Hosea 4:1-14

Hosea 4:1-14 AFR20

Luister na die woord van die HERE, Israeliete, want die HERE het 'n regsaak teen die inwoners van die land: “Omdat daar geen betroubaarheid, geen troue liefde, en geen kennis van God in die land is nie, het meineed en bedrog, moord, diefstal en egbreuk toegeneem, en bloedbad volg op bloedbad. Daarom verdor die land, en kwyn almal weg wat daarin woon saam met die diere van die veld en die voëls van die hemel. Selfs die visse in die waters word bymekaargemaak. “ Tog moet 'n mens nie aankla en iemand teregwys nie, want dit is jou mense met wie Ek eintlik die stryd voer, priester. Jy gaan vandag struikel; ook profete sal vannag saam met jou struikel, en Ek gaan jou moeder laat omkom. “ My volk kom om weens 'n gebrek aan kennis. Omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy nie meer vir My priesterdiens doen nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou seuns vergeet. “ Hoe meer hulle geword het, hoe meer het hulle teen My gesondig. Hulle aansien sal Ek in skande verander. Op die sonde van my volk teer hulle, na hulle sondeskuld hunker hulle. Dit sal met die priesters gaan soos met die volk: Ek gaan van hulle rekenskap eis oor hulle optrede, hulle vergeld vir hulle dade. Hulle eet, maar sal nie versadig word nie; hulle hoereer, maar sal nie meer word nie. Omdat hulle die HERE verlaat het om hulle toe te wy aan hoerery; en omdat wyn en •nuwe wyn hulle verstand benewel, doen my volk navraag by 'n stuk hout; sy wandelstok moet vir hom inligting gee. Omdat 'n gees van hoerery hulle laat dwaal, hoereer hulle weg van hulle God af. Op die bergtoppe slag hulle en op die heuwels offer hulle, onder eikebome, storaksbome en terebintbome, omdat daar goeie skaduwee is. Daarom hoereer julle dogters, en pleeg julle skoondogters egbreuk. Ek sal nie julle dogters tot verantwoording roep omdat hulle hoereer, of julle skoondogters omdat hulle egbreuk pleeg nie, want die priesters gaan eenkant toe met prostitute, en saam met tempelprostitute slag hulle offers. 'n Volk wat nie begrip toon nie, gaan ten gronde.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid