Simson het vir hulle gesê: “As dít is wat julle doen, sal ek nie ophou voordat ek my op julle gewreek het nie.” Hy het hulle verwoed aangeval en 'n groot slagting aangerig. Toe het hy vertrek en in die rotskloof by Etam gaan woon. Die Filistyne het in Juda gaan kamp opslaan en 'n strooptog teen Legi uitgevoer. Toe vra die mense van Juda: “Waarom het julle teen ons opgetrek?” en die Filistyne antwoord: “Om vir Simson te vang en met hom te doen wat hy met ons gedoen het.” Toe gaan drie duisend man van Juda na die rotskloof toe by Etam en hulle vra vir Simson: “Het jy nie besef dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat het jy ons nou aangedoen?” Hy het hulle geantwoord: “Ek het die Filistyne net aangedoen wat hulle mý aangedoen het.” Die manne van Juda sê toe vir hom: “Ons het jou kom boei om jou aan die Filistyne uit te lewer.” Simson het vir hulle gesê: “Lê eers vir my 'n eed af dat julle my nie om die lewe sal bring nie.” Hulle het hom beloof: “Goed! Ons sal jou nie doodmaak nie. Ons sal jou net boei en aan die Filistyne uitlewer.” Die manne het hom toe met twee nuwe toue vasgebind en hom van die rots af weggevat. Toe hy in Legi kom, het die Filistyne hard geskreeu en op hom afgestorm. Maar die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak, en die toue om sy arms was soos garingdraadjies wat brand, en sy boeie het van sy hande afgeval. Toe kry Simson die vars kakebeen van 'n donkie in die hande en hy vat dit vas en slaan 'n duisend Filistyne daarmee dood. Toe sê hy: “Met die kakebeen van 'n donkie het ek 'n hopie van hulle gemaak, met die kakebeen van 'n donkie het ek duisend man doodgeslaan.” Toe hy dit gesê het, het hy die kakebeen weggegooi en die plek Kakebeenshoogte genoem.
Lees RIGTERS 15
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: RIGTERS 15:7-17
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's