Rigters 15:7-17

Rigters 15:7-17 AFR20

Simson het toe vir hulle gesê: “As dit is hoe julle optree, dan sal ek nie ophou voordat ek my op julle gewreek het nie.” Hy het hulle kort en klein geslaan – 'n groot slagting! Toe het hy afgegaan en in die rotsskeur by Etam gaan woon. Die Filistyne het opgetrek, in Juda kamp opgeslaan en hulle troepe in Legi ontplooi. Die manne van Juda het gevra: “Waarom het julle teen ons opgetrek?” Hulle het geantwoord: “Om Simson gevange te neem, daarom het ons opgetrek, om aan hom te doen wat hy aan ons gedoen het.” Drieduisend man uit Juda het toe afgegaan na die rotsskeur by Etam. Hulle het vir Simson gesê: “Weet jy dan nie dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat het jy ons nou aangedoen?” Maar hy het vir hulle gesê: “Wat hulle aan my gedoen het, het ek net so aan hulle terug gedoen.” Hulle sê toe vir hom: “Dit is om jou gevange te neem dat ons hierheen afgekom het; om jou in die hande van die Filistyne oor te gee.” Simson het vir hulle gesê: “Lê vir my 'n eed af dat julle my nie self sal aanval nie.” Hulle het hom geantwoord: “Nee, want ons gaan jou net goed vasbind en aan hulle oorhandig, maar ons sal jou beslis nie doodmaak nie.” Hulle het hom toe met twee nuwe toue vasgebind en hom uit die rotsskuiling opgevat na buite. Toe hy by Legi aankom, het die Filistyne hom juigend tegemoetgegaan. Maar die Gees van die HERE het van hom besit geneem, en die toue wat om sy voorarms was, het geword soos vlas wat vlam vat – die koorde het van sy hande af gesmelt. Hy kry toe die vars kakebeen van 'n donkie, steek sy hand uit, gryp dit vas en vel daarmee 'n duisend man neer. Simson sê toe: “Met die kakebeen van 'n donkie lê daar 'n hoop, twee hope. Met die kakebeen van 'n donkie het ek duisend man verslaan.” Toe hy klaar gepraat het, gooi hy die kakebeen neer en noem daardie plek Ramat-Legi.