Luister na die woord van die HERE,
Israeliete,
want die HERE het 'n regsaak
teen die inwoners van die land:
“Omdat daar geen betroubaarheid,
geen troue liefde,
en geen kennis van God
in die land is nie,
het meineed en bedrog,
moord, diefstal
en egbreuk toegeneem,
en bloedbad volg op bloedbad.
Daarom verdor die land,
en kwyn almal weg wat daarin woon
saam met die diere van die veld
en die voëls van die hemel.
Selfs die visse in die waters
word bymekaargemaak.
“ Tog moet 'n mens nie aankla
en iemand teregwys nie,
want dit is jou mense met wie Ek
eintlik die stryd voer, priester.
Jy gaan vandag struikel;
ook profete sal vannag
saam met jou struikel,
en Ek gaan jou moeder laat omkom.
“ My volk kom om
weens 'n gebrek aan kennis.
Omdat jy die kennis verwerp het,
sal Ek jou verwerp,
sodat jy nie meer vir My
priesterdiens doen nie;
omdat jy die wet van jou God
vergeet het,
sal Ek ook jou seuns vergeet.
“ Hoe meer hulle geword het,
hoe meer het hulle teen My gesondig.
Hulle aansien sal Ek in skande verander.
Op die sonde van my volk teer hulle,
na hulle sondeskuld hunker hulle.
Dit sal met die priesters gaan
soos met die volk:
Ek gaan van hulle rekenskap eis
oor hulle optrede,
hulle vergeld vir hulle dade.
Hulle eet,
maar sal nie versadig word nie;
hulle hoereer,
maar sal nie meer word nie.
Omdat hulle die HERE verlaat het
om hulle toe te wy aan hoerery;
en omdat wyn en •nuwe wyn
hulle verstand benewel,
doen my volk navraag by 'n stuk hout;
sy wandelstok moet vir hom inligting gee.
Omdat 'n gees van hoerery
hulle laat dwaal,
hoereer hulle weg van hulle God af.
Op die bergtoppe slag hulle
en op die heuwels offer hulle,
onder eikebome, storaksbome
en terebintbome,
omdat daar goeie skaduwee is.
Daarom hoereer julle dogters,
en pleeg julle skoondogters egbreuk.
Ek sal nie julle dogters
tot verantwoording roep
omdat hulle hoereer,
of julle skoondogters
omdat hulle egbreuk pleeg nie,
want die priesters
gaan eenkant toe met prostitute,
en saam met tempelprostitute
slag hulle offers.
'n Volk wat nie begrip toon nie,
gaan ten gronde.