“Die regverdige gaan ten gronde, maar niemand neem dit ter harte nie. Getroue mense sterf, en daar is niemand wat insien dat dit as gevolg van onheil is dat die regverdige sterf nie – hy gaan die vrede binne. Hulle sal op hulle beddens rus, elkeen van hulle wat sy reguit pad loop. “Maar julle, kom nader hierheen, nakomelinge van haar wat voortekens lees, nageslag van haar wat egbreuk pleeg en gehoereer het! Met wie vermaak julle julleself? Oor wie het julle julle monde vol? Vir wie steek julle tong uit? Is julle nie 'n klomp oortreders, 'n geslag leuenaars nie – julle wat brand van begeerte by die terebintbome, onder elke skaduryke boom, wat kinders slag in die spruite, onder oorhangende rotse? By die gladde klippe in die spruit lê jou lotsbestemming; hulle, ja, hulle bepaal mos jou lot! Ook vir hulle giet jy •drankoffers uit, laat jy •graanoffers in rook opstyg. Sou Ek sulke mense jammer kry? Op 'n hoë, verhewe berg het jy jou bed geplaas, selfs daarheen opgeklim om •maaltydoffers te bring. Agter die deur en kosyn het jy jou simbole aangebring. Ja, van My af het jy weggegaan en opgeklim; jy het jou lêplek breed gemaak, en jouself gesny as jy sonder afgode was. Jy was lief vir hulle bed, na naaktheid het jy gestaar. Jy het voor die koning gebuig met olie; jy het baie geurige salf aangebied. Jy het jou boodskappers na ver plekke gestuur, hulle laat afdaal tot in die •doderyk. Van jou baie reise het jy moeg geword, maar jy het nie gesê, ‘Dit is tevergeefs’ nie. Lewenskrag het jy gevind; daarom het jy nie swak geword nie. “Vir wie was jy bevrees en het jy ontsag gekoester, dat jy telkens lieg, en nie aan My gedink het nie, My nie ernstig opgeneem het nie? Is dit omdat Ek stilgebly het, en dit vir 'n lang tyd? Vir My het jy nie ontsag gehad nie. Ek self gaan getuienis aflê oor jou geregtigheid. En jou dade – dit sal vir jou van geen nut wees nie.
Lees Jesaja 57
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Jesaja 57:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's