Rigters 9:1-21

Rigters 9:1-21 AFR20

Abimeleg, seun van Jerubbaäl, het na Sigem gegaan, na sy moeder se broers toe, en met hulle en die hele familiegroep aan sy moeder se kant, gepraat. Hy het gesê: “Sê tog ten aanhore van al die burgers van Sigem, ‘Wat is vir julle beter, dat sewentig man, al die seuns van Jerubbaäl, oor julle heers, of dat een man oor julle heers? En onthou dat ek julle eie bloedfamilie is.’ ” Toe sy moeder se broers dit alles namens hom gesê het ten aanhore van al die burgers van Sigem, het hulle Abimeleg ondersteun, want hulle het gesê: “Hy is ons broer.” Hulle gee toe vir hom sewentig sikkel silwer uit die tempel van Baäl-Berit. Daarmee het Abimeleg vir hom ongedissiplineerde, roekelose manne gehuur wat sy volgelinge geword het. Hy het na sy vader se huis, na Ofra, gegaan en sy broers, die seuns van Jerubbaäl, vermoor – sewentig man op een klip. Maar Jotam, die jongste seun van Jerubbaäl, het oorgebly, want hy het weggekruip. Al die burgers van Sigem en Bet-Millo het byeengekom; hulle het gegaan en Abimeleg koning gemaak by die akkerboom langs die gedenkteken wat in Sigem is. Toe hulle dit aan Jotam meedeel, het hy op die top van die berg Gerisim gaan staan en met 'n harde stem uitgeroep: “Luister na my, burgers van Sigem – dan sal God julle verhoor: “ Die bome het eenmaal gegaan om 'n koning oor hulle te salf. “Hulle sê toe vir die olyfboom, ‘Wees koning oor ons!’ “Maar die olyfboom sê vir hulle, ‘Moet ek my olie prysgee, waarvoor gode en mense my prys, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?’ “Die bome sê toe vir die vyeboom, ‘Kom jy, wees koning oor ons!’ “Maar die vyeboom sê vir hulle, ‘Moet ek my soetheid en my goeie opbrengs prysgee, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?’ “Die bome sê toe vir die wingerdstok, ‘Kom jy, wees koning oor ons!’ “Maar die wingerdstok sê vir hulle, ‘Moet ek my •nuwe wyn prysgee wat gode en mense verheug, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?’ “Oplaas sê al die bome toe vir die steekdoring, ‘Kom jy, wees koning oor ons!’ “Toe sê die steekdoring vir die bome, ‘As dit met eerlike bedoelings is dat julle my wil salf om koning oor julle te wees, kom skuil dan in my skaduwee. Maar as dit nie so is nie, sal vuur uitgaan vanuit die steekdoring en die seders van die Libanon verteer.’ “Daarom, as julle met eerlike bedoelings en in opregtheid opgetree het toe julle Abimeleg koning gemaak het, as julle goed gedoen het aan Jerubbaäl en sy huis, as julle teenoor hom opgetree het volgens wat hy verdien, julle vir wie my pa geveg en sy lewe op die spel geplaas het toe hy julle uit die hand van die Midianiete gered het, julle wat vandag opgestaan het teen die huis van my pa, en sy seuns vermoor het – sewentig man op een klip – en Abimeleg, die seun van sy slavin, koning gemaak het oor die burgers van Sigem omdat hy julle broer is; as julle vandag met eerlike bedoelings en in opregtheid opgetree het teenoor Jerubbaäl en sy huis, mag julle vreugde ervaar van Abimeleg en mag hy ook vreugde ervaar van julle. Maar as dit nie so is nie, sal vuur uitgaan vanuit Abimeleg en die burgers van Sigem en Bet-Millo verteer. En vuur sal uitgaan vanuit die burgers van Sigem en Bet-Millo en Abimeleg verteer.” Jotam het toe op die vlug geslaan, gemaak dat hy wegkom. Hy het na Beër gegaan en daar gebly, weg van sy broer Abimeleg.