RIGTERS 9:1-21
RIGTERS 9:1-21 Bybel vir almal (ABA)
Gideon se seun Abimelek het na die stad Sigem gegaan, na sy ma se broers toe. Hy het met hulle en met die hele familie van sy ma gepraat en gesê: “Praat asseblief met die belangrike manne van Sigem en sê vir hulle: ‘Wat is vir julle beter: dat Gideon se 70 seuns almal oor julle regeer of dat net een man oor julle regeer?’ En onthou ek is een van julle.” Abimelek se ooms het dit alles vir die manne van Sigem gesê, en hulle het vir Abimelek gekies, want hulle het gesê: “Hy is een van ons.” Die belangrike manne van Sigem het vir Abimelek 70 stukke silwer gegee uit die tempel van Baäl-Berit, en Abimelek het dit gebruik om mense te huur om hom te help. Dit was mense wat nie ander werk gehad het nie. Abimelek het na sy pa se huis in Ofra gegaan en daar het hy sy broers, die 70 seuns van Gideon, vermoor, almal op een klip. Net Gideon se jongste seun Jotam het oorgebly, want hy het weggekruip. Die manne van Sigem en almal van Bet-Millo het toe bymekaargekom en hulle het gegaan om vir Abimelek koning te maak onder die groot boom by die klip-paal van Sigem. Iemand het dit vir Jotam vertel. Hy het toe bo-op die Gerisim-berg gaan staan en hy het hard geskree en gesê: “Manne van Sigem, julle moet hoor wat ek sê, dan sal God hoor wat julle sê. Eendag wou die bome vir hulle 'n koning gaan salf. Hulle het vir die olyfboom gesê: ‘Jy moet ons koning wees.’ Maar die olyfboom het vir hulle gesê: ‘Die mense gebruik my olie om gode en mense te eer. Moet ek ophou olie gee om oor die bome te regeer? Nee, ek wil nie.’ Toe sê die bome vir die vyeboom: ‘Dan moet jy ons koning kom wees.’ Maar die vyeboom het vir hulle gesê: ‘Ek dra baie vrugte, en my vrugte is lekker soet. Moet ek ophou vrugte dra om oor die bome te regeer? Nee, ek wil nie.’ Toe sê die bome vir die wingerdstok: ‘Dan moet jy ons koning kom wees.’ Maar die wingerdstok het vir hulle gesê: ‘My wyn maak gode en mense bly. Moet ek ophou druiwe dra om oor die bome te regeer? Nee, ek wil nie.’ Toe sê al die bome vir die doringbos: ‘Dan moet jy ons koning kom wees.’ Die doringbos het vir die bome gesê: ‘As julle regtig wil hê ek moet julle koning wees, dan moet julle in my skaduwee kom staan, en as julle dit nie doen nie, dan sal daar 'n vuur uit die doringbos kom en die vuur sal die sederbome van die Libanon-berg verbrand.’ “En nou, manne van Sigem, julle het nie goed gedoen aan Gideon se familie nie. Julle het nie onthou wat hy vir julle gedoen het nie, julle was ontrou aan hom. Julle het vir Abimelek gekies en julle het hom koning gemaak. My pa het oorlog gemaak sodat julle kan lewe. Hy was nie bang om te sterf nie. Hy het julle gered van die Midianiete. Maar julle is vandag opstandig teen my pa se familie, en julle het sy 70 seuns vermoor, almal op een klip. Julle het Abimelek, die seun van my pa se slavin, julle koning gemaak omdat hy familie is van julle. Julle was ontrou aan Gideon en sy familie. Nou moet julle en Abimelek gelukkig wees met mekaar. As julle dit nie doen nie, dan sal Abimelek 'n vuur wees wat die manne van Sigem en Bet-Millo verbrand, en die manne van Sigem en Bet-Millo sal 'n vuur wees wat vir Abimelek verbrand.” Jotam het toe weggehardloop en gevlug. Hy het in die stad Beër gaan woon, want hy was bang sy broer Abimelek maak hom dood.
RIGTERS 9:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Abiméleg, die seun van Jerúbbaäl, het heengegaan na Sigem, na die broers van sy moeder, en hy het met hulle en met die hele geslag van sy moeder se familie gespreek en gesê: Spreek tog voor die ore van al die burgers van Sigem: Wat is vir julle beter — dat sewentig man, almal seuns van Jerúbbaäl, oor julle heers, of dat een man oor julle heers? En dink daaraan dat ek julle gebeente en julle vlees is. Toe die broers van sy moeder al hierdie woorde voor die ore van al die burgers van Sigem oor hom spreek, het hulle hart Abiméleg gevolg; want hulle het gesê: Hy is ons broer. Hulle het hom toe sewentig sikkels silwer uit die huis van Baäl-Berít gegee, en daarmee het Abiméleg ydele en ligsinnige manne gehuur, en hulle het hom gevolg. En hy het in die huis van sy vader gegaan, in Ofra, en sy broers, die seuns van Jerúbbaäl, sewentig man, op een klip vermoor; maar Jotam, die jongste seun van Jerúbbaäl, het oorgebly, want hy het weggekruip. Daarop het al die burgers van Sigem en die hele huis Millo bymekaargekom en Abiméleg gaan koning maak by die terpentynboom van die gedenkteken wat by Sigem is. Toe hulle dit aan Jotam meedeel, het hy op die top van die berg Gerísim gaan staan en sy stem verhef en uitgeroep en aan hulle gesê: Luister na my, burgers van Sigem, sodat God na julle kan luister. Eendag het die bome gegaan om 'n koning oor hulle te salf en aan die olyfboom gesê: Wees koning oor ons! Maar die olyfboom het vir hulle gesê: Sou ek my vettigheid opgee wat God en die mense in my prys, en oor die bome gaan swewe? Toe sê die bome vir die vyeboom: Kom jy, wees koning oor ons. Maar die vyeboom het vir hulle gesê: Sou ek my soetigheid en my goeie vrugte opgee en oor die bome gaan swewe? Toe sê die bome vir die wingerdstok: Kom jy, wees koning oor ons. Maar die wingerdstok het vir hulle gesê: Sou ek my mos opgee wat God en die mense vrolik maak, en oor die bome gaan swewe? Toe sê al die bome vir die steekdoring: Kom jy, wees koning oor ons! En die steekdoring het vir die bome gesê: As julle in waarheid my as koning oor julle salf, kom dan, skuil in my skaduwee; maar so nie, laat daar dan vuur uitgaan uit die steekdoring en die seders van die Líbanon verteer. As julle dan nou in waarheid en in opregtheid gehandel het deur Abiméleg koning te maak, en as julle goed gedoen het aan Jerúbbaäl en sy huis, en as julle aan hom gedoen het na die verdienste van sy hande — julle vir wie my vader geveg en sy lewe gewaag het, en wat hy uit die hand van die Midianiete gered het, maar wat vandag opgestaan het teen die huis van my vader, en sy seuns, sewentig man, op een klip vermoor het en Abiméleg, die seun van sy slavin, koning gemaak het oor die burgers van Sigem omdat hy julle broer is — as julle dan vandag in waarheid en in opregtheid gehandel het met Jerúbbaäl en sy huis, wees dan vrolik oor Abiméleg, en mag hy ook vrolik wees oor julle. Maar so nie, laat daar dan vuur uitgaan uit Abiméleg en die burgers van Sigem en die huis Millo verteer; en laat daar vuur uitgaan uit die burgers van Sigem en uit die huis Millo en Abiméleg verteer. Daarop het Jotam padgegee en weggevlug en na Beër gegaan en daar gebly vanweë Abiméleg, sy broer.
RIGTERS 9:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Abimelek seun van Jerubbaäl het na Sigem toe gegaan, na sy ma se mense toe, en vir hulle en vir die hele familie gesê: “Vra vir al die leiers van Sigem: Is dit beter as al sewentig seuns van Jerubbaäl oor julle regeer of as net een oor julle regeer? Julle weet goed ek is een van julle.” Abimelek se familie het dit vir die burgers van Sigem gevra, en hulle was bereid om vir Abimelek te aanvaar, “want,” het hulle gesê, “hy is een van ons.” Hulle het vir hom sowat een kilogram silwer uit Baäl-Berit se tempel gegee, en daarmee het Abimelek vir hom leeglêers gehuur om sy volgelinge te wees. Hy is toe na sy pa se huis toe in Ofra en daar het hy sy broers, die sewentig seuns van Jerubbaäl, almal op een klip doodgemaak. Net Jotam, die jongste seun van Jerubbaäl, het oorgebly, want hy het weggekruip. Toe het al die burgers van Sigem en al die mense van Millo bymekaargekom en vir Abimelek gaan koning maak by die groot boom langs die klippilaar van Sigem. Dit is aan Jotam vertel en hy het op Gerisimberg gaan staan en vir hulle geskree: “Luister na my, leiers van Sigem, dan sal God na julle luister. “Die bome het op 'n dag gegaan om vir hulle 'n koning te salf. Hulle het vir die olyfboom gesê: ‘Wees koning oor ons!’ Maar die olyfboom het vir hulle gesê: ‘Moet ek my olie prysgee waarmee eer betoon word aan gode en mense? Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’ “Toe sê die bome vir die vyeboom: ‘Kom, wees jý koning oor ons!’ Maar die vyeboom sê vir hulle: ‘Moet ek my lekker soet vrugte prysgee? Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’ “Toe sê die bome vir die wingerdstok: ‘Kom, wees jý koning oor ons!’ Maar die wingerdstok sê vir hulle: ‘Moet ek my wyn prysgee, my wyn wat gode en mense bly maak? Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’ “Toe sê al die bome vir die doringbos: ‘Kom, wees jý koning oor ons.’ En die doringbos sê vir hulle: ‘As julle my werklik wil salf sodat ek koning oor julle kan wees, moet julle almal in my skaduwee kom skuil. As julle dit nie kan doen nie, sal daar 'n vuur uitgaan uit die doringbos uit en dit sal die seders van die Libanon verteer.’ “Dink julle miskien julle het opreg en in goeie trou gehandel toe julle vir Abimelek koning gemaak het? Het julle reg opgetree teenoor Jerubbaäl en sy huis? Het julle hom behandel volgens wat hy verdien? My pa het in julle belang gaan oorlog maak, hy het sy lewe openlik in gevaar gestel, hy het julle uit die mag van die Midianiete bevry. Maar julle het vandag in opstand gekom teen hom en sy huis, en julle het sy sewentig seuns almal op een klip doodgemaak. En toe het julle vir Abimelek, die seun van sy slavin, koning gemaak oor die burgers van Sigem net omdat hy julle familie is. As julle vandag opreg en in goeie trou gehandel het teenoor Jerubbaäl en sy huis, moet julle bly wees oor Abimelek en hy moet bly wees oor julle. Maar as dit nie so is nie, moet daar 'n vuur uit Abimelek uitgaan en die burgers van Sigem en die mense van Millo verteer. Daar moet ook 'n vuur uit die burgers van Sigem en die mense van Millo uitgaan en vir Abimelek verteer.” Jotam het toe gevlug. Hy het na Beër toe padgegee en daar gaan woon omdat hy bang was vir sy broer Abimelek.
RIGTERS 9:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Abimeleg, seun van Jerubbaäl, het na Sigem gegaan, na sy moeder se broers toe, en met hulle en die hele familiegroep aan sy moeder se kant, gepraat. Hy het gesê: “Sê tog ten aanhore van al die burgers van Sigem, ‘Wat is vir julle beter, dat sewentig man, al die seuns van Jerubbaäl, oor julle heers, of dat een man oor julle heers? En onthou dat ek julle eie bloedfamilie is.’ ” Toe sy moeder se broers dit alles namens hom gesê het ten aanhore van al die burgers van Sigem, het hulle Abimeleg ondersteun, want hulle het gesê: “Hy is ons broer.” Hulle gee toe vir hom sewentig sikkel silwer uit die tempel van Baäl-Berit. Daarmee het Abimeleg vir hom ongedissiplineerde, roekelose manne gehuur wat sy volgelinge geword het. Hy het na sy vader se huis, na Ofra, gegaan en sy broers, die seuns van Jerubbaäl, vermoor – sewentig man op een klip. Maar Jotam, die jongste seun van Jerubbaäl, het oorgebly, want hy het weggekruip. Al die burgers van Sigem en Bet-Millo het byeengekom; hulle het gegaan en Abimeleg koning gemaak by die akkerboom langs die gedenkteken wat in Sigem is. Toe hulle dit aan Jotam meedeel, het hy op die top van die berg Gerisim gaan staan en met 'n harde stem uitgeroep: “Luister na my, burgers van Sigem – dan sal God julle verhoor: “ Die bome het eenmaal gegaan om 'n koning oor hulle te salf. “Hulle sê toe vir die olyfboom, ‘Wees koning oor ons!’ “Maar die olyfboom sê vir hulle, ‘Moet ek my olie prysgee, waarvoor gode en mense my prys, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?’ “Die bome sê toe vir die vyeboom, ‘Kom jy, wees koning oor ons!’ “Maar die vyeboom sê vir hulle, ‘Moet ek my soetheid en my goeie opbrengs prysgee, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?’ “Die bome sê toe vir die wingerdstok, ‘Kom jy, wees koning oor ons!’ “Maar die wingerdstok sê vir hulle, ‘Moet ek my •nuwe wyn prysgee wat gode en mense verheug, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?’ “Oplaas sê al die bome toe vir die steekdoring, ‘Kom jy, wees koning oor ons!’ “Toe sê die steekdoring vir die bome, ‘As dit met eerlike bedoelings is dat julle my wil salf om koning oor julle te wees, kom skuil dan in my skaduwee. Maar as dit nie so is nie, sal vuur uitgaan vanuit die steekdoring en die seders van die Libanon verteer.’ “Daarom, as julle met eerlike bedoelings en in opregtheid opgetree het toe julle Abimeleg koning gemaak het, as julle goed gedoen het aan Jerubbaäl en sy huis, as julle teenoor hom opgetree het volgens wat hy verdien, julle vir wie my pa geveg en sy lewe op die spel geplaas het toe hy julle uit die hand van die Midianiete gered het, julle wat vandag opgestaan het teen die huis van my pa, en sy seuns vermoor het – sewentig man op een klip – en Abimeleg, die seun van sy slavin, koning gemaak het oor die burgers van Sigem omdat hy julle broer is; as julle vandag met eerlike bedoelings en in opregtheid opgetree het teenoor Jerubbaäl en sy huis, mag julle vreugde ervaar van Abimeleg en mag hy ook vreugde ervaar van julle. Maar as dit nie so is nie, sal vuur uitgaan vanuit Abimeleg en die burgers van Sigem en Bet-Millo verteer. En vuur sal uitgaan vanuit die burgers van Sigem en Bet-Millo en Abimeleg verteer.” Jotam het toe op die vlug geslaan, gemaak dat hy wegkom. Hy het na Beër gegaan en daar gebly, weg van sy broer Abimeleg.
RIGTERS 9:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Abiméleg, die seun van Jerubbaäl, het na Sigem gegaan na sy moeder se broers en met hulle gespreek en met die hele geslag van die huis van sy moeder se vader en gesê: Spreek tog voor die ore van al die manne van Sigem: Wat is beter vir julle, óf dat al die seuns van Jerubbaäl, wat tien en sestig is, oor julle sal regeer, óf dat een oor julle sal regeer? onthou ook dat Ek jou been en jou vlees is. En die broers van sy moeder het al hierdie woorde van hom gespreek voor die ore van al die manne van Sigem, en hulle hart was geneig om Abiméleg te volg; want hulle het gesê: Hy is ons broer. En hulle het hom tien en sestig sikkels silwer gegee uit die huis van Baäl-Berit, waarmee Abimeleg ydele en ligte mense gehuur het wat hom gevolg het. En hy het na die huis van sy vader in Ofra gegaan en sy broers, die seuns van Jerubbaäl, tien en sestig man, op een klip gedood; maar Jotam, die jongste seun van Jerubbaäl, het nog oorgebly; want hy het hom weggesteek. En al die manne van Sigem het bymekaargekom en die hele huis van Millo, en hulle het gegaan en Abimeleg koning gemaak by die vlakte van die gedenksteen wat in Sigem is. En toe hulle dit aan Jotam vertel, het hy gegaan en op die top van die berg Gerisim gaan staan en sy stem verhef en uitgeroep en vir hulle gesê: Luister na my, burgers van Sigem, dat God na julle kan luister. Die bome het op 'n tyd uitgegaan om 'n koning oor hulle te salf; en hulle sê vir die olyfboom: Heers oor ons. Maar die olyfboom sê vir hulle: Moet ek my vettigheid, waarmee hulle God en mense eer, verlaat en gaan om bo die bome bevorder te word? Toe sê die bome vir die vyeboom: Kom jy en heers oor ons. Maar die vyeboom sê vir hulle: Moet ek my soetigheid en my goeie vrugte verlaat en gaan om bo die bome te bevorder? Toe sê die bome vir die wingerdstok: Kom jy en heers oor ons. En die wingerdstok sê vir hulle: Moet ek my wyn, wat God en die mens vrolik maak, laat staan en gaan om bo die bome te bevorder? Toe sê al die bome vir die deurdoring: Kom jy en heers oor ons. Toe sê die doringbos vir die bome: As julle My waarlik as koning oor julle salf, kom dan en vertrou op my skaduwee; As julle dan nou waaragtig en opreg gehandel het deurdat julle Abimeleg koning gemaak het, en as julle goed gehandel het met Jerubbaäl en sy huis en aan hom gehandel het volgens wat sy hande verdien het; (Want my vader het vir jou geveg en sy lewe ver aangedurf en jou gered uit die hand van Mídian. En julle het vandag opgestaan teen die huis van my vader en sy seuns, tien en sestig man, op een klip gedood en Abimeleg, die seun van sy slavin, koning gemaak oor die manne van Sigem, omdat hy julle broer is;) As julle dan vandag waaragtig en opreg gehandel het met Jerubbaäl en sy huis, wees dan bly in Abimeleg, en laat hy ook in julle bly wees. Maar so nie, laat daar vuur uit Abimeleg uitgaan en die manne van Sigem en die huis van Millo verteer; en laat daar vuur uitgaan uit die manne van Sigem en uit die huis van Millo, en Abiméleg verteer. En Jotam het weggehardloop en gevlug en na Beer gegaan en daar gaan woon uit vrees vir Abiméleg, sy broer.
RIGTERS 9:1-21 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het Gideon se seun Abimelek by sy ma se familie in Sigem gaan kuier. Hy het vir hulle en vir almal wat daar by hulle was, gesê: “Vra ’n bietjie vir die mense van Sigem: Wat sou julle verkies? Om al 70 Gideon se seuns as leiers te hê of eerder net een? Maar onthou net, ek is julle bloedfamilie!” Abimelek se familie het toe met sy voorstel na die inwoners van Sigem toe gegaan. Hulle het besluit om hom te volg aangesien hy, soos hulle gesê het, “een van ons is”. Hulle het vir hom ongeveer een kilogram silwer uit Baäl-Berit se tempel gegee. Hy het dit gebruik om vir hom ’n klomp leeglêers te huur om sy volgelinge te wees. Hy is toe saam met hulle daar weg na sy pa se huis toe in Ofra. Daar het hy al 70 sy broers, almal Gideon se seuns, op een klip doodgemaak. Die enigste een wat oorgebly het, was Jotam, Gideon se jongste seun, want hy het weggekruip. Toe het al die inwoners van Sigem en Bet-Millo bymekaargekom by die groot eikeboom langs die klippilaar wat hulle aanbid het. Daar het hulle toe vir Abimelek as koning gekroon. Toe Jotam hiervan te hore kom, het hy op die berg Gerisim geklim en hard vir hulle geskree: “Luister na my, mense van Sigem, dan sal God dalk na julle luister! Op ’n keer het die bome bymekaargekom om vir hulle ’n koning te kies. Hulle het vir die olyfboom gesê: ‘Wees jy ons koning!’ Maar die olyfboom het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou olyfolie produseer, waarmee eer betoon word aan beide gode en mense, net om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’ Toe sê hulle vir die vyeboom: ‘Wees jy dan ons koning!’ Maar dié sê vir hulle: ‘Moet ek my lekker soet vrugte prysgee om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’ Toe sê hulle vir die wingerdstok: ‘Wees jy ons koning!’ Maar die wingerdstok sê vir hulle: ‘Moet ek my wyn prysgee, wat gode en mense gelukkig maak, net om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’ Uiteindelik het al die bome na die doringbos toe gedraai en gesê: ‘Wees jy dan ons koning!’ Die doringbos het geantwoord: ‘As julle my regtig as julle koning wil kroon, kom staan dan hier in my skaduwee. As julle dit nie wil doen nie, sal daar ’n vuur uit die doringbos uitgaan wat al die seders van die Libanon sal verbrand tot niks.’ “Dink julle julle was eerlik en opreg toe julle vir Abimelek koning gemaak het? Het julle Gideon en sy familie reg behandel? Het julle aan my pa die eer bewys wat hom toekom? My pa het ter wille van julle teen die Midianiete gaan veg en sy lewe in gevaar gestel sodat julle vry kon wees. Maar vandag het julle teen hom en sy familie in opstand gekom deur al 70 sy seuns op een klip dood te maak. Toe het julle vir Abimelek, die seun van sy slavin, koning gemaak oor die mense van Sigem, net omdat hy julle familielid is. Maar as julle vandag so verskriklik eerlik is teenoor Gideon en sy familie, moet julle mos goed voel daaroor dat Abimelek julle koning is. Boonop moet hy ook bly wees daaroor. Aan die ander kant, as julle nie eerlik is nie, mag dit dan gebeur dat Abimelek se leierskap soos ’n vuur sal wees wat die inwoners van Sigem en Bet-Millo sal verbrand. En mag die inwoners van Sigem en Bet-Millo deur hulle optrede vir Abimelek soos ’n vuur wees wat groot verwoesting saai.” Daarna het Jotam gevlug en in Beër gaan bly, omdat hy bang was sy broer Abimelek maak hom dood.
RIGTERS 9:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jerubbaäl se seun Abimelek het een keer sy ma se familie in Sigem gaan besoek. Hy sê toe vir sy ma se mense: “Kom ons vind uit by die mense van Sigem of hulle verkies om deur al 70 seuns van Jerubbaäl regeer te word, of liewer deur net een persoon. Onthou ’n bietjie dat ek van dieselfde vleis en bloed is as julle.” Sy ma se familie het toe die keuse aan die mense van Sigem gestel. Hulle het op Abimelek besluit. Hulle het gesê: “Hy is mos een van ons.” Hulle het vir hom sowat een kilogram silwer uit Baäl-Berit se tempel gegee. Abimelek het vir hom daarmee ’n klomp roekelose niksnutte gehuur om hom te volg. Hy is met hulle terug na sy pa se huis in Ofra. Daar het hy al 70 sy pa se seuns op een klip laat vermoor. Jerubbaäl se jongste seun, Jotam, het egter weggekruip en die moord oorleef. Die mense van Sigem en Millo het bymekaargekom en vir Abimelek koning gemaak by die groot eikeboom langs die klippilaar van Sigem. Jotam het hiervan gehoor. Hy het toe op die top van Gerisimberg gaan staan. Van daar af het hy vir hulle geskreeu: “Luister na my, mense van Sigem, dat God na julle kan luister. “Eendag het die bome besluit om vir hulle ’n koning te salf. Hulle het vir die olyfboom gesê: ‘Regeer oor ons!’ Maar die olyfboom het vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om die olyfolie te gee waarmee God en mens vereer word, net om oor die bome te regeer?’ “Toe sê die bome vir die vyeboom: ‘Kom word jy koning oor ons!’ Maar die vyeboom het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om my mooi soet vrugte te gee net om oor die bome te regeer?’ “Toe sê die bome vir die wingerdstok: ‘Kom word jy koning oor ons!’ Ook die wingerdstok het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om my wyn te gee wat God en mense se harte bly maak net om oor die bome te regeer?’ “Laaste vra al die bome toe vir die doringbos: ‘Kom jy, kom wees jy koning oor ons.’ En die doringbos sê vir hulle: ‘As julle my regtig wil salf as koning oor julle, moet julle in my skaduwee kom staan. As julle dit nie wil doen nie, sal daar vuur uit my dorings kom en die sederbome van die Libanon verteer.’ “Dink ’n bietjie na of julle eerbaar en in goeie trou opgetree het toe julle vir Abimelek koning gemaak het. Het julle reg gemaak met Jerubbaäl en sy nageslag? Het julle hom die eer gegee wat hom toekom? My pa het ter wille van julle gaan oorlog maak. Hy het sy lewe vir julle gewaag. Hy het julle van die Midianiete bevry. Julle het vandag met sy nageslag swaarde gekruis. Julle het sy 70 seuns almal op een klip doodgemaak. Mense van Sigem, julle het sy slavin se seun Abimelek koning gaan maak, net omdat hy julle familie is. As julle vandag eerbaar en opreg teenoor Jerubbaäl en sy huis opgetree het, mag julle dan bly wees oor Abimelek en mag hy vreugde in julle vind. As dit nie die geval is nie, mag daar dan ’n vuur uit Abimelek kom wat die mense van Sigem en die mense van Millo verteer. Mag daar dan ook ’n vuur uit die mense van Sigem en die mense van Millo kom wat Abimelek verteer.” Jotam het toe gevlug en in Beër gaan bly. Hy was bang vir sy broer Abimelek.