Die HERE sê:
“Daardie tyd sal Ek
al die families
van Israel se God wees
en hulle sal my volk wees.”
Hy sê verder:
“Die oorlewendes
sal in die woestyn genade vind.
Daar sal Hy vir Israel rus gee.”
Lank gelede reeds
het die HERE
dit aan ons bekendgemaak:
“Ek het jou lief met ’n liefde
wat nooit ophou nie.
Ek trek jou
met troue liefde
na My toe.
Ek sal jou weer herbou
soos jy vroeër was,
jong vrou Israel!
Jy sal weer jou tamboeryne
te voorskyn haal.
Jy sal dans en vrolik wees.
Jy sal weer wingerde plant
teen die berghange
van Samaria.
Die werkers sal die vrugte geniet
wat hulle self geplant het.
Daar sal ook ’n dag kom
waarop die wagte
in die heuwels van Efraim
sal uitroep:
‘Kom ons gaan na Jerusalem,
na die HERE ons God!’”
Die HERE sê:
“Sing van blydskap oor Israel!
Roep uit vir die vernaamste
van al die volke!
Laat hulle julle lofprysing hoor
en sê:
‘HERE, red u volk,
die oorblyfsel van Israel.’
Kyk, Ek sal hulle uit die noorde
terugbring.
Ek sal hulle uit die uithoeke van
die aarde bymekaarmaak.
Onder hulle sal blindes
en kreupeles wees,
ook verwagtende moeders
en vroue op die punt
om geboorte te gee.
’n Groot getal mense
sal hierheen terugkeer!
Hulle sal al huilend terugkom,
hulle sal bid
terwyl Ek hulle teruglei.
Ek sal hulle langs strome lei.
Hulle sal op ’n reguit pad loop
sodat hulle nie kan struikel nie.
Ek is Israel se pa.
Efraim is my oudste kind.
“Nasies,
luister na die woord
van die HERE,
vertel dit in veraf kuslande.
Die HERE het Israel
uitmekaar laat spat,
Hy sal hulle weer byeenbring.
Soos ’n herder sy skape oppas,
so sal Hy hulle versorg.
Die HERE het Israel vrygemaak,
hulle losgekoop
uit die mag van ’n vyand
sterker as hulle.
Hulle sal terugkom en vrolik sing
op die hoogtes van Jerusalem.
Hulle sal straal van blydskap
oor die goedheid van die HERE.
Hy gee graan,
nuwe wyn, olie,
lammers en beeste.
Hulle lewens sal wees
soos ’n tuin met volop water.
Hulle sal nie meer rede hê
om hartseer te wees nie.
Dan sal die meisies
van blydskap dans.
Die mans, oud en jonk,
sal deel in die vrolikheid.
Ek sal hulle gehuil in
blydskap verander.
Ek sal hulle troos.
Ek sal hulle vreugde gee
in die plek van hartseer.
Ek sal aan die priesters
oorvloed gee om te offer.
My volk sal tevrede voel
oor die goeie dinge
wat Ek vir hulle gee,”
sê die HERE.
Die HERE sê verder:
“Hoor die geluid
van hartseer
en droewige gehuil uit Rama.
Dit is Ragel wat huil
oor haar kinders.
Sy laat niemand toe
om haar te troos nie,
want haar kinders is dood.”
Maar die HERE sê:
“Hou op huil en
droog af jou trane.
Ek sal jou beloon vir jou moeite,”
sê die HERE.
“Jou kinders sal terugkom
uit die land van die vyand.
Daar is hoop vir die toekoms,”
sê die HERE.
“Jou kinders sal terugkom
na hulle land toe.
“Ek het Israel hoor kla:
‘U het ons swaar gestraf,
maar ons het dit verdien.
Ons was soos wilde kalwers
wat nog moes leer.
Bring ons terug en herstel ons,
want U is die HERE ons God.
Ons het afgedwaal,
maar ons is spyt daaroor.
Ons kon onsself skop
dat ons so dom was.
Nou is ons skaam en verleë
oor wat ons in ons jong dae gedoen het.’”
Die HERE sê:
“Is Israel dan nie meer
my dierbare seun nie?
Is hy nie my lieflingkind nie?
Selfs al moes Ek hom straf,
is hy nie uit my gedagtes nie.
Omdat Ek oor hom besorg is,
sal Ek My oor hom ontferm.
“Plant vir jou rigtingwysers.
Stel vir jou bakens vas.
Neem kennis van die pad
waarlangs jy gegaan het.
Kom terug, jong vrou Israel!
Kom terug na jou eie dorpe.
Hoe lank sal jy nog hink op twee gedagtes,
ontroue dogter?
Die HERE gaan iets nuuts
op aarde laat gebeur:
’n Vrou sal ’n man beskerm.”
Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: “As Ek hulle terugbring uit hulle ballingskap, sal die mense in Juda en in hulle dorpe weer sê: ‘Die HERE seën jou, tuiste van geregtigheid, heilige berg!’ Al die mense in die dorpe en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly. Want Ek sal nuwe krag gee aan dié wat moeg is en die swakkes versterk.”
Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.