HOSEA 4:1-14

HOSEA 4:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Israeliete, julle moet luister na wat die Here sê. Die Here sê die mense wat in die land woon, doen verkeerd. Hulle doen nie wat hulle belowe het nie. Hulle is nie lief vir die Here nie, hulle wil nie naby Hom wees nie. Hulle vervloek mekaar, hulle lieg, hulle maak ander mense dood, hulle steel, hulle slaap by ander mans se vroue, hulle hou aan om mense te vermoor. Daarom is dit so droog in die land. Almal wat in die land woon, kry swaar. Die diere en die voëls vrek, ook die visse in die see. Die Here sê: “ Priester, Ek praat met jou. Jou mense sê dit is jy wat verkeerd doen, nie iemand anders nie. Jy sal vandag sterf, en die profeet sal saam met jou sterf. Ek sal jou ma ook doodmaak. “My volk sterf omdat hulle nie naby My wil wees nie. Priester, dit was nie vir jou belangrik om naby My te wees nie. Daarom is dit nie vir My belangrik dat jy my priester is nie. Jy wou nie doen wat jou God wil hê nie. Daarom wil Ek nie hê jou seuns moet priesters wees nie. “Die priesters het baie geword, en hulle doen baie sonde teen My. Hulle dink hulle is baie belangrik, maar Ek sal hulle verneder. Priesters, julle is bly wanneer my volk baie sonde doen, want dan bring die mense baie sonde-offers, en dan kan julle daarvan eet. “Dit sal met die priesters gaan soos met die volk. Ek sal elkeen straf wat verkeerde dinge doen. Hulle sal eet, maar hulle sal honger bly, hulle sal by baie vroue slaap, maar hulle sal nie kinders kry nie. Hoekom? “Want hulle het opgehou om die Here te dien. Die priesters wil niks anders doen nie, hulle wil net by baie vroue slaap en baie wyn drink. My volk het ook lief geword vir wyn. Daarom vra hulle vir 'n stuk hout wat hulle moet doen. Hulle dink hulle kieries sal vir hulle sê wat hulle wil weet. Hulle doen dit omdat hulle graag ander gode wil dien, hulle is ontrou aan die Here. My volk offer op die berge en op die heuwels, hulle offer onder die groot bome, want die bome het baie skaduwee. Daarom slaap julle dogters en skoondogters by ander mans. “Maar Ek sal hulle nie straf nie, want hulle mans slaap by die tempel-prostitute en hulle offer saam met die tempel-prostitute. 'n Volk wat nie sy verstand gebruik nie, sal sterf.

HOSEA 4:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

HOOR die woord van die HERE, o kinders van Israel! Want die HERE het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie. Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak. Daarom treur die land, en alles wat daarop woon, kwyn weg: die wilde diere van die veld en die voëls van die hemel, ja, ook die visse van die see kom om. Laat net niemand met ons twis of ons berispe nie! Nogtans is jou volk soos die wat met die priester twis! Daarom sal jy struikel bedags, en ook die profeet saam met jou struikel in die nag, en Ek sal jou moeder te gronde laat gaan. My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet. Hoe meer hulle vermenigvuldig het, des te meer het hulle teen My gesondig. Ek sal hulle heerlikheid in skande verander. Hulle lewe van die sondoffer van my volk, en na dié se ongeregtigheid verlang hulle siel. Daarom sal dit met die priester gaan soos met die volk — Ek sal by hom besoeking doen oor sy weë en hom vergeld na sy dade. Dan sal hulle eet, maar nie versadig word nie; hulle sal hoereer, maar nie uitbreek in menigte nie; want hulle het nagelaat om die HERE te vereer. Hoerery en wyn en mos neem die hart weg. My volk raadpleeg sy hout, en sy staf moet hom die inligting gee; want 'n gees van hoerery het hulle verlei, en deur hulle hoerery het hulle van hul God afvallig geword. Hulle offer op die bergtoppe en laat rook opgaan op die heuwels, onder die eike en populiere en terpentynbome, omdat die skaduwee daar goed is. Daarom pleeg julle dogters hoerery, en julle skoondogters bedryf owerspel. Ek sal oor julle dogters geen besoeking doen omdat hulle hoereer nie, en ook nie oor julle skoondogters omdat hulle owerspel bedryf nie; want die manne sonder hulleself af met die hoere en offer met die tempelhoere. So kom dan die volk wat geen verstand het nie, tot 'n val.

HOSEA 4:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Israeliete, luister na die woord van die Here, want Hy kla die inwoners van die land aan: Omdat trou, liefde en toewyding aan die wil van God in die land ontbreek, het vervloeking, valsheid, moord, diefstal en egbreuk hand oor hand toegeneem en is die vergieting van onskuldige bloed aan die orde van die dag. Dit is waarom die land verdor en al die inwoners van dors versmag saam met die wilde diere en die voëls, en waarom selfs die visse vrek. Niemand word ligtelik aangekla en tot verantwoording geroep nie, maar Ek gaan jóú mense aankla, Priester! Jy gaan vandag nog tot 'n val kom en die profeet gaan vannag nog saam met jou tot 'n val kom en Ek gaan selfs jou moeder om die lewe bring. My volk gaan onder omdat hulle nie aan My toegewy is nie. Omdat jy jou taak om hulle aan My toe te wy, verwerp het, verwerp Ek jou as my priester. Omdat jy die wil van jou God verontagsaam het, verontagsaam Ek die priesters wat onder jou dien. Hoe meer priesters daar is, hoe meer sondig hulle teen My. Ek sal die aansien wat hulle geniet, in vernedering verander. Hulle teer op die sonde van my volk. Hulle smag daarna dat die volk nog meer moet sondig. Maar dit sal met die priesters gaan soos dit nou met die volk gaan. Ek sal die priesters straf vir hulle optrede. Wat hulle probeer doen, sal Ek in die teendeel verander: as hulle offervleis eet, sal hulle honger bly, en as hulle aan tempelprostitusie deelneem, sal hulle nie kinders hê nie. Omdat die priesters die Here verlaat het om hulle toe te lê op tempelprostitusie, en omdat wyn en drank hulle lewe in beslag neem, soek my volk leiding by 'n stuk hout, verwag my volk dat 'n stok dinge aan hom bekend sal maak. Omdat 'n hoergees die priesters beetgepak het en hulle aan hulle God ontrou geword het, bring hulle offers op die bergtoppe en offer hulle op die heuwels onder al die groot groen bome waar daar lekker skaduwee is. Dit is waarom julle dogters hoereer en julle skoondogters egbreuk pleeg. Ek gaan nie julle dogters straf omdat hulle hoereer nie en julle skoondogters omdat hulle egbreuk pleeg nie, want daardie priesters is besig om met die hoere af te paar en saam met die tempelprostitute te offer! Maar dié wat nie op my waarskuwing ag slaan nie, sal vernietig word.

HOSEA 4:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Luister na die woord van die HERE, Israeliete, want die HERE het 'n regsaak teen die inwoners van die land: “Omdat daar geen betroubaarheid, geen troue liefde, en geen kennis van God in die land is nie, het meineed en bedrog, moord, diefstal en egbreuk toegeneem, en bloedbad volg op bloedbad. Daarom verdor die land, en kwyn almal weg wat daarin woon saam met die diere van die veld en die voëls van die hemel. Selfs die visse in die waters word bymekaargemaak. “ Tog moet 'n mens nie aankla en iemand teregwys nie, want dit is jou mense met wie Ek eintlik die stryd voer, priester. Jy gaan vandag struikel; ook profete sal vannag saam met jou struikel, en Ek gaan jou moeder laat omkom. “ My volk kom om weens 'n gebrek aan kennis. Omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy nie meer vir My priesterdiens doen nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou seuns vergeet. “ Hoe meer hulle geword het, hoe meer het hulle teen My gesondig. Hulle aansien sal Ek in skande verander. Op die sonde van my volk teer hulle, na hulle sondeskuld hunker hulle. Dit sal met die priesters gaan soos met die volk: Ek gaan van hulle rekenskap eis oor hulle optrede, hulle vergeld vir hulle dade. Hulle eet, maar sal nie versadig word nie; hulle hoereer, maar sal nie meer word nie. Omdat hulle die HERE verlaat het om hulle toe te wy aan hoerery; en omdat wyn en •nuwe wyn hulle verstand benewel, doen my volk navraag by 'n stuk hout; sy wandelstok moet vir hom inligting gee. Omdat 'n gees van hoerery hulle laat dwaal, hoereer hulle weg van hulle God af. Op die bergtoppe slag hulle en op die heuwels offer hulle, onder eikebome, storaksbome en terebintbome, omdat daar goeie skaduwee is. Daarom hoereer julle dogters, en pleeg julle skoondogters egbreuk. Ek sal nie julle dogters tot verantwoording roep omdat hulle hoereer, of julle skoondogters omdat hulle egbreuk pleeg nie, want die priesters gaan eenkant toe met prostitute, en saam met tempelprostitute slag hulle offers. 'n Volk wat nie begrip toon nie, gaan ten gronde.

HOSEA 4:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Hoor die woord van die HERE, kinders van Israel, want die HERE het 'n twis met die inwoners van die land, omdat daar geen waarheid en geen barmhartigheid en geen kennis van God in die land is nie. Deur te vloek en te lieg en dood te maak en te steel en egbreuk te pleeg, breek hulle uit, en bloed raak bloed. Daarom sal die land treur, en elkeen wat daarin woon, sal kwyn, saam met die diere van die veld en met die voëls van die hemel; ja, ook die visse van die see sal weggeneem word. Maar laat niemand twis of 'n ander teregwys nie, want u volk is soos die wat met die priester twis. Daarom sal jy bedags val, en ook die profeet sal in die nag saam met jou val, en Ek sal jou moeder vernietig. My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy kennis verwerp het, sal Ek jou ook verwerp, sodat jy vir My geen priester sal wees nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet. Soos hulle vermeerder het, so het hulle teen My gesondig; daarom sal Ek hulle eer in skande verander. Hulle eet die sonde van my volk op, en hulle het hulle hart op hulle ongeregtigheid gerig. En soos mense sal daar wees soos priesters, en Ek sal hulle besoeking doen oor hulle weë en hulle vergelde vir hulle handelinge. Want hulle sal eet en nie genoeg hê nie; hulle sal hoereer en nie vermeerder nie, omdat hulle opgehou het om op die HERE te ag. Hoerery en wyn en nuwe wyn neem die hart weg. My volk vra raad by hulle voorraad, en hulle staf vertel hulle, want die gees van hoererye het hulle laat dwaal, en hulle het onder hulle God gehoereer. Hulle offer op die toppe van die berge en laat reukwerk op die heuwels laat opgaan, onder eikebome en populiere en elms, want die skaduwee daarvan is goed; daarom sal julle dogters hoereer en julle huweliksmaats owerspel pleeg. Ek sal jou dogters nie besoek as hulle hoereer nie, en jou huweliksmaats as hulle owerspel pleeg nie; want hulle word geskei met hoere en hulle offer saam met hoere; daarom sal die volk wat nie verstaan nie, val.

HOSEA 4:1-14 Die Boodskap (DB)

Hoor wat sê die Here oor Israel: “Die Here maak ’n hofsaak teen die mense wat in die land bly. Hy kla hulle aan dat daar niemand in die land is wat nog getrou is aan God en by Hom bly nie. Hulle ken nie meer die Here nie. Deur die hele land word daar gevloek en bedrieg, gemoor en gesteel. Hulle mans en vroue verneuk mekaar. Hulle gaan mekaar te lyf. Dis die een bloedbad op die ander. Dit het droogte in die land gebring. Almal in die land gaan dood van die dors. Die wilde diere in die veld, die voëls in die lug en selfs die visse in die see gaan almal dood.” “Moenie die volk beskuldig nie. Moenie aanklagte maak teen die volk nie. Jy moet eerder ’n saak maak teen die man wat by God se huis die offers bring. Hy maak foute in die dag. Hy en die man wat God se boodskap bring, maak verkeerde besluite in die nag. Ek sal sy familie saam met hom laat doodgaan. “My volk boer agteruit omdat hulle My nie meer ken nie. Die man by God se huis is die oorsaak daarvan. Jy moet die pad vir die volk wys, maar jy het nie belanggestel om hulle van My te leer nie. Ek stel daarom ook nie verder belang dat jy vir My moet werk nie. Jy het vergeet om jou volk te leer wat die Here wil hê. Daarom gaan Ek ook vergeet van jou nageslag wat ná jou die werk moet voortsit. Jou nageslag het al meer geword. Daar het al meer mense gekom wat vir God moet werk. Maar soos hulle al meer geword het, het die mense wat nie na My wil luister nie, ook al meer geword. Mense het gedink dat julle belangrik is. Ek gaan dit verander. Hulle gaan in die toekoms niks van julle dink nie. “Die mans wat die offers bring, kry voordeel uit die offers wat my volk bring om vir hulle sonde te betaal. Hulle wens selfs dat die volk nog meer verkeerde dinge moet doen. Hoe meer sonde die volk doen, hoe meer moet hulle offers vir die Here bring. Omdat die priesters ’n deel van die offer kry om te eet, beteken meer offers vir hulle meer kos. Die mans wat die offers bring, is maar net soos die volk. Hulle doen maar net soveel sonde. Ek sal hulle straf vir wat hulle doen. Hulle oortredings gaan op hulle eie kop terugkom. Al eet hulle hulle knuppeldik aan die vleis wat geoffer word, sal hulle nooit genoeg kry nie. Al slaap hulle by die vroue wat saam met hulle werk, sal hulle nooit kinders hê nie. Hulle het mos van die Here vergeet. Om met slegte vroue deurmekaar te raak en jou aan wyn en drank oor te gee, veroorsaak dat ’n mens niks meer raaksien nie. Dit laat jou vergeet van die Here en wat jy vir Hom moet doen.” “My volk verwag dat die stuk hout waarvan hulle ’n afgod gemaak het, vir hulle sal sê wat hulle moet doen. Hulle verwag dat ’n stok vir hulle die waarheid sal vertel. Hulle het losbandig geword. Hulle het soos ’n vrou geword wat agter mans aanloop. Hulle het die Here heeltemal vergeet. Hulle bring offers bo-op die berge. Hulle verbrand hulle offers op die heuwels onder die digte skaduwee van al die groen bome. Julle dogters het prostitute geword wat by die offerplekke werk. Julle skoondogters het agter vreemde mans begin aanloop. Ek sal nie julle dogters en skoondogters straf vir wat hulle doen nie, want hulle volg maar net die priesters se slegte voorbeeld. Die mans wat die offers bring, gaan slaap by die vroue wat saam met hulle werk. Hulle bring saam met die vroue offers vir die afgode. ’n Volk wat nie meer mooi dink wat hy doen nie, het homself verraai.

HOSEA 4:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Volk van Israel, luister na die woord van die HERE! Die HERE het ’n regsaak teen die inwoners van die land. Hy sê: “Daar is geen getrouheid, goedheid of ’n intieme verhouding met God in julle land nie. Julle vloek en lieg, maak dood en steel, en pleeg egbreuk. Oral is daar geweld en bloedvergieting. Dis waarom die hele land verskrompel en kwyn van dors saam met al die inwoners, wilde diere en voëls. Selfs die visse beswyk. “Moenie julle vinger na iemand anders toe wys nie. Moenie die skuld op iemand anders pak nie! Die klag wat Ek lê, is teen jóú, o priester! Daarom sal jy helder oordag struikel, en die profeet saam met jou in die nag. Boonop sal Ek jou ma vernietig, o Israel. My volk word verwoes omdat hulle My nie ken nie. Omdat jyself dié kennis verwerp het, verwerp Ek jou as my priester. Omdat jy die voorskrifte van jou God vergeet het, sal Ek jou kinders vergeet. Hoe meer priesters daar is, hoe meer sondig hulle teen My. Ek sal hulle aansien in skande verander. “Die priesters verryk hulleself wanneer die mense hulle sonde-offers na hulle toe bring. Daarom is die priesters bly wanneer die mense sondig! Soos dit met die priesters gaan, so sal dit ook met die mense gaan: omdat die priesters sondig, sondig die mense ook. Daarom sal Ek sowel priesters as mense vergeld vir hulle bose dade. Hulle sal eet, maar nog honger bly. Hulle sal egbreuk pleeg, maar geen kinders hê nie omdat hulle die HERE verlaat het om ander gode te dien. “Prostitusie, wyn en drank het my volk se denkvermoë verdof. Hulle vra ’n stuk hout om raad! Hulle dink ’n stok kan hulle adviseer! ’n Gees van losbandigheid, ’n hunkering na die afgode het hulle dwaas gemaak. Hulle het soos prostitute opgetree deur ander gode te dien. Hulle bring offers aan die afgode op die bergtoppe. Hulle bring wierookoffers op die heuwels en offer in die koel skadu van eike, populiere en ander groen bome. “Dis waarom julle dogters prostitute geword het, en julle skoondogters egbreuk pleeg. Sal Ek nie julle dogters straf omdat hulle prostitute is en julle skoondogters omdat hulle egbreuk pleeg nie? Sekerlik sal Ek dit doen, want julle mans doen dieselfde deur met tempelprostitute te sondig. O dwase mense! So bewerk mense sonder verstand hulle eie ondergang.