wees.” So sê die HERE: “Die volk wat aan die swaard ontkom het, het genade gevind in die woestyn. Israel is op pad om rus te vind. Van ver af het die HERE aan hom verskyn. “Met 'n ewige liefde het Ek jou liefgehad; daarom het Ek jou in troue liefde nadergetrek. Ek sal jou weer herbou, en jy sal gevestig wees, jongvrou Israel. Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne, en uitgaan in die kring van die dansers. Jy sal weer wingerde plant op die berge van Samaria. Hulle wat plant, sal die eerste vrugte daarvan geniet. Ja, daar kom 'n dag waarop die wagte op die bergland van Efraim sal uitroep, ‘Maak gereed, en laat ons opgaan na Sion, na die HERE ons God!’ ” Ja, so sê die HERE, “Jubel met vreugde oor Jakob! Juig oor die hoof van die nasies. Verkondig dit! Sing lof en sê, ‘Verlos u volk, HERE, die oorblyfsel van Israel!’ Kyk, Ek gaan hulle bring uit 'n land in die noorde. Ek gaan hulle byeenbring vanaf die uithoeke van die aarde. Onder hulle sal blindes en kreupeles wees, vroue wat swanger is en wat geboorte gee – almal saam. As 'n groot geloofsgemeenskap gaan hulle hierheen terugkeer. Met 'n gehuil sal hulle kom, en onder smeekbedes sal Ek hulle begelei. Ek sal hulle bring by waterstrome, op 'n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie. Want Ek het vir Israel 'n vader geword, Efraim is my eersgeborene. “Hoor die woord van die HERE, nasies! Maak dit bekend op die verste eilande, en sê, ‘Hy wat Israel verstrooi het, sal hulle bymekaarmaak en hulle oppas soos 'n herder sy kudde.’ Want die HERE het Jakob vrygekoop, hom losgekoop uit die hand van een wat sterker is as hy. Hulle sal kom en jubel op die hoogte by Sion; hulle sal van vreugde straal oor die goedheid van die HERE, oor koring, •nuwe wyn en olie, en oor lammers en beeste. Hulle sal wees soos 'n natgeleide tuin; hulle sal nie weer wegkwyn nie. Dan sal jongvroue vreugde vind in kringdanse, ook jong manne en ou manne saam met hulle. Ek sal hulle rou verander in vrolikheid; Ek sal hulle troos, en aan hulle vreugde gee in die plek van hulle droefheid. Ek sal die priesters verkwik met olie, en my volk sal met my goedheid versadig word,’ ” is die uitspraak van die HERE. So sê die HERE: “'n Stem word gehoor in Rama, 'n treurlied, 'n bittere gehuil. Ragel huil oor haar kinders; sy weier om vertroos te word oor haar kinders, omdat hulle nie meer daar is nie.” So sê die HERE, “Weerhou jou stem daarvan om te huil, jou oë daarvan om trane te stort; want daar is beloning vir jou geswoeg,” is die uitspraak van die HERE; “hulle sal terugkeer uit die land van die vyand. Daar is hoop vir jou nageslag,” is die uitspraak van die HERE – “kinders sal terugkeer na hulle grondgebied. “ Ek het dit beslis gehoor – Efraim bejammer homself, ‘U het my ingebreek, en ek het my laat inbreek soos 'n ongeleerde kalf. As U my laat terugkeer, keer ek werklik terug; want U is die HERE my God. Ja, nadat ek tot inkeer gekom het, het ek berou gehad; nadat ek tot die besef gekom het, het ek myself op die heup geslaan. Ek staan beskaamd, ek voel ook verneder; ja, ek dra die skande van my jeug.’ Is Efraim vir My 'n dierbare seun, 'n kind wat My vreugde verskaf? Al vaar Ek telkens teen hom uit, bly Ek hom weer onthou. Daarom is my binneste oor hom in beroering. Ek sal My beslis oor hom ontferm,” is die uitspraak van die HERE. “Rig vir jou padwysers op; bring vir jou rigtingwysers aan! Rig jou aandag op die hoofroete, die pad wat jy geloop het. Keer terug, jongvrou van Israel! Keer terug na hierdie dorpe van jou! Hoe lank gaan jy nog huiwer, afvallige dogter? Want die HERE skep iets nuuts op die aarde: 'n Vrou sal om 'n man beweeg. ” “So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Hulle sal weer hierdie woorde sê in die land Juda en in sy dorpe wanneer Ek hulle lot verander: “Mag die HERE jou seën, woonplek van geregtigheid, heilige berg!” Juda en al sy dorpe sal saam daar woon, landbouers en hulle wat met kuddes kleinvee rondtrek. “ ‘Want Ek verkwik 'n dors mens, en aan elkeen wat versmag, gee Ek genoeg.’ ” Hierop het ek wakker geword en gekyk, en my slaap was vir my soet.
JEREMIA 31:1-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Terselfdertyd, spreek die HERE, sal Ek die God wees van al die geslagte van Israel, en hulle sal vir My 'n volk wees. So sê die HERE: Die volk wat van die swaard oorgebly het, het genade gevind in die woestyn; selfs Israel, toe Ek gegaan het om hom te laat rus. Die HERE het van ouds af aan my verskyn en gesê: Ja, Ek het jou liefgehad met 'n ewige liefde; daarom het Ek jou met goedertierenheid getrek. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o maagd van Israel; jy sal weer versier word met jou tente en uitgaan in die koordanse van die vrolikes. Jy sal nog wingerde plant op die berge van Samaria; die planters sal plant en hulle eet as gewone dinge. Want daar sal 'n dag wees dat die wagte op die gebergte van Efraim sal roep: Staan op en laat ons optrek na Sion na die HERE onse God. Want so sê die HERE: Jubel oor Jakob en juig onder die vernaamstes van die nasies; verkondig, loof en sê: HERE, verlos u volk, die oorblyfsel van Israel! Kyk, Ek bring hulle uit die noordelike land en bring hulle bymekaar uit die streke van die aarde, en saam met hulle die blindes en kreupeles, die swanger vrou en die swanger vrou saam; 'n groot menigte sal daarheen terugkeer. Hulle sal kom met geween, en met smekinge sal Ek hulle lei; Ek sal hulle by waterstrome laat loop op 'n reguit pad, waarin hulle nie sal struikel nie; want Ek is 'n vader vir Israel, en Efraim is my eersgeborene. Hoor die woord van die HERE, o nasies, en verkondig dit in die kuslande wat ver is, en sê: Hy wat Israel verstrooi het, sal hom versamel en hom bewaar soos 'n herder sy kudde. Want die HERE het Jakob verlos en hom verlos uit die hand van hom wat sterker was as hy. Daarom sal hulle kom en sing op die hoogte van Sion en saamvloei na die goedheid van die HERE, oor koring en wyn en olie en vir die kleinvee en beeste; en hulle siel sal wees soos 'n besproeide tuin; en hulle sal glad nie meer treur nie. Dan sal die maagd bly wees in die dans, jongmanne sowel as oud saam, want Ek sal hulle rou in blydskap verander en hulle vertroos en hulle juig oor hulle droefheid. En Ek sal die siel van die priesters versadig met vet, en my volk sal versadig word met my goedheid, spreek die HERE. So sê die HERE: 'n Stem is in Rama gehoor, geweeklaag en bitter geween; Rahel wat oor haar kinders geween het, het geweier om vir haar kinders vertroos te word, want hulle was nie. So sê die HERE: Weerhou jou stem van geween en jou oë van trane, want jou werk sal beloon word, spreek die HERE; en hulle sal terugkom uit die land van die vyand. En daar is hoop in jou einde, spreek die HERE, dat jou kinders na hulle eie grondgebied sal terugkom. Ek het sekerlik gehoor hoe Efraim homself so beklaag; U het my getugtig, en ek is getugtig soos 'n bul wat nie aan die juk gewoond is nie; want U is die HERE my God. Waarlik nadat ek my bekeer het, het ek berou gehad; en nadat ek onderrig is, het ek op my heup geslaan; ek was beskaamd, ja, selfs beskaamd, omdat ek die smaad van my jeug gedra het. Is Efraim my dierbare seun? is hy 'n aangename kind? want vandat ek teen hom gespreek het, dink ek nog ernstig aan hom; daarom is my ingewande oor hom ontsteld; Ek sal my gewis oor hom ontferm, spreek die HERE. Stel vir jou padmerke op, maak vir jou hoë hope; rig jou hart op die grootpad, die pad wat jy gegaan het; keer terug, o maagd van Israel, draai terug na hierdie stede van jou. Hoe lank sal jy rondgaan, o afkerige dogter? want die HERE het iets nuuts op die aarde geskape: 'n Vrou sal 'n man omring. So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Nogtans sal hulle hierdie spraak gebruik in die land van Juda en in die stede daarvan, wanneer Ek hulle ballingskap terugbring; Die HERE seën jou, o woning van geregtigheid en berg van heiligheid! En daar sal in Juda self woon en in al die stede daarvan saam landbouers en die wat met kleinvee uittrek. Want Ek het die vermoeide siel versadig, en elke bedroefde siel het Ek gevul. Hierop het ek wakker geword en aanskou; en my slaap was vir my soet.
JEREMIA 31:1-26 Die Boodskap (DB)
Die Here sê: “In daardie tyd sal Ek al die families van Israel se God wees en hulle sal my volk wees.” Hy sê verder: “Die mense wat gevegte oorleef het waarin hulle maklik dood kon gewees het, sal beter daaraan toe wees in die woestyn. Ek sal aan die mense van Israel kalmte en rus gee.” Lank gelede reeds het die Here vir Israel gesê: “Ek het julle liefgehad met ’n liefde wat nooit ophou nie. Daarom sal Ek altyd lojaal aan julle bly. Ek sal julle weer die volk maak wat julle vroeër was, Israel. Julle sal soos jongmeisies van blydskap dans en op tamboeryne speel. Julle sal weer wingerde teen die hange van die Samariaberge plant. Wanneer die wingerde druiwe gee, sal julle die vrugte kan geniet wat julle self geplant het. Daar sal ook ’n dag kom waarop die wagte wat in die heuwels van Efraim is, sal uitroep: ‘Kom ons gaan na Jerusalem toe. Die Here is daar!’” Die Here sê: “Sing omdat julle bly is oor Israel. Israel is die gelukkigste volk van al die volke. Skree dit hard uit! Gee eer aan die Here. Vertel van alles wat Hy gedoen het. ’n Deel van die mense van Israel het die tyd wat hulle gevangenes in Babel was, oorleef. Dit is die Here wat sy mense weer vrygemaak het. Ek sal hulle uit die noorde terugbring na hulle eie land toe. Selfs al is hulle op die uithoeke van die aarde, sal Ek hulle bymekaarmaak en terugbring. Ek sal ook nie die blinde en kreupel mense vergeet nie. Ek sal ook nie van die vroue wat babas verwag of wat op die punt is om ’n baba te hê, vergeet nie. ’n Groot klomp mense sal terugkom na hulle land toe. Trane van blydskap sal oor hulle gesig loop. Ek sal hulle troos en hulle versigtig na hulle eie land toe teruglei. Ek sal hulle langs waterstrome lei. Hulle sal op paaie loop wat gelyk is sodat hulle nie sal val nie. Ek is Israel se pa. Efraim is my oudste kind.” Die Here het iets vir die nasies te sê wat Hy wil hê hulle moet hoor. Selfs lande wat baie ver is en by die see is, moet dit hoor: die Here het sy volk uitmekaar laat spat. Maar Hy sal hulle weer bymekaarmaak. Hy sal hulle oppas soos ’n herder sy skape oppas. Soos ’n mens ’n losprys moet betaal om iemand wat ontvoer is los te kry, so het die Here met Israel gemaak. Israel se vyande is baie sterk, maar die Here het hulle losgekry uit hulle mag. Hulle sal terugkom en op die hoogtes van Jerusalem sal hulle vrolike liedere sing. Hulle sal bly wees omdat die Here so goed vir hulle is. Hy het vir hulle graan, wyn en olie gegee. Verder het Hy ook vir hulle skape en beeste gegee. Dit sal goed met hulle gaan. Hulle lewe sal wees soos ’n tuin wat genoeg water kry. Hulle sal nie meer rede hê om hartseer te wees nie. Die meisies sal dans omdat hulle bly is. Die mans, of hulle nou oud of jonk is, sal deelneem aan hierdie vrolikheid. Die Here sê Hy sal hulle gehuil verander in blydskap. Hy sal hulle troos. Hy sal hulle depressiewe gevoel wegvat en in die plek daarvan vreugde gee. “Ek sal vir die priesters meer as genoeg gee om te offer. My volk sal tevrede voel oor al die goeie dinge wat Ek vir hulle sal gee.” Dit is wat die Here sê Hy sal doen. Die Here sê verder: “Uit Rama hoor ’n mens die hartseer gehuil oor iemand wat dood is. Dit is Ragel wat oor haar kinders huil. Hulle is dood. Sy wil nie toelaat dat iemand haar troos nie.” Maar die Here sê: “Hou op met huil en droog jou trane af. Jy sal beloon word vir al jou moeite wat jy vir jou kinders gedoen het. Jou kinders sal terugkom uit die land van die vyand. Daar is hoop vir die toekoms,” sê die Here. “Jou kinders sal na hulle eie land toe terugkom. Ek het gehoor dat Israel kla en sê dat Ek hulle swaar gestraf het. Hulle het gesê: ‘Ons was soos wilde kalwers wat nog geleer moes word. Ons moes leer om gehoorsaam te wees. Here, help ons om weer reg teenoor U te lewe, want U is die Here ons God. Ons het die rug vir Hom gedraai, maar ons was agterna spyt daaroor. Ons kon onsself skop dat ons so onnosel was. Nou is ons skaam en verleë oor wat ons gedoen het toe ons jonk was.’” Die Here het gevra: “Is Israel nie nog steeds my seun vir wie Ek baie lief is nie? Is hy nie my lieflingskind nie? Selfs al moes Ek hom beskuldig dat hy verkeerde dinge doen, het Ek steeds ’n sagte plekkie vir hom gehad. Ek voel jammer vir hom; daarom sal Ek sag met hom werk.” Dit is wat die Here sê. “Plant vir julle rigtingwysers langs die pad. Maak merke op die pad. Kyk baie mooi waarlangs julle destyds gegaan het. Kom terug, Israel! Kom terug na julle stede. Hoe lank sal julle nog hink op twee gedagtes? Julle is mense wat aan My ontrou is. Ek gaan iets nuuts en anders laat gebeur: so vreemd as wat dit is vir ’n vrou om ’n man te beskerm, so vreemd sal dit wees wat met Israel gaan gebeur. Ek gaan Israel as ’n beskermer laat optree.” Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “As Ek Israel se omstandighede verander in Juda en in al hulle stede, sal hulle weer sê: ‘Mag die Here jou voorspoedig maak, Jerusalem!’ Jerusalem is die Here se spesiale woonplek. Al die mense in die stede en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly. Want Ek sal rus gee aan al die mense wat moeg is. En as daar mense is wat honger is, sal Ek vir hulle kos gee.” By hierdie punt het ek wakker geword en om my rondgekyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.
JEREMIA 31:1-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE sê: “Daardie tyd sal Ek al die families van Israel se God wees en hulle sal my volk wees.” Hy sê verder: “Die oorlewendes sal in die woestyn genade vind. Daar sal Hy vir Israel rus gee.” Lank gelede reeds het die HERE dit aan ons bekendgemaak: “Ek het jou lief met ’n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. Ek sal jou weer herbou soos jy vroeër was, jong vrou Israel! Jy sal weer jou tamboeryne te voorskyn haal. Jy sal dans en vrolik wees. Jy sal weer wingerde plant teen die berghange van Samaria. Die werkers sal die vrugte geniet wat hulle self geplant het. Daar sal ook ’n dag kom waarop die wagte in die heuwels van Efraim sal uitroep: ‘Kom ons gaan na Jerusalem, na die HERE ons God!’” Die HERE sê: “Sing van blydskap oor Israel! Roep uit vir die vernaamste van al die volke! Laat hulle julle lofprysing hoor en sê: ‘HERE, red u volk, die oorblyfsel van Israel.’ Kyk, Ek sal hulle uit die noorde terugbring. Ek sal hulle uit die uithoeke van die aarde bymekaarmaak. Onder hulle sal blindes en kreupeles wees, ook verwagtende moeders en vroue op die punt om geboorte te gee. ’n Groot getal mense sal hierheen terugkeer! Hulle sal al huilend terugkom, hulle sal bid terwyl Ek hulle teruglei. Ek sal hulle langs strome lei. Hulle sal op ’n reguit pad loop sodat hulle nie kan struikel nie. Ek is Israel se pa. Efraim is my oudste kind. “Nasies, luister na die woord van die HERE, vertel dit in veraf kuslande. Die HERE het Israel uitmekaar laat spat, Hy sal hulle weer byeenbring. Soos ’n herder sy skape oppas, so sal Hy hulle versorg. Die HERE het Israel vrygemaak, hulle losgekoop uit die mag van ’n vyand sterker as hulle. Hulle sal terugkom en vrolik sing op die hoogtes van Jerusalem. Hulle sal straal van blydskap oor die goedheid van die HERE. Hy gee graan, nuwe wyn, olie, lammers en beeste. Hulle lewens sal wees soos ’n tuin met volop water. Hulle sal nie meer rede hê om hartseer te wees nie. Dan sal die meisies van blydskap dans. Die mans, oud en jonk, sal deel in die vrolikheid. Ek sal hulle gehuil in blydskap verander. Ek sal hulle troos. Ek sal hulle vreugde gee in die plek van hartseer. Ek sal aan die priesters oorvloed gee om te offer. My volk sal tevrede voel oor die goeie dinge wat Ek vir hulle gee,” sê die HERE. Die HERE sê verder: “Hoor die geluid van hartseer en droewige gehuil uit Rama. Dit is Ragel wat huil oor haar kinders. Sy laat niemand toe om haar te troos nie, want haar kinders is dood.” Maar die HERE sê: “Hou op huil en droog af jou trane. Ek sal jou beloon vir jou moeite,” sê die HERE. “Jou kinders sal terugkom uit die land van die vyand. Daar is hoop vir die toekoms,” sê die HERE. “Jou kinders sal terugkom na hulle land toe. “Ek het Israel hoor kla: ‘U het ons swaar gestraf, maar ons het dit verdien. Ons was soos wilde kalwers wat nog moes leer. Bring ons terug en herstel ons, want U is die HERE ons God. Ons het afgedwaal, maar ons is spyt daaroor. Ons kon onsself skop dat ons so dom was. Nou is ons skaam en verleë oor wat ons in ons jong dae gedoen het.’” Die HERE sê: “Is Israel dan nie meer my dierbare seun nie? Is hy nie my lieflingkind nie? Selfs al moes Ek hom straf, is hy nie uit my gedagtes nie. Omdat Ek oor hom besorg is, sal Ek My oor hom ontferm. “Plant vir jou rigtingwysers. Stel vir jou bakens vas. Neem kennis van die pad waarlangs jy gegaan het. Kom terug, jong vrou Israel! Kom terug na jou eie dorpe. Hoe lank sal jy nog hink op twee gedagtes, ontroue dogter? Die HERE gaan iets nuuts op aarde laat gebeur: ’n Vrou sal ’n man beskerm.” Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: “As Ek hulle terugbring uit hulle ballingskap, sal die mense in Juda en in hulle dorpe weer sê: ‘Die HERE seën jou, tuiste van geregtigheid, heilige berg!’ Al die mense in die dorpe en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly. Want Ek sal nuwe krag gee aan dié wat moeg is en die swakkes versterk.” Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.