Rigters 9

9
Abimeleg
1Abimeleg, seun van Jerubbaäl, het na Sigem gegaan, na sy moeder se broers toe, en met hulle en die hele familiegroep aan sy moeder se kant, gepraat. Hy het gesê: 2“Sê tog ten aanhore van al die burgers van Sigem, ‘Wat is vir julle beter, dat sewentig man, al die seuns van Jerubbaäl, oor julle heers, of dat een man oor julle heers? En onthou dat ek julle eie bloedfamilie is.’ ”
3Toe sy moeder se broers dit alles namens hom gesê het ten aanhore van al die burgers van Sigem, het hulle Abimeleg ondersteun, want hulle het gesê: “Hy is ons broer.” 4Hulle gee toe vir hom sewentig sikkel silwer uit die tempel van Baäl-Berit. Daarmee het Abimeleg vir hom ongedissiplineerde, roekelose manne gehuur wat sy volgelinge geword het. 5Hy het na sy vader se huis, na Ofra, gegaan en sy broers, die seuns van Jerubbaäl, vermoor – sewentig man op een klip. Maar Jotam, die jongste seun van Jerubbaäl, het oorgebly, want hy het weggekruip. 6Al die burgers van Sigem en Bet-Millo het byeengekom; hulle het gegaan en Abimeleg koning gemaak by die akkerboom langs die gedenkteken wat in Sigem is.
7Toe hulle dit aan Jotam meedeel, het hy op die top van die berg Gerisim gaan staan en met 'n harde stem uitgeroep: “Luister na my, burgers van Sigem – dan sal God julle verhoor:
8“ Die bome het eenmaal gegaan om 'n koning oor hulle te salf.
“Hulle sê toe vir die olyfboom, ‘Wees koning oor ons!’
9“Maar die olyfboom sê vir hulle, ‘Moet ek my olie prysgee, waarvoor gode en mense my prys, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?’
10“Die bome sê toe vir die vyeboom, ‘Kom jy, wees koning oor ons!’
11“Maar die vyeboom sê vir hulle, ‘Moet ek my soetheid en my goeie opbrengs prysgee, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?’
12“Die bome sê toe vir die wingerdstok, ‘Kom jy, wees koning oor ons!’
13“Maar die wingerdstok sê vir hulle, ‘Moet ek my •nuwe wyn prysgee wat gode en mense verheug, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?’
14“Oplaas sê al die bome toe vir die steekdoring, ‘Kom jy, wees koning oor ons!’
15“Toe sê die steekdoring vir die bome, ‘As dit met eerlike bedoelings is dat julle my wil salf om koning oor julle te wees, kom skuil dan in my skaduwee. Maar as dit nie so is nie, sal vuur uitgaan vanuit die steekdoring en die seders van die Libanon verteer.’
16“Daarom, as julle met eerlike bedoelings en in opregtheid opgetree het toe julle Abimeleg koning gemaak het, as julle goed gedoen het aan Jerubbaäl en sy huis, as julle teenoor hom opgetree het volgens wat hy verdien, 17julle vir wie my pa geveg en sy lewe op die spel geplaas het toe hy julle uit die hand van die Midianiete gered het, 18 julle wat vandag opgestaan het teen die huis van my pa, en sy seuns vermoor het – sewentig man op een klip – en Abimeleg, die seun van sy slavin, koning gemaak het oor die burgers van Sigem omdat hy julle broer is; 19as julle vandag met eerlike bedoelings en in opregtheid opgetree het teenoor Jerubbaäl en sy huis, mag julle vreugde ervaar van Abimeleg en mag hy ook vreugde ervaar van julle. 20Maar as dit nie so is nie, sal vuur uitgaan vanuit Abimeleg en die burgers van Sigem en Bet-Millo verteer. En vuur sal uitgaan vanuit die burgers van Sigem en Bet-Millo en Abimeleg verteer.”
21Jotam het toe op die vlug geslaan, gemaak dat hy wegkom. Hy het na Beër gegaan en daar gebly, weg van sy broer Abimeleg.
22Abimeleg het drie jaar lank oor Israel geheers. 23Maar toe beskik God 'n gees van onmin tussen Abimeleg en die burgers van Sigem. Die burgers van Sigem het ontrou geword aan Abimeleg, 24sodat die geweld teen die sewentig seuns van Jerubbaäl nie agterweë sou bly nie, en ook die bloedskuld, sodat dit sou neerkom op Abimeleg, hulle broer wat hulle vermoor het, en op die burgers van Sigem, wat sy hande sterk gemaak het om sy broers te vermoor. 25Die burgers van Sigem het bo in die berge struikrowers teen hom opgestel, en hulle het almal wat by hulle verbygekom het, op die pad beroof. Abimeleg is daaroor ingelig.
26Gaäl, seun van Ebed, en sy broers het daar opgedaag op pad deur Sigem. Die burgers van Sigem het hulle vertroue in hom gestel. 27Hulle het daarna uitgegaan na die lande, hulle wingerde afgeoes, die druiwe uitgetrap en oesfees gehou. Hulle het in die tempel van hulle god ingegaan, geëet en gedrink en Abimeleg verkleineer. 28Gaäl, seun van Ebed, het gesê: “Wie is Abimeleg, dat ons hom moet dien, en wie was Sigem? Is Abimeleg nie die seun van Jerubbaäl nie, en is Sebul nie sy dorpsbestuurder nie? Hulle het die manne van Gamor, die vader van Sigem, gedien. Waarom moet óns hom dien? 29As ek hierdie volk onder my hand gehad het, sou ek Abimeleg verwyder. Ek sou vir Abimeleg sê, ‘Maak maar jou leër groter en trek uit!’ ”
30Toe Sebul, die stadsbestuurder, hoor wat Gaäl, seun van Ebed, gesê het, was hy woedend. 31Hy stuur toe boodskappers na Abimeleg in Aruma om te laat weet: “Kyk, Gaäl, seun van Ebed, en sy broers het in Sigem aangekom, en hulle is besig om die stad teen u op te steek. 32Daarom, maak u in die nag gereed, u en die manskappe wat by u is, en stel 'n hinderlaag in die landerye op. 33Môreoggend vroeg, teen sonop, moet u 'n aanval loods op die stad. Hy en die manskappe by hom sal na u uitkom – doen dan wat u hand vind om te doen.”
34Abimeleg en al die manskappe wat saam met hom was, het toe in die nag gereedgemaak en met vier eenhede teen Sigem 'n hinderlaag opgestel.
35Toe Gaäl, seun van Ebed, uitkom en by die ingang van die stadspoort gaan staan, het Abimeleg en die manskappe by hom opgestaan uit hulle hinderlaag. 36Gaäl sien toe die manskappe en sê vir Sebul: “Kyk, daar is manskappe wat van die kruin van die berge afkom!” Maar Sebul sê vir hom: “Dit is skaduwees van die berge wat vir jou soos manne lyk.” 37Gaäl het steeds volgehou en gesê: “Kyk, daar kom manskappe af vanaf die middel van die land, en een eenheid kom uit die rigting van die akkerboom van die Waarsêers!” 38 Daarop sê Sebul vir hom: “Waar is jou groot mond nou waarmee jy gesê het, ‘Wie is Abimeleg, dat ons hom moet dien’? Is dit nie die manskappe daardie wat jy so geminag het nie? Trek dan nou uit en veg teen hulle!”
39Gaäl het toe op die voorpunt van die burgers van Sigem uitgetrek en teen Abimeleg geveg. 40Abimeleg het hom agternagesit toe hy voor hom moes vlug, en baie gesneuweldes het tot by die stadspoort gelê. 41Abimeleg het na Aruma teruggekeer en Sebul het Gaäl en sy broers uitgedryf, sodat hulle nie meer in Sigem kon bly nie. 42Die volgende dag, toe die mense uitgaan na die landerye, is Abimeleg daaroor ingelig. 43Hy neem toe sy manskappe, verdeel hulle in drie eenhede en stel 'n hinderlaag op in die landerye. Toe hy sien die mense is inderdaad besig om uit die stad te gaan, het hy opgespring om teen hulle te veg en hulle neergevel. 44Abimeleg en die eenhede wat saam met hom was, het 'n aanval geloods en stelling ingeneem by die ingang van die stadspoort. Die ander twee eenhede het 'n aanval geloods op almal wat in die lande was en hulle neergevel. 45Abimeleg self het daardie hele dag teen die stad geveg. Hy het die stad ingeneem en die mense wat daarin was, om die lewe gebring. Hy het die stad afgebreek en sout daaroor gestrooi.
46Toe al die burgers van Migdal-Sigem dit hoor, het hulle in die kelder van die tempel van El-Berit ingegaan. 47Abimeleg is ingelig dat al die burgers van Migdal-Sigem daar bymekaar was. 48Abimeleg het toe teen die berg Salmon uitgeklim, hy en al die manskappe wat by hom was. Hy het byle saamgevat en kap toe 'n boomtak af, tel dit op en sit dit op sy skouer. Daarop sê hy vir die manskappe wat saam met hom was: “Doen gou wat julle gesien het ek doen.” 49Al die manskappe het ook elkeen 'n tak afgekap en Abimeleg gevolg. Hulle het dit op die kelder gepak en die kelder oor die mense aan die brand gesteek. So het ook al die mense van Migdal-Sigem gesterf – ongeveer 'n duisend mans en vroue.
50Daarna het Abimeleg na Tebes gegaan. Hy het Tebes beleër en dit ingeneem. 51Daar was egter 'n versterkte toring in die middel van die stad en al die mans en vroue, al die burgers van die stad, het daarheen gevlug. Hulle het hulleself daar toegesluit en op die dak van die toring geklim. 52Abimeleg het tot by die toring gekom en dit aangeval. Maar toe hy nader gaan na die deur van die toring om dit af te brand, 53 gooi een van die vroue 'n boonste maalklip op Abimeleg se kop en verbrysel sy skedel. 54 Hy roep toe inderhaas die dienaar wat sy wapendraer was, en sê vir hom: “Trek jou swaard en maak my dood, anders sal hulle van my sê, ‘'n Vrou het hom om die lewe gebring.’ ” Sy dienaar het hom toe met die swaard deurboor en hy het gesterf.
55Toe die manne van Israel sien dat Abimeleg dood is, het hulle weggegaan, elkeen na sy woonplek. 56 So het God die kwaad wat Abimeleg sy vader aangedoen het toe hy sy sewentig broers vermoor het, op hom laat terugkom. 57Al die kwaad van die manne van Sigem het God ook op hulle koppe laat terugkom. Die vloek van Jotam, die seun van Jerubbaäl, het oor hulle gekom.

Tans Gekies:

Rigters 9: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid