Jesaja 5:1-7

Jesaja 5:1-7 AFR20

Ek wil oor my geliefde sing: my geliefde se lied oor sy wingerd. My geliefde het 'n wingerd gehad op 'n vrugbare heuwel. Hy het dit bewerk, die klippe uitgehaal en edeldruiwe daar geplant. Hy het 'n toring gebou in die middel daarvan, en ook 'n giskuip daarin uitgekap. Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe gelewer. “ Daarom, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, besleg tog tussen My en my wingerd. Wat moet nog aan my wingerd gedoen word wat Ek nie reeds daarin gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe gelewer? Daarom wil Ek aan julle bekend maak wat Ek aan my wingerd gaan doen: Ek gaan sy doringheining verwyder, sodat dit bewei word. Ek gaan sy gepakte klipmuur afbreek, sodat dit 'n vertrapte plek word. Ek sal dit 'n verwoeste plek maak; dit sal nie gesnoei en nie geskoffel word nie. Doringstruike en onkruid sal opskiet, en aan die wolke sal Ek opdrag gee om nie 'n druppel daarop te laat reën nie.” Ja, die wingerd van die HERE, Heerser oor alle magte, is die huis van Israel; en die manne van Juda is die plante waarin Hy Hom verlustig. Hy het gewag op reg, maar kyk, daar was regskending, op geregtigheid, maar kyk, daar was hulpgeroep.